10 Vinnige klaarmaak wenke vir rustiger oggende

Oggende voel soms soos ’n warrelwind, die alarm gaan af, koffie, ontbyt, kosblikke pak, en seker maak almal is betyds, dan bly daar skaars 10 minute oor vir jou om klaar te maak. Ons deel 10 vinnige (en beproefde) klaarmaak wenke vir ’n stylvolle voorkoms in ’n japtrap. Met ’n handvol slim stileeridees kan jy jou klaarmaaktyd soggens in die helfte sny, hier’s hoe: Deur Justine Kroes

1. Bou ’n kapsule-klerekas

Hierdie wenk het jy seker al ’n paar keer gehoor, maar dit is ’n modetruuk soos g’n ander. Bou ’n gekies-en-gekeurde versameling van veelsydige kledingstukke, dink aan netjiese broeke, ’n vars wit kraaghemp, blazer baadjies, klassieke denims, elk items wat goed bymekaar kan meng en pas. Met minder opsies sal jy baie vinniger ’n uitrusting bymekaar kan sit sonder die “ek het niks om te dra nie” oomblik.

Lees meer oor die kapsule klerekas hier.

En nee jou capsule-klerekas hoef nie neutraal en vervelig te wees nie, dit kan ook ’n kreatiewe kapsule wees!

Lees meer or die kreatiewe kapsule klerekas hier.

2. Beplan uitrustings ’n week vooruit

Neem 20 minute op ’n Sondagmiddag/aand en beplan vyf “reg om te dra” uitrustings vir die komende week. Hierdie spaar jou nie net tyd nie, maar help ook om seker te maak jy dra nie altyd dieselfde uitrustings oor en oor nie.

Jy hoef natuurlik nie die vyf uitrustings “Maandag tot Vrydag” te nommer nie, dit gee jou die opsie om steeds ‘n enige uitrusting te kies.

Psst, onthou om vooruit na die weer en jou kalender vir die week te loer om seker te maak jy kies die regte uitrustings.

3. Lê more se uitrusting die aand voor die tyd uit

Indien ’n week vooruit se beplanning dalk vir jou oorweldigend voel, begin eerder klein. Spandeer vyf minute voor slaaptyd en stileer vinnig môre se voorkoms. Hierdie eenvoudige stap elimineer die volgende oggend se onsekerheid oor wat om aan te trek en maak laaste oomblik uitrusting-angs iets van die verlede.

4. Bemeester die “formule aantrek” truuk

Stel ’n paar “go-to” uitrustings saam, jy weet daardie kombinasies waarop jy altyd staatmaak. Soos byvoorbeeld ’n blazer baadjie, denims, tekkies en ’n wit kraaghemp. Hierdie gekies-en-gekeurde kombinasies verwyder die aantrek raaiwerk en verseker keer op keer ‘n stylvolle saamgestelde voorkoms.

5. Belê in veelsydige klere-items

Dink aan klere en kledingstukke wat beide netjies en meer gemaklik gestileer kan word, hierdie spaar nie net tyd nie, maar boonop kas-spasie daarby. Byvoorbeeld ’n slooprok wat met tekkies en ’n T-hemp onderaan gedra kan word vir ’n informele voorkoms, en weer by ’n paar hakskoene vir ’n vergadering of aand uit.

6. Hou jou bykomstighede eenvoudig

Hou ’n stylvolle skinkbord byderhand met jou “elke dag” juwele en bykomstighede. Jy weet, daardie sjiek bykomstighede waarvoor jy altyd eerste gryp. Goue of silwer oorbelle, klassieke horlosie en ’n klein versameling van handsakke wat by alles pas. Met ’n goed deurdagte (curated) stel bykomstighede binne grypafstand sal jy nooit tydmors met jou bykomstighede nie.

7. Organiseer jou klerekas volgens kategorie

Ja die kleur (rëënboog) metode werk goed, maar om jou klere in verskillende kategorieë te groepeer maak ook baie sin, veral om tyd te spaar.

Byvoorbeeld jou “werksklere” is almal saam gegroepeer, jou “oefenklere” is gegroepeer en jou gemaklike, en minder formele drag word saam gegroepeer. Jy spaar belangrike minute omdat jy presies weet waar elke kledingstuk in jou klerekas woon.

8. Probeer ’n skoen rotasie

Bly by ’n gekeurde rotasie van drie tot vier moet-dra skoene. Byvoorbeeld netjiese sneakers (tekkies), neutrale plat skoene (soos balletskoene), ’n paar sjiek sandale en ’n blokhakskoen. ’n Betroubare seleksie van skoene kan enige uitrusting blitsvinnig verhef, en los jou nie voor ‘n hoop skoene staan met geen idee wat nou eintlik by jou uitrusting pas nie.

9. Stel ’n styl-reddings klerereling saam

Hou ’n klein gedeelte van spasie in jou kas vir daardie “reg om te gaan” uitrustings. Daardie uitrustings wat jy weet altyd goed lyk en waarin jy altyd goed voel. Dink daaraan as jou mode-reddingsboei op daardie oggende wanneer jy te lank in die bed gesnooze het of vinnig ’n netjiese, moeiteloos gekombineerde voorkoms nodig het. Dit maak dit maklik om in ’n oogwink klaar te wees en steeds stylvol te lyk

10. Minder is meer, hou dit eenvoudig;

Jou voorkoms gaan nie net oor jou klere nie – dit gaan oor die hele indruk wat jy maak. ’n Netjiese haarstyl, of sjiek poniestert gekombineer met ’n stylvolle oorgroot sonbril en ’n lipstiffiekleur wat ’n stelling maak. Hierdie truuks trek vinnig ’n uitrusting bymekaar en verhef jou voorkoms met minimale moeite.

Stylvol

Handige ekstra wenke en raad, spesiale afslag en wenke, slegs vir die binnekring.

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui

Oor ons

Stylvol sosiale media

error: Content is protected !!