Indien jy graag hierdie jaar meer moeite met jou voorkoms wil doen het jy nie ’n splinternuwe klerekas nodig nie! Om sjiek, afgerond en stylvol te lyk gaan meer oor hoe jy jou klere dra, nie hoe baie klere jy besit nie.
Met ’n paar klein veranderinge kan jy selfs ’n doodgewone uitrusting meer intensioneel, modern en afgerond laat lyk. Hier is 12 moeitelose stileer- en stylwenke vir ’n afgeronde, stylvolle voorkoms. Deur Justine Kroes
12 Stileerwenke vir ’n afgeronde en stylvolle voorkoms
1. Nommerpas vir jou
Die pas van jou klere is alles. Hoe klere aan jou lyf sit is een van die belangrikste stylelemente wat vroue gereeld miskyk. Niks lyk meer slordig en onafgerond soos klere wat net nie reg pas nie. Selfs die heel goedkoopste stapelitems kan duur en sjiek lyk mits dit jou lyf perfek reg pas.

As iets te lank, kort, los of styf pas, laat maak dit reg. Spandeer geld en neem al daardie kledingstukke wat jy al lankal moes laat pasmaak vir jou eie lyf. ’n Goeie kleremaker (tailor) behoort een van jou beste modevriende te wees.
2. Dra die regte grootte
Oorgroot klere sal dalk al jou figuurfoute wegsteek, maar dit sal jou beslis groter laat lyk as wat jy werklik is. Vierkantige en losspassende klere is net vleiend as jy die balansreël toepas, byvoorbeeld as jou hemp lospassend is, dra ’n noupypbroek daarby. Om proporsies te balanseer, is uiters belangrik.

Die teenoorgestelde is natuurlik ook waar, klere wat te styf pas, voel nie net ongemaklik nie maar is dalk nie die vleiendste styl vir jou nie en sal moontlik areas beklemtoon wat jy eerder wil wegsteek.
3. Probeer ’n stileertruuk, nes ’n stilis
Bemeester die kuns van klein, praktiese en maklike stileertruuks (die tipe truuks wat stiliste gebruik) om jou uitrusting sjiek, afgerond en (amper moeiteloos) cool te laat lyk.
Hier is van ons heel gunstelinge wat ons gereeld self gebruik:
Rol jou moue op
Om blitsig vinnig meer afgerond te lyk, rol daardie moue op. Nie net jou kraaghemde nie, maar ook jou T-hemde, baadjies en jasse. Dit gee enige uitrusting ’n moeitelose voorkoms.

Definieer jou middel
Om ’n gordel om jou middel te bind, trek dadelik die oë na die kleinste gedeelte van jou ligggaam toe. Dit skep definisie, balans en vorm in enige uitrusting.

Steek jou hemp in
Steek jou hemp in: speel met verskillende style soos die French tuck of half tuck of steek jou hemp heeltemal in – vind uit wat vir jou werk.

Drapeer jou baadjie oor jou skouers
As jy in jou jeans lewe, is ’n blazer oor jou skouers ’n makliker manier om die uitrusting bietjie te verhef. Selfs jou leerbaadjie oor jou skouers by jou somersrokkie kan cool maar steeds afgerond en sjiek lyk.

4. Skoene kan ’n uitrusting maak of breek
Skoene is vir baie mense ’n nagedagte wanneer dit by hul voorkoms of uitrusting kom. Probeer altyd om jou skoene netjies te hou en probeer hou by nuwe neigings en style – want jou skoene kan maklik jou eietydse styl outyds laat lyk

Onthou as jou skoene vuil of verwaarloos is, lyk jou hele uitrusting sommer minder stylvol. Maak seker jy sorg mooi vir jou leerskoene. En vee jou effekleurige sandale, skoene en tekkies mooi skoon voordat jy by die deur uitstap.
Psst manne, dit geld vir julle ook!

