Met die nuwe seisoen se modetrends verwelkom ons ‘n helder dosis van kleur, speelsheid en selfuitdrukking. Van helder primêre kleure en kleurblok kombinasies tot sagte pienk, polkakolle en die terugkeer van maksimalisme (meer-is-meer dopamien mode) is dit duidelik dat Lente/Somer 2026 se modetrends daarop fokus om weer pret met jou modekeuses te hê.
Hier is die groot tendense wat ons hierdie seisoen dophou, plus praktiese maniere om dit te dra. Deur Justine Kroes & Suzanne Kotze

1. Primêre kleure is terug

Rooi, groen, blou en geel is vanjaar gunsteling skakerings, met oranje en pers wat ook ’n duidelike gunsteling onder stylkenners is.
Dra dit van kop tot tone in een kleur of kies verskillende skakerings van dieselfde kleur vir ’n moderne monochromatiese voorkoms.
2. Kleurblok
As monokroom nie vir jou is nie, moet nie huiwer om te kleurbok nie, waar jy teenorgestelde helder skakerings by mekaar kombineer.

Kleurblokkeer is terug en hierdie keer hoef die kombinasies beslis nie subtiel te wees nie.
Dink aan rooi met pienk, blou met groen of geel met pers. Die geheim is om die kleure doelbewus saam te dra sodat die uitrusting steeds gebalanseerd voel.
3. Akwablou

Akwablou is een van die seisoen se groot moet-hê skakerings. Akwablou van helder turkoois en akwamaryn tot sagte seeskuim blou is hierdie seisoen groot.
Maar onthou: wanneer jy ’n nuwe kleur wil probeer hoef jy nie skielik alles in daardie kleur te koop nie. Toets eers die trend om vas te stel of jy werklik daarvan hou.

Begin klein deur die kleur as ’n aksent te gebruik. Bind ’n serp om jou middel, dra dit oor jou skouers of kies ’n handsak in akwablou.
Stylwenk: Onseker of akwablou jou pas? Moenie dit naby jou gesig dra nie. Liefs eerder ‘n broek or romp in die skakering.
4. Tamatierooi

‘n Skakering waaroor ons besonder opgewonde is. Tamatierooi is helder en maak ‘n stelling – dra dit met oortuiging and selfvertroue, anders dra die kleur vir jou.
Vir ’n dramatiese voorkoms, dra rooi van kop tot tone. Of probeer dit saam met van die seisoen se ander gunstelingkleure:
Rooi en lila of pers. Pienk en rooi. Bottergeel en rooi. Ysblou en rooi. Turkoois en rooi. Bruin en rooi. Olyfgroen en rooi. Grys en rooi.

Pop of red
Indien jy nog nie gereed voel vir ’n volledige rooi uitrusting nie, dra gerus jou rooi as ‘n “pop of red”. Voeg eenvoudig ’n rooi aksent by jou uitrusting, soos ’n groot rooi handsak, bofbal keps, rooi sandale of rooi visplakkies. Rooi geweefde jellieskoene is nog ‘n manier om hierdie kleur te dra.

5. Swart en wit

Die klassieke swart-en-wit kombinasie kry ’n vars voorkoms hierdie seisoen, veral in rokke met kontrasterende stikwerk of dramatiese swart-en-wit kleurblokke.
6. Bottergeel

Bottergeel bly ’n groot kleur vir die Lente/Somer. Die meeste van ons het waarskynlik reeds die afgelope jaar ’n item of twee in dié sagte bottergeel skakering gekoop.

Probeer dit gerus by ander kleure stileer soos bottergeel saam met pienk, donkerblou, bruin, blou, beige of rooi.
7. Blospienk

Pienk is hierdie seisoen nie Barbie-pienk nie. Dink eerder aan ’n sagte, gedempte, amper meer neutrale pienk met ’n effense rooskleurige ondertoon.
8. Strepe

Strepe is terug, en hierdie keer is dit die groot, kleurvolle strepe wat ons aandag trek.
Wanneer jy jou strepe uitrusting kies, let op die rigting van jou streep. Jou oog volg natuurlik die rigting van ’n patroon. Vertikale en diagonale strepe kan ’n verslankende effek hê, terwyl horisontale strepe ’n sterker, breër visuele lyn skep.
9. Polkakolle

