Ons weet nou al die meeste van ons stylikone word nie soggens wakker met perfekte, hare, grimering en kreukelvrye uitrustings nie, hoewel dit dalk so mag voel as jy deur jou sosiale media blaai. Die realiteit is, niemand is perfek nie en lyk altyd afgerond nie, maar met volhoubare gewoontes en deur die regte styl items te kies kan jy ook meer afgerond en stylvol lyk. Styl en voorkomskonsultante Nicqie Robinson en Simone Lombard deel graag hul kundige raad; hier is 12 wenke om meer afgerond te lyk. Deur Justine Kroes
1. Hou jou leefstyl en daaglikse roetine in gedagte;
’n Groot gedeelte van afgerond lyk is ook om gepas aan te trek vir jou lewenstyl en daaglikse roetine. Selfs al wil ons hoe graag soos daardie ander vrou op sosiale media lyk, is hoëhakskoene, piepklein handsakkies en pragtige rokke dalk nie gepas vir jou lewe as ’n kleuter- en werkende-mamma wat aldag op haar voete is op die oomblik nie. Wees eerlik met jouself en koop klere-items wat steeds stylvol maar ook funksioneel is vir JOU.
2. Ken jou styl-persoonlikheid
Nicqie sê: “Daar is sewe hoof stylpersoonlikhede. Jy is ’n kombinasie van twee of soms drie van daardie. Met ’n minimum van 49 stylpersoonlikhede het jy verseker ’n spesifieke styl. Jou styl is ook nie noodwendig dieselfde as die huidige mode nie. Wanneer jy weet wat jou stylpersoonlikheid is, is dit makliker om klere aan te koop en aan te trek. Jy gaan ook gemaklik voel, omdat daardie style uniek is aan jou en so lyk jy sommer dadelik meer afgerond as iemand wat onseker is oor hul persoonlike styl.
3. Nommerpas vir jou
“Die kans dat items nie die klerewinkel jou nie perfek reg gaan pas nie, is baie goed. Hê moed!! Daar is niks fout met jou liggaam nie. Daardie item is net nie nommerpas gemaak vir jou nie. Koop eerder ’n groter nommer en laat maak dit nommerpas vir jou. Jy gaan nie net gemaklik voel nie, maar jy gaan afgerond voorkom” sê Nicqie
Simone stem hiermee saam – “Hierdie is die goue reël van meer stylvol lyk. Sit ’n soom in, werk ʼn ekstra naat by. Moenie bang wees om aan jou klere te verander nie!”
4. Kies struktuur bo slons
“Dra items wat struktuur het. Indien jy iets vormloos soos ’n trui of lospassende T-hemp dra, stileer dit met ʼn baadjie” sê Simone. Ons stem, een van die vinnigste maniere om meer afgerond en stylvol te lyk, is om klere met struktuur te dra. Dit skep balans in ’n uitrusting en lyk eenvoudig meer netjies as lospassende, slonserige kledingstukke.
5. Plooie en kreukels is ’n nee!
Min dinge laat so vinnig jou voorkoms onafgerond lyk soos plooie in jou klere. Ons is ook nie lief vir ure staan en klere stryk nie, ons gebruik graag ’n stoomyster, dit werk blitsvinnig en is sagter op jou klere as ’n strykyster.
6. Goeie selfsorg
“Hou jou haarafspraak op datum. Versorg jou wenkbroue. Haal ou naellak af. Gebruik parfuum. Hou jou vel vogtig.” Is Simone se wenk. Ons stem saam: netjiese hare en grimering is ’n moet vir ’n gepoleerde/afgeronde voorkoms.
7. The devil is in the detail
Simone sê “As jou trui wolletjies maak, verwyder dit. As jy ’n garingtjie het wat uitrafel, werk dit terug. as jou skoene vuil is, maak dit skoon. So eenvoudig soos dit.”
