spaarwenke
spaarwenke

13 Beste spaarwenke wat inperking ons geleer het

Hier is ons en stylvol vriendinne se 13 beste spaarwenke wat inperking ons geleer het.  Nou moet ons net volhou met die goeie gewoontes. Deur Suzanne Kotzé.

Hier is ons (en julle) beste spaarwenke

1. Doen inkopies sonder jou kinders

Elke keer as ek winkel toe gegaan het om brood en melk te koop was dit sonder die kinders. Dus was daar geen ekstra goedjies soos ’n ou koeldrankie of lekkertjie nie! Ek was mos alleen in die winkel, so ek het net gekry wat ek moes. Nadia Prins

2. Geen wegneem cappucino’s

In die verlede het ek daagliks ’n wegneem cappucino gedrink as ek uit was vir inkopies. R33 maal 30 dae is ’n aardige sommetjie. Toe die restaurante toe was, het ek myself gespeen. R1000gespaar Cornel Dunn.

wegneem cappuccino

3. Natuurlike haarkleur

Ek het my hare laat uitgroei en teruggekeer na my natuurlike haarkleur. Amelia Kroes

4. Eet uit jou groentetuin

Ek het einde Maart blaarslaai gesaai uit vrees dat vars groente moeilik bekombaar sou raak. Dit was toe nooit die geval nie, maar ek pluk nou nog my eie blaarslaai. Ek beplan versigtig hoeveel vars vrugte en groente ek koop sodat ek niks vermors nie. Anet Schoeman 

spaarwenke maak 'n groentetuin

Ek het glad nie ‘groen vingers’ nie maar het my eie groente geplant (en selfs steggies gemaak van my kruie!). Dit was eerder om iets anders as ’n simpel virus te sien groei, maar ek spaar baie en dit verskaf my matelose bevrediging. Amanda Lucas

5. Kook een keer, eet drie keer 

Ons het anders begin kook en eet – so op Vickie de Beer se ‘kook een keer en eet drie keer’ manier en ons mors minder en spaar meer. Ons het ook meer saamgekook en om die potte gekuier. Ons koop ook minder klaarbereide kos en meer vars produkte. Martie Pansgegrouw

6. Koop en kook net wat jy nodig het

Ons het Ucook -etes begin maak en al is dit duurder as om dalk die bestanddele self te koop vir goedkoper, het ons geen groente en kos meer gehad wat afgegaan het in die yskas nie. Dit was net genoeg. Suzanne Kotzé

7. Ons het alles leer opgebruik

Ons het begin deur al die pakke pasta en blikkieskos wat al hoe lank in die kas staan, op te gebruik (aanvanklik om plek te maak vir al die ‘paniek-kopies). Gewoonlik as ek inkopies gedoen het, kon ek nooit onthou of ek geblikte tamaties by die huis het of nie, en dan het ek maar vir veiligheid nog gekoop. Ek is nou baie meer bewus van alles wat ek in die koskas het, en koop hiervolgens kos. ’n Groot bonus is dat ek ook nou baie meer plek in my kaste het. Suzanne Kotzé

8. Nuwe planne met oorskiet

Ons wou niks mors nie, en ek het begin om weer my eie hoenderaftreksel en groentesop te kook van oorskietkos. Ons het ook ’n wurmplaas aangeskaf (uit vrees dat rommelverwydering nie sou plaasvind nie) en ons wurms kry nou die laaste bietjies oorskiet.  Suzanne Kotzé

9. Ou klere word nuut

So met daardie ‘regpak’-fase wat die meeste van ons beleef het, het ek sakke vol klere ontdek wat nog reggemaak moes word. Al is ek glad nie goed met naaldwerk nie, het ek tog agtergekom ek kan self gaatjies stop, eerder as om iemand anders te betaal om dit te doen.  Suzanne Kotzé

10. Klere uitruil

My seuns het ewe skielik so vinnig gegroei en hulle broeke was net skielik te kort. Ek en van die ander ma’s het begin om van ons kinders se ou klere te begin uitruil.  Dit het nou ’n lekker netwerk gestig waarmee ons kan aangaan. Dit is een van die spaarwenke wat ek beslis vir ma’s sal aanbeveel. Suzanne Kotzé

11. Tuis-manikuur

Ek het vir myself geleer hoe om ’n tuis mani,pedi en selfs gesigbehandeling te doen. Ek het volgehou met die pedikuur en laat doen nou my naels ook minder. Dit was eintlik baie lekker om self my hande en voete te versorg – my dogtertjies het sommer albei volgende in die ry gestaan vir ‘n manikuur. Dit het nou sommer ’n gereelde instelling geword, en dis sommer baie spesiaal! Justine Kroes

tuis manikuur

 12. Minder klere inkopies

Ek het beslis minder klere-inkopies gedoen, bloot omdat ek nie so baie indie winkels gekom het nie. Ek verkies dit om klere aan te pas voor ek koop -daarom koop ek nie sommer aanlyn nie. Die feit dat ’n mens ook nie by elke winkel kan klere aanpas nie, moedig my verder aan om nie klere-inkopies te doen nie. Om te koop en by die huis aan te pas en weer terug te neem is net te veel moeite vir my. Justine Kroes

13. Ek gebruik my skoonheidsprodukte klaar

Ek het ‘n slegte gewoonte om nie my skoonheidsprodukte tot by die laaste druppel te gebruik nie. Gewoonlik koop ek ’n nuwe sjampoe of room sonder om die vorige een klaar te gebruik, dan staan daar ’n klomp halwe botteltjies produkte rond. Met die inperking het ek die gewoonte aangeleer om eers die produkte wat ek het heeltemal op te gebruik voor ek nuwes koop. Ek het beslis ’n hele paar gebruik tot by die laaste druppel voor ek nuwes koop. Ek het beslis ‘n paar rand gespaar en boonop die produkte ordentlik kans gegee om te doen wat hul beloof. Justine Kroes

Lees ook: Hare: die mooiste uitgroei-vriendelike kleure en style

Wat is jou beste spaarwenke?

Teken in op ons nuusbrief en word deel van die binnekring.

Handige ekstra wenke en raad, spesiale afslag en wenke, slegs vir die binnekring.

Oor ons

Stylvol sosiale media

Nog Stories
Clare-Wiese Wentzel
Clare Wiese-Wentzel se Mooimaak-lewenslesse
error: Content is protected !!