As modewereld ons enigiets geleer het, is it dat modetrends byna altyd oor ‘n paar jaar terugkeer, polkakolle is die seisoen die perfekte voorbeeld hiervan.
Hierdie seisoen is daar piepklein tot oorgroot polkakolle en polkakolle in kontrasterende kleurkombinasies. En ja, selfs polkakolle by polkakolle!
10. Somer serpie, die perfekte somerbykomstigheid

‘n Sy-somerserpie is beslis ‘n moet he item vir die komende seisoen. Veelsydig en so prakties.
Kies ’n syserpie in ’n helder kleur of interessante patroon om ’n eenvoudige uitrusting onmiddellik meer interessant te maak.
Dra dit so:
Om jou middel gebind, nes asl die “cool” modekenners sit stileer
Om jou handsak gebind
Bind jou syserpie ronom jou poniestert of vleg dit in ’n vlegsel in
Bind dit a-la-bandana-styl om jou kop, natuurlik ook ’n uitstekende oplossing vir ’n slegte haardag.
Maar ons gunsteling bly die eenvoudigste een: ’n syserp om jou nek. Dit laat selfs die mees basiese uitrusting onmiddellik meer afgerond en elegant sjiek lyk.
11. Kant

Kant afwerkings is nie net vir die slaapkamer bedoel nie! Hierdie seisoen word kant nie slegs as ‘n sensuele materiaal gesien nie maar eerder as ’n simbool van sterk vroulikheid gesien.
Die truuk is om jou kant item meer modern te laat voel om dit met iets meer manlik te stileer. Dink aan ‘n cami met kantafwerking gestileer by ‘n wyepyp broek of oorgroot blazer baadjie.
12. Deursigtige lae (sheer fabrics)

Deursigtige klere is steeds groot nuus, maar jy hoef beslis nie alles te wys nie.
Ons verkies ’n meer elegante benadering: dra byvoorbeeld ’n lang genoeg blazer baadjie, of onderrok in ’n soortgelyke skakering onder ’n deursigtige romp of rok.
13. Bermuda-kortbroeke

Gepoleerde, knielengte Bermuda-kortbroeke word as die “grootmens-kortbroek” beskryf en dit met goeie rede.
Stileer dit so:
Dra dit kantoor toe saam met ’n blazer baadjie en aanglip hakskoene. Vir ’n meer ontspanne voorkoms, verruil die baadjie vir ’n lospassende top en dra plat skoene soos balletskoene byvoorbeeld.
Die lengte van jou Bermuda-kortbroek is baie belangrik. Vind die lengte wat die beste op jou bene werk. Maar seker dat dit of bo jou knie of onder jou knie eindig, vir ‘n vleiende effek. As jy voller kuite het moet liefs nie dat die broek op die wydste deel van jou kuit eindig nie.
14. Moderne Maksimalisme

Die dopamien mode aantrek trend (om klere te dra wat jou laat goed voel) het na inperking behoorlik oorheers, daarna het minimalisme en die “quiet luxury” estetika die modewêreld oorheers.
Nou swaai die modependulum weer ander kant toe. Na jare van beige, swart en neutrale kleure, is daar ’n nuwe behoefte aan kleur, pret en persoonlike uitdrukking.
Moderne maksimalisme gaan ook nie daaroor om sommer lukraak kleure, patrone en teksture saam te gooi nie. Dit gaan oor doelbewuste stilering, om ’n modestorie deur jou klere en bykomstighede te vertel.
Dink daaraan om:
Onverwagte kleur en patrone te meng wat jy nie normaalweg saam sou dra nie.
Verskillende teksture en materiale, byvoorbeeld sy, denim, kant en leer te kombineer – om die voorkoms meer dimensie te gee.
‘n Speelse element by jou uitrusting te voeg. Byvoorbeeld ’n interessante handsak, opvallende juwele, ’n serp of ’n onverwagte skoen, vir daardie “interessante element” effek.
15. Silhoeëtte met volume
Manlike en oorgroot silhoeëtte met volume is al ’n rukkie groot nuus en gaan nêrens heen nie.

Om te verhoed dat jy lyk asof jy verdrink in oogroot kledingstukke, is die truuk om met jou stilering ’n tikkie vroulikheid by te voeg. Kombineer jou oorgroot blazer baadjie met ’n kant-cami, sybloes of delikate juwele.

Vir jou ballon-styl broeke (daardie wat om jou enkels pof!) onthou om jou proporsies te balanseer. Kombineer met meer styfpassend bloese of items met struktuur vir jou bo kant.