8. Organiseer jou klerekas en beplan jou uitrustings
Nicqie se raad “Sorteer jou klerekas behoorlik uit. Jou klerekas moet net items hê waarop jy verlief is, wat reg pas en met ten minste drie ander items gemeng-en-gepas kan word. Jy gaan verbaas wees hoeveel verskillende uitrustings jy kan saamstel deur net ’n bietjie buite jou normale kleurkombinasies en gewone stelle te dink. Wanneer jy kan sien watter items in jou klerekas is, is dit baie makliker en vinniger om aan te trek en sodoende meer afgerond te lyk.”
Besluit om oor ’n naweek oor die week wat voorlê deur die uitrustings reeds te beplan. Werk deur jou bostukke en onderstukke op ’n sistematiese manier. Jy gaan gou agterkom watter items jy nooit dra nie en jou “afgeronde voorkoms” gaan makliker wees om uit te voer.
9. Kleur is belangrik
“Neutrale kleure soos swart, skakerings van room en ligtebruin en wit gaan nie sommer uit die mode nie. Onthou niks sê meer “luuks en afgerond” as ’n wit kraaghemp nie.” sê Simone
Net soos wat neutrale kleure jou vinnig afgerond kan laat lyk, so ook is monochroom uitrustings ’n handige stileertruuk om in jou mode-arsenaal te hou. “Om skakerings van dieselfde kleur aan te trek lyk sjiek en foutloos. Nie net sal dit jou meer stylvol laat lyk nie, maar dit maak aantrek in die oggende soveel makliker.” Simone
10. Goue juwele
Goue juwele skep daardie luukse gevoel in enige uitrusting. Simone sê “Goeie nuus, die meeste winkels verkoop bekostigbare ‘goue’ juwele. Ondersteun ʼn plaaslike juwelier soos ByCara. Hulle verkoop waterdigte juwele wat beteken jy kan daarmee swem, sweet en uitgaan. Wen!”
11. Modetruuks maak ‘n verskil
Probeer verskillende modetruuks wat by jou lyfvorm en stylpersoonlikheid pas. Hierdie truuks kan blitsvinnig jou uitrusting van nul tot 10 uit 10 neem. Maklike wenke soos – dra ’n gordel om jou middel, of bind ’n syserpie om jou nek of in jou hare. Simone stem saam, haar modetruuk – “Steek jou hemp in.-speel met verskillende style soos die French tuck of steek jou hemp heeltemal in; vind uit wat vir jou werk.”
“Meng ook verskillende teksture. Stileer jou woltrui by ʼn leerromp, of ʼn katoen-broek by ʼn satynbloes en rond dit af met ʼn slangvelmotief skoen. Die verskillende teksture skep ’n luukse gevoel en laat jou blitsvinnig meer stylvol en afgerond lyk.” sê Simone
12. Beleggingstukke is ‘n moet
Nicqie se raad: “Ek glo in kwaliteit, veral as dit kom by beleggingstukke soos broeke, skoene, baadjies, belde en handsakke. Meng-en-pas goedkoper items met beleggingstukke om stylvol en afgerond voor te kom.”
Hier is Simone se moet-hê items wat ’n mens dadelik meer afgerond en stylvol laat lyk:
- Gepunte skoene,
- Goue juwele
- Materiale wat lig reflekteer
- Hoë middellyf broeke
- Wit kraaghemde
- Baadjie / jas met struktuur
- Rooi lipstiffie
- Donkerkleurige jeans
- ʼn Sjiek haarstyl
Simone Lombard
Is ‘n voorkomskonsultant wat spesialiseer in styl en kleur-konsultasies, persoonlikse koper en stilis. Vir konsultasie navrae kontak vir Simone by simlobardimage@gmail.com. Volg vir Simone op sosiale media hier.
Nicqie Robinson
Is ‘n identiteits-stilis wat jou graag wil inspireer om die beste jy te wees!
Kontak vir Nicqie vir ‘n konsultasie by info@nicqie.com Volg vir Nicqie op sosiale media hier.