Om jou spasie te versier is opwindend maar pasop dat jy nie in een van hierdie stileer- en dekorslaggate beland nie. Die goeie nuus? Die meeste dekorfoute kan blitsvinnig reggestel word as jy eers weet waarvoor om te soek. Hier is 12 algemene dekorfoute, en slim wenke om hul reg te stel. Deur Justine Kroes
12 Dekorfoute, pasop hiervoor:
1. Al die meubels teen die mure.
Baie mense dink deur al hul meubels teenaan die mure te skuif, sal ’n kamer groter laat voel, maar in realiteit kan dit ’n spasie koud, onpersoonlik en leeg laat voel.
Maak dit so reg: Gebruik die stileertruuk van “floating furniture” waar jou meubels eerder weg van die mure af geskuif word om knus hoekies te skep. Selfs deur net jou rusbank 20 tot 30 cm van die muur af te skuif, skep ’n meer uitnodigende atmosfeer. Gebruik los matte om hierdie areas te “anker” en soos hul eie spasie te laat voel.
2. Harde beligting
Jy gebruik net een daklig per spasie of vertrek in jou huis. Hierdie een lig op sy eie laat ’n spasie plat en eendimensioneel lyk en koud voel.
Maak dit so reg: Dink aan jou ligte in lae (layers), meng die gebruik van dakligte met tafellampies of vloerlampe vir ’n warmer gevoel. Jy kan selfs van kerslig gebruik maak vir ekstra warmte en diepte. Selfs verdofskakelaars (dimmerswitches) is ’n begrotings-vriendelike manier wat die atmosfeer kan verander.


Hier is nog ’n paar handige wenke oor beligting.
7 Beligting-idees vir ‘n warmer atmosfeer
3. Jy kies styl bo gemak
Daardie sjiek stoel of trendy rusbank lyk dalk vreeslik mooi in jou spasie, maar is byna onmoontlik om mee saam te leef. Dit is ongemaklik, sit of lê nie lekker nie en word super maklik vuil.
Maak dit so reg: Toets altyd jou meubelstukke vir gemak voordat jy koop. ’n Stylvolle huis werk slegs as dit ook prakties en leefbaar is daarby. Vind ’n gesonde balans tussen vorm en funksie.
4. Skaal en proporsie is uit balans
Jy gee nie aandag aan die effek wat verskillende groottes meubels en dekorstukke in jou spasie het nie. Matte wat byvoorbeeld te klein is, of yslike groot rusbanke wat in klein spasies ingedruk word of kunswerke wat nie die muur pas nie. Skaal en die groottes van dekor-items kan die proporsies en gevoel van ’n kamer heeltemal omvergooi en uit balans laat voel.
Maak dit so reg: Gebruik die twee-derdes reël (two thirds rule); matte behoort twee derdes van die vloer in ’n sitarea te bedek. En kunswerke behoort tot twee derdes van die muur toe te maak as jy aandag wil gee aan skaal en proporsie.

5. Jy speel te veilig met neutrale skakerings
Van ’n dekor-stileer perspektief kan ten volle grys of beige kamers met dieselfde kleur meubels en dekor eentonig, vervelig en ongeinspireerd lyk.
Maak dit so reg: Stileer met elemente van kleur, soos byvoorbeeld helder strooikussings, ’n kunswerk wat ’n stelling maak of ’n aksentmuur in ’n kleur anders as wit of grys. Selfs die gebruik van tekstuur kan ’n spasie vol neutrale skakerings warmer en meer interessant laat voel.

6. Deurmekaar toonbanke en tafels
As daar te veel klotter op toonbanke, kaste en tafels is, kan dit bydra tot ’n chaotiese gevoel in ’n spasie. Selfs intensionele stilering met te veel dekorelemente kan die hele spasie oorvol, ongeorganiseerd en deurmekaar laat voel.
Maak dit so reg: Volg die reël van drie’s (rule of three) wanneer jy oppervlakte soos ’n koffietafel byvoorbeeld stileer. Groepeer dekorelemente drie bymekaar. Met verskillende hoogtes en teksture. Hierdie voel meer intensioneel en dekorelemente komplementeer mekaar. Negatiewe spasie (skoon spasie) is belangrik om oë te laat rus.
7. Geen persoonlike elemente
Jy vergeet van daardie persoonlike elemente in ’n spasie. Om bloot ’n Pinterest-kopie van ’n spasie te dupliseer kan jou huis onpersoonlik en koud laat voel.
Maak dit so reg: Sluit betekenisvolle items by jou dekor in, gesinsfotos, reisaandenkings of kuns waarvan jy hou. Jou huis behoort ’n storie te vertel oor wie daar woon – nie bloot trends navolg nie.

8. Verkeerde (of geen) vensterversierings
Kaal vensters met geen gordyne nie of swaar, verouderde gordyne kan albei ’n spasie onversorgd en onpersoonlik laat voel.
Maak dit so reg: Kies vensterversierings wat die venster asook die spasie “raam”. Byvoorbeeld ligte linnegordyne vir ’n ligte gevoel, of blindings vir ’n skoon moderne voorkoms. Jy kan selfs eksperimenteer met die hoogte en wydte van gordyn- installerings, dit kan jou spasie groter laat voel en selfs die plafon hoër laat voel.

9. Hang kuns te laag of te hoog
Een van die mees algemene dekorfoute in ’n spasie is om kuns op die verkeerde hoogte te hang. Jy hang dit of te hoog of te laag.
Maak dit so reg: Hang jou kuns sodat die middelpunt van jou kunswerk min of meer ooghoogte hang, of 1.5m van die vloer af. As dit bokant ’n bank of tafel hang, mik dat die onderpunt van die kuns so 20 sentimeter bo die meubelstuk hang.


10. Jy vergeet van die vloei
Spasies word oorvul met meubels en dekor wat loopareas moontlik belemmer, of jou meubels is so geskuif dat jy moeilik en nie gemaklik deur loopareas kan beweeg nie.
Maak dit so reg: Laat negatiewe spasie vir maklike beweging. Dink oor hoe jy natuurlik deur ’n spasie beweeg en probeer om nie deure of selfs vensters te blok met meubels nie.

11. Alles pas eksie perfeksie
Onthou, as jy alles net so van die katalogus gaan bestel gaan jou spasie soos ’n meuble- winkel of showroom lyk en nie soos ’n huis nie.
Maak dit so reg: Meng en pas verskillende teksture, afwerkings en vorme vir ’n meer “curated” voorkoms. Dekorelemente behoort mekaar te komplementeer.

12. Geen mat
Baie mense vermy die gebruik van matte geheel en al omdat hulle voel dit ’n ekstra koste is of moeite om te onderhou. Maar daarsonder kan ’n kamer of spasie baie vinnig onklaar en koud voel.
Maak dit so reg: Kies ’n mat wat jou sitarea beklemtoon en die kamer/spasie dadelik bymekaar bind. Selfs begrotingsvriendelike matte kan ’n reuse impak hê op ’n spasie.

Dekorfoute gebeur met almal. Die truuk is om hierdie potensiele slaggate vroeg te identifiseer en klein verandering te maak wat balans, persoonlikheid, gemak en styl aan jou spasie terugbesorg. Onthou die mees stylvolle huise is nie perfek nie, dit is eerder daardie huise wat outentiek, warm, en uitnodigend voel.





