Die warmer lenteweer het dalk nog nie opgedaag nie maar hier is ’n hele paar lentemode-trends wat reeds het! Ons het ondersoek ingestel en modetrends wat ons voorspel groot nuus gaan wees hierdie lenteseisoen vir jou, die Stylvolleser uiteengesit. Met jou Stylvol trend-lysie gekombineer met voorkomskonsultante Susra Matthee, Jeanine Theron en Lizanne Anderson se trendvoorspellings sal jy modieus hierdie seisoen kan inpronk.
Spaar jou geld op al daardie winteruitverkopings en maak eerder ’n lysie van die lentetrends wat jy graag sal wil uittoets. Deur Justine Kroes
02/09/2022
Stylvol se top lentetrends:
1. Platformskoene
Platform enigiets – van tekkies tot stewels en 60’s/70’s-styl platformhakskoene is groot nuus. Hemelhoë skoene gedra by formele of informele uitrustings (hoe hoër hoe beter!) kies helder skakerings om in die kol te wees met hierdie trend.
Wenk: Pas aan en maak eers seker jy kan in hierdie skoenstyl loop!
2. Bypassende stelle
Bypassende stelle is al vir ’n ruk ’n gewilde klerekasopsie – ahoewel hierdie seisoen is die stelle meer dramaties en helder met uitspattige patrone en interessante snitte. Lees ook meer oor die nuwe kragpak hier.
’n Bypassende stel is so veelsydig – jy kan elke item apart of saam dra. Dit beteken meer stylopsies vir jou klerekas.
Wenk: Vind ’n bypassende stel wat by jou stylpersoonlikheid pas: Daar is bypassende pakstelle, ontspanningsdragstelle, broek-en-rompstelle – beslis iets vir ons elkeen. Psst – meeste aanlynwinkels het selfs nou ‘n afdeling spesifiek vir “matching sets”, “co-ords”.
3. Vere
’n Trend wat al hoe meer rondom ons fladder (pun intended!), fyn (dink volstruistipe) gekleurde vere met afwerkings op moue, broekspype, soomlyne, skoene en handsakke om maar ’n paar te noem. Hoe helderder hoe beter.
Wenk: As jy onseker is oor hoe om hierdie trend te dra (maar jy wil graag) kies dalk ’n handsak of ’n skoen met veredetail.
4. Die nuwe boheems
Die nuwe boheemse tendens lyk die seisoen anders – die fokus is op diepte en teksture. Dink aan ryk skakerings, ’n oormaat van detail en afwerkings. Patrone op getekstureerde materiaal met interessante elemente en versierings en fraiings daarby. Fraiings – veral baie fraiings!
Wenk: As jou stylpersoonlik meer dramaties is – kies die meer is meer opsie en kombineer verskillende elemente van jou boheemse uitrusting. Of hou dit veilig met een boheemse kledingstuk as die fokuspunt van jou uitrusting.
5. Uitgesny
Die “cutout” tendens is weer groot – talle ontwerpers het die negatiewe spasie tendens gebruik in hul nuutste reekse vir lente/somer 2022, Proenza Schouler, Stella McCartney en Giambattista Valli om maar ’n paar te noem.
Wenk: Die meeste van ons sal nie graag oop magies wil dra nie – kies dan die trend met oop skouers, of dalk ’n oop rug.
6. Oorgroot totes/shopper handsakke
Van piepklein een seisoen tot oorgroot die volgende seisoen. Hoewel daar dalk baie verlore kan raak in so ’n groot sak is daar plek vir letterlik alles!
Wenk: Kies ’n oorgroot sak in ’n skakering wat by die meeste klere in jou klerekas sal pas.
Psst; klik hier om meer te lees oor die handsakstyle wat nou groot nuus is.
Voorkomskonsultante se top lentetrends en wenke:
Susra Matthee, voorkomskonsultant, kleur en trendskenner se lentetrendsvoorspelling:
Volg vir @susra_matthee_image_consulting op Instagram hier. En besoek haar webstuiste om meer te leer oor haar dienste.
7. Mini- vs maksilengtes
Susra verduidelik: “Hierdie seisoen gaan dit oor uiterstes (extremes!) niks in die middel nie – dit beteken ook geen meer midi-lengtes nie. Hierdie seisoen is daar twee duidelike lengtes wat gewild sal wees – jy is eerder span maksi (lengtes wat byna die grond raak) of span 60’ geïnspireerde mini (as jy killer bene het is die trend vir jou!). Dit is wel duidelik dat die mini’s reeds ’n gewilde opsie in die winkels is.”
Wenk: Kies die lente waarmee jy gemaklik is. Onthou balans is belangrik – as jy die mini opsie kies – wees versigtig om nie te veel vel op jou bolyf te wys nie (dra by ’n baadjie of langmou/driekwart bloes). Die teenoorgestelde is ook waar by jou maksirompe.
