Dis geen geheim – oorgroot handsakke is groot mode vir lente/somer 2022. Ja dit mag jou dalk ’n paar jaar neem om jou lipglans onder in die handsak te vind, maar “all for the sake of fashion?” Reg?! Ons deel ’n paar wenke om in gedagte te hou as jy dalk ’n oorgroot handsak wil koop en daarby 4 gunstelinge nou op ons wenslysie.
Deur Justine Kroes
16/08/2022
Kies so die perfekte oorgroot sak:
- Kies ’n styl en vorm wat die beste by jou lyfvorm en natuurlik stylpersoonlikheid pas. Een wat jy in jou hand kan dra of oor jou lyf kruis – een met struktuur of ’n sagte leer weergawe van die oorgroot sak. Die opsies vanjaar is eindeloos.
- Kies ’n oorgrootsak in ’n skakering wat jy werklik sal dra – ja helder skakerings is groot nuus – maar dit help nie jy koop ‘n lewensgroot oranje sak wat jy dalk eenkeer gaan dra nie. Onthou die grootte van die sak trek reeds aandag – ’n helder skakering sal nog meer aandag geniet.
- Kies ’n opsie wat jou begroting die beste pas – of dit nou ’n egte leer of ’n kunsleer weergawe is, daar is baie stylvolle opsies in verskeie pryskategorieë.
Stonecamp Leather The Tote (R2360)

Ons is groot aanhangers van Stonecamp se leersak ontwerpe (ons bossbags is alewig by ons!). Maar hierdie Leather tote lyk na ’n goeie opsie as jy op soek is na ’n sak wat vir nog jare lank sal hou. Kies ’n ontwerp wat die beste by jou styl sal pas – loer na die “rosegold bling” as jy ook nie verby sequins kan loop nie.
Ook beskikbaar in bruin, swart en room, ’n toffieskakering en nog meer. Groottes 32cm X 28cm x 13cm
Nina Skep The Forever Tote Handbag (R4900)

Nina Skep se sakke is drabare kuns. Elke sak en ontwerp meer uniek as die volgende een wat vrygestel word. Kies ’n helder een met fraiings (tans groot nuus!) of ’n pragtige swaanontwerp. Die detail en handwerk op die sakke is ongelooflik. Die sak het twee bandjies om onder jou arm of in jou hand te dra en daarby ook ’n langer bandjie sodat jy die kunsstuk gekruis oor jou lyf kan dra.
Glo ons, die leersak sal vir nog jare lank ’n gunsteling in jou klerekas wees.
Grootte 30cm x 52 cm x 13 cm
Loer hier https://ninaskep.co.za/product/forever-tote-handbag/
Mango Pocket Shopper Bag (R699)
Hierdie lyk na ’n lekker oorgroot sak – beskikbaar in 4 verskillende skakerings, die geel lyk vir ons heel aanloklik. Lekker groot en gemaklik en is gemaak uit “polyutherane” so nie leer wat jy sal jammer kry nie. Dit sal sal ook maklik skoon vee.

Perfekte sak van werk na swembad of strand! Die sak het nie ’n ritssluiter nie – wees net versigtig dat die sak nie omval en al jou geheime verklap nie!
Groottes 55cm (L) x 33cm (H) x 11cm (W)
Missibaba Rumpus Holdall Tote (R2500)
Hierdie sak is sommer ’n handsak, inkopiesak, strandsak, babasak – letterlik enigiets sak. Groot genoeg om enigiets te dra – super lig danksy die seil- en katoenmateriaal wat gebruik word. ’n “Dopamine Dressing” item – sal enige grou dag sommer dadelik opkikker – en daarby die mooi gestreepte voering binne die sak ook. Beskikbaar in verskeie gemengde kleurkombinasies – loer gerus hier.