Dit kos nie baie moeite nie en maak ’n reuse verskil aan jou voorkoms.
5. Kledingstukke met struktuur
Deur klere-items te dra met struktuur sal dadelik jou voorkoms verhef en jou meer stylvol laat voorkom. Dink selfs aan jou t-hemp en denim uitrusting – voeg ’n blazer baadjie met struktuur by en jou voorkoms lyk dadelik meer netjies en stylvol. Of dink aan jou wit kraaghemp by jou denims, sjiek en tydloos.

Hierdie tipe kledingstukke skep balans in ’n uitrusting en is ’n blitsvinnige manier om jou uitrusting van slons tot sjiek te neem.
6. Gee aandag aan die klein jakkalsies
As jou hemp se garingtjie uitrafel, werk dit terug, as jou trui wolletjies maak, verwyder dit, as jou wit hemp nie meer kraakvars wit lyk nie, vervang dit. Daardie dierehare op jou swart broek, rol dit af!

Onthou the devil is in the detail, daardie klein dingetjies mag vir jou soos niks lyk nie, maar vir ander kan dit slonserig, lui en onafgerond voorkom.

7. Outydse bykomstighede
As jy steeds ’n groot pap leerhandsak het (ja daardie een met al die waterskade!) is dit tyd om ’n nuwe handsak te oorweeg. Dit help veel jy doen moeite met jou jou klerekeuses en stileer jou slonserige handsak daarby.

Verruil eerder jou ou handsak vir iets kleiners en meer modern, jy het nie nodig om al daardie duisende rome, pille en notaboekies oral saam met jou saam te dra nie. Kies een met struktuur in ’n neutrale kleur wat vir jare lank nog tydloos sal bly.
8. Kleur is kragtig
Indien jy wonder oor watter skakerings om te dra, hou vir eers by neutrale skakerings, swart, wit en bruin bly tydlose gunstelinge.

Monokroom uitrustings is een van die kragtigste stileerwenke om meer afgerond te lyk. Die stileertruuk, om skakerings van dieselfde kleur van kop tot tone aan te trek, laat jou dadelik langer en slanker voorkom asook meer gesofistikeerd lyk.

9. Moet nie bykomstighede oordoen nie
Tensy jou stylpersoonlikheid eksentriek en dramaties is, behoort jy nie te veel juwele en bykomstighede op ’n slag te dra nie.
Volg gerus Coco Chanel se stylraad
“Voordat jy by die deur uitstap, kyk vir jouself in die spieël en verwyder een bykomstigheid”.

’n Stileertruuk wat ons self daagliks toepas – die resultaat is altyd ’n sjiek, minimalistiese en tydlose voorkoms.
Onthou ook – daardie serpie wat jy na jou hangertjie en oorbelle om jou nek draai is ook heel moontlik nie nodig nie en gaan beslis nie jou uitrusting red nie.

’n Stileertruuk wat ons self daagliks toepas – die resultaat is altyd ’n sjiek, minimalistiese en tydlose voorkoms.
Wees intensioneel met jou juweelkeuses, tydlose oorbelle en gestapelde hangertjies bly tydloos.
10. Selfsorg is belangrik
Doen moeite met jou grimering, hare en naels. Hou jou vel vogtig, versorg jou wenkbroue, verwyder daardie ou naellak, en hou jou haarafspraak op datum. Om afgerond en stylvol te lyk gaan nie net oor jou uitrustingkeuses nie.

11. Sê nee vir plooie en kreukels
Daar is min dinge wat so onnet lyk soos klere vol plooie en kreukels, jy kan die mooiste rok dra, maar as dit vol kreukels is, gaan mense daarop fokus. ’n Stoomyster is ons beste stileervriendin want lank staan en stryk is nie vir ons nie. ’n Stoomyster werk super vinnig en is boonop sagter op jou klere.
Hierdie is een van ons gunstelinge, werk blitsvinnig, vou op en stoor maklik weg.
12. Staan regop met selfvertroue!
Selfs die heel beste uitrusting kan platval as dit met slegte postuur gedra word. Staan regop, skouers terug en dra jou uitrusting met selfvertroue – die heel beste stylwenk wat bestaan!