8. Kop tot tone kleur
Die terugkeer van helder skakerings is duidelik – Kellygroen (of grasgroen) warm pienk (Valentino pienk danksy onlangse modeweek loopplanke), helder blou, geel en natuurlik oranje die nuwe kleur op die mode-blok.
Susra se raad: “Hoewel pienk soos die gewildste kleur van die seisoen lyk, is oranje sterk volgende. Onthou nie almal kan oranje dra nie – dit is die een warm skakering wat jy nie van warm na koel toe kan verander deur dit by ander kleure te dra nie.”
Wenk: Kleurblok is hierby nog ’n groot tendens – dra hierdie helder skakerings saam vir ’n trendy voorkoms: rooi en pienk, pienk en oranje, blou en groen. As helder skakerings vir jou effens oorweldigend voel, begin klein met ’n helder bykomstigheid.
9. Strepe
Maak ’n stelling met strepe – die patroon is in. Hoe wyer die strepe hoe beter (duidelik van modehuise Jill Sander tot Marni en Stella McCartney). Meng en pas jou strepe met ander patrone – onthou die goue reël wanneer jy patrone meng – daar moet een soortgelyke skakering in beide van die patrone wees en die groottes van die patrone moet verskillend wees (klein vs groot).
Wenk: Die eeu oue modereël – horisontale strepe laat jou korter lyk – en vertikale strepe het ’n vleiende en verslankende effek op jou voorkoms. Hoe wyer die streep – hoe groter die effek. Diagonale strepe is ook baie verslankend.
Jeanine Theron voorkoms- en stylkonsultant se wenke
Volg vir @transformed_by_jeanine op Instagram en vir ‘n stylkonsultasie kontak vir Jeanine hier.
10. Die Slootjas (Trench Coat)
Jeanine sê “Die Militêre (of sloot) jas (kort of lank) is my gunsteling mode item vir die lente. Dit is nie net prakties nie, maar dit is klassieke item vir enige kas. Dra dit oor ’n sweetpak, ’n rok, of by jou denims & ’n T-hemp. Hierdie item pas ook perfek in by die “Old Money aesthetic” modetendens wat oral te sien is.”
Wenk: Meer is meer die seisoen – probeer gerus ’n slootjas in ’n ander skakering, pofmoue en interessante afwerkings.
11. Wyepyp broeke
Wyepyp broeke is gewild. Dit is die ideale styl broek vir al die “A”-vorm liggame. Ek is mal daaroor om myne met ’n mooi oopknoopbloes, belt en plat sandale te stileer.
Wenk: Kies ’n wyepyp broek in ’n materiaal wat jy graag sal dra, denim of linne – materiaal wat jy werklik sal dra.
12. Raffiasak
Die Raffiasak is groot mode vir die lente. Dit is definitief iets wat ek vir myself gaan aanskaf. Hierdie item sal dadelik jou uitrusting meer modieus maak. Dra dit saam met ’n denim en linnebloes, ’n somersrok en leersandale.
Wenk: Die reël is om dit te stileer met ander natuurlike materiale bv. linne/ leer.
Lizanne Anderson, voorkoms- en stylkonsultant se wenke:
Volg vir Lizanne op Instagram hier @hellobeautiful_imageandstyle. Om Lizanne te kontak vir ’n styl en kleur konsultasie, klik hier.
Omdat iets ‘n modetendens is beteken nie ons moet dit noodwendig byhou of dra nie. Wees selektief met modetendense en inkorporeer hulle in jou klerekas NET as hulle by jou persoonlike styl, liggaamsvorm en leefstyl pas.
Lizanne Anderson
13. Monokroom uitrustings
Monokroom uitrustings is groot vir die lente, en daarby ’n wonderlike manier om sommer dadelik slanker en langer voor te kom. Die kleurvloei wat geskep word deur dieselfde kleur van kop tot toon te dra, laat die oog op beweeg en skep dus die illusie van lengte.
Dis styltowerkuns! Dit skep ook ’n vleiende en goed saamgestelde uitrusting.
Wenk: ’n Monokroom uitrusting hoef nie noodwendig net neutrale kleure te wees nie. Jy kan jou gunsteling helder kleur kies, ’n gordel, handsak, trui en skoene by jou uitrusting byvoeg in dieselfde kleurskakering. Op hierdie manier skep jy ook lae en diepte in jou uitrusting.
14. Oorkruis sak
Lizanne sê: “Oorkruis sakke (sakke wat oor jou lyf kruis) is ’n gemaklike styl en ’n vinnige manier om jou hele uitrusting op te hef. Jy kan jou huidige oorkruis sakke se bande ook vervang met verwisselbare bande.”
Wenk: Eksperimenteer met verskillende sakposisies en verskillende bandjielengtes. Dra ’n helder kleur oorkruis sak by ’n neutrale uitrusting en laat jou sak so uitstaan.