Twee kenners in die bemarkings-, mode- en sosialemediabedryf deel hul 6 gunsteling straatstyl-modetrends wat hul eerstehands by Parys se Modeweek raakgesien het. Hier is mode-inspirasie direk vanaf Parys se strate, ons hoop dit inspireer jou volgende sjiek uitrusting! Saamgestel deur Justine Kroes
11/04/2025
Parys, tydens modeweek;
Mede-stigters en eienaars van Sinnamon PR & Communications Gina Mosley-Groenewald en Alexia Cimato-Jelley het beide jare gelede Parys besoek maar met hulle onlangse besoek aan Parys tydens die modeweek was albei dit eens, “die gevoel, die vibe, die strate en liggies van Parys skitter anders tydens Parys se modeweek”.
“Beide ek en Alexia is enorme modeliefhebbers, en hierdie was beslis ’n droomervaring. Mode was natuurlik die rede vir ons besoek, ons is uitgenooi om die Balmain A/W’25 modevertoning by te woon, daarom kon ons Parys tydens die modeweek in al sy glorie behoorlik ervaar” vertel Gina.
“Dit was so lekker om te sien hoe sosialemedia-bekendes in ware “street style” mode afgeneem word deur fotograwe. Dit was ook ’n spesiale ervaring om al die mode-gefokusde aktiverings (activations) en mode-“pop-ups” te sien en ervaar”.
“’n Oomblik wat ons nie vinnig sal vergeet nie, een oomblik het ons nog in Parys rondgerits en die volgende oomblik heeltemal per toeval by een van die heel grootste modevertonings, Dior, opgeëindig. Dit was ook ongelooflik om te ervaar hoe hierdie oomblikke binne ’n paar uur sosiale media omtrent oorgeneem en oorheers het met die wete dat ons net daar was!” verduidelik Gina

“Parys is immers die woonplek van die heel grootste modehuise en ontwerpers ter wêreld, en is reeds ’n mode-hub, maar tydens Parys se modeweek voel als ekstra sprankelend en spesiaal.” Gina Mosley-Groenewald Sinnamon PR
6 Straatstyl modetrends by die Parys Modeweek
Gina en Alexia deel van die grootste straatstyl modetrends tydens die Parys Modeweek.
1. Leer
Gina deel; “Leer was werklik oral te sien. Hierdie baie gewilde leer-trend was ’n gunsteling vir beide Alexia en vir myself. Ek hou veral van die leer “bomber”-styl baadjies.”


2. Manlike silhoeëtte en pakke
Gina sê “Nog ’n baie duidelike modetrend wat ons raakgesien het was die manlike-silhoeëtstyl pakke. Suiting en pakke is al ’n geruime tydjie modenuus, maar hierdie seisoen is die style beslis meer gesien in oogroot/oversized silhoeëtte.”



3. Deursigtig
“Die sheer of deursigtige modetrend was een wat ons ook baie raakgesien het. Spesifiek die langer lengte deursigtige T-hemde, hulle was volop en oral-oor te sien”, verduidelik Gina
Stylvol se, op deursigtige bloese, rompe en rokke is tans groot nuus, hier is inspirasie van straatystyl fotograaf @despi_naka op Instagram:



4. Uniek nes jy
“Wat ’n ervaring om al die straatstyluitrustings self te kon sien, maar een ding by Parys se modeweek was duidelik, mode gaan nie net oor die uitrusting nie. Mode is ouderdomloos, mode gaan oor self-uitdrukking, mode word hier omhels maar meer as dit, mode in Parys gaan daaroor om dit wat jy aanhet en dra ten volle te geniet.”

“Dit is die grootste modeles wat ek geleer het, hoe uniek en persoonlik elke persoon aantrek. Jy kan sien uitrustings word met noukeurige aandag en nadenke vir hulself bymekaar gesit. Die mense dra trends, ja maar hulle maak dit persoonlik en uniek om by hulself te pas. Jy kon sien hulle voel gemaklik en gelukkig in dit wat hulle aanhet. Klere wat hul geniet om te dra, en dit wys.”

“Niks in Parys word as buitengewoon of vreemd bestempel nie en elk se individuele styl word omhels en verwelkom, hoe verfrissend is dit nie”. Gina
5. Handsakbykomstighede
“Daar was ook baie “bag charms” en handsakbykomstighede te sien en op byna almal se handsakke vasgeknip.” Gina

Loer hier na ’n paar oulike handsakversierings en bykomstighede:
6. Oorgroot 60’s sonbrille
“Hierdie oorgroot sonbrilstyl het byna op elke straatstyl-bekende en sosiale media influencer se gesigte gepronk” vertel Gina

Stylvol sê: Van vierkantig en piepklein die vorige seisoen na groot en oorgroot die volgende seisoen, sonbrilmodes hou ons behoorlik op ons tone! Dit mag dalk die moeite werd wees om ’n paar te vind wat by jou gesigvorm en persoonlike styl pas. Loer hier na ’n paar opsies:
Gunsteling straatstyl modetrend?
Gina vertel “My gunsteling is beslis die masculine silhoeëtte en enigiets, enigiets(!) in leer. Die trekkrag na hierdie twee modetrends ervaar ek tans groot. Ek geniet dit op die oomblik om die oorgroot silhoeëtte te dra en te stileer, ek kan eenvoudig nie genoeg kry daarvan nie!”

“Op hierdie trip het ek vir myself ’n pragtige leer trenchstyljas gekoop en ek kan eenvoudig nie wag om dit hierdie winter te dra nie” Gina

Hier dra Gina een van haar gunsteling trends. ’n Oorgroot manlike styl blazer baadjie by ’n denim.

“Ek het in hierdie oorgroot leerbaadjie geleef tydens ons besoek aan Parys, beslis ’n stapelitem vir die huidige seisoen. My Jimmy Choo sonbril van EssilorLuxottica was natuurlik ook ’n gunsteling om oral saam te neem.”
Minder gunsteling trend?
Gina vertel; “Dit is eintlik onmoontlik om die vraag te beantwoord. Ek voel feitlik so geïnspireerd deur hoe die mense met soveel selfvertroue hierdie trends dra, stileer en aanpak!”
“Maar as ek nou een moet kies sal dit die gedrukte serp bykomstigheid trend wees – dit werk eenvoudig net nie vir my nie” Gina