Vereenvoudig jou aantrekproses met die kreatiewe kapsule-metode

Al ooit gehoor van ’n kreatiewe kapsule? ’n Aantrek-metode wat jou help om al die klere in jou klerekas suksesvol te dra, verskillende kleure en patrone te kombineer, en belangrikste? Dit help jou om jou aantrekstyl te ontwikkel. Voorkomskonsultant en modepatroon-meng koningin Thia van Vuuren @thiathee op Instagram, deel meer oor die kreatiewe kapsule-metode wat sy bemeester het, hoe dit verskil van die gewone “capsule wardrobe” konsep en hoe om hierdie metode reg aan te pak. Thia deel daarby 8 voordele van die kreatiewe kapsule en hoekom dit ’n moet-probeer is. Saamgestel deur Justine Pittaway Kroes

31/01/2025

Wat is ’n kreatiewe kapsule?

’n Kreatiewe kapsule bestaan uit 10 items uit jou klerekas wat tussen 30 tot 40 uitrustings kan verskaf. Jy kan met jou kreatiewe kapsule vir ’n volle maand elke dag anders lyk, verduidelik Thia Thee.

Hoe verskil die kreatiewe kapsule van die “capsule wardrobe” metode?

Thia sê; “Die creative capsule en die capsule wardrobe verskil hoofsaaklik op twee maniere:

1. Die eerste een is die aantal items waaruit die kapsule bestaan

’n Tradisionele kapsuleklerekas verwys na ’n hele klerekas, van 40 tot 50 items in neutrale skakerings wat almal by mekaar pas. Die kreatiewe kapsule verwys na 10 items wat jy vir ‘n korter tydperk, enigiets van 7 tot 30 dae kan meng en pas, en dan uitruil vir ’n ander kombinasie in jou kas.

Thia se x10 item kreatiewe kapsule vir die volgende week

2. Die tweede verskil is die kleurkombinasies en kreatiwiteit

Die tradisionele kapsuleklerekas bevat gewoonlik meer neutrale skakerings (wit, swart, beige, ligte blou) om te verseker dat jou hele klerekas bymekaar pas. Die kreatiewe kapsule kan ook ligter skakerings bevat maar die doel is om meer kreatief te speel met jou klerekas – en patroon en kleurkombinasies te probeer wat jy nooit voorheen sou nie. Die metode skep ’n veilige plek om met jou kleure te speel, verduidelik Thia.

Hier het Thia met 10 items ‘n totaal van 20 uitrustings aanmekaar gesit:

8 Voordele van ’n kreatiewe kapsule

Thia deel passievol haar 8 voordele van die kreatiewe kapsule aantrekmetode en hoekom dit vir enige vrou ’n moet-probeer is:

1. Dit leer jou hoe om patrone en kleur te meng

Die kreatiewe kapsule bemagtig jou om kleurkombinasies suksesvol te dra. Indien dit jou styl is, help dit jou ook om patrone te kombineer. Byvoorbeeld om daardie een bont broek of romp in jou kas by meer as een toppie te dra.

@thiathee op Instagram

2. Jy ontwikkel jou persoonlike klerestyl

Hierdie metode help jou om jou eie styl te ontwikkel, jy leer vinnig waarvan jy hou en wat jy eerder nie wil dra nie, jy speel werklik met jou klere!

@thiathee op Instagram

3. Jy dra AL jou klere

Deur middel van ’n roteringstelsel word al die klere in jou klerekas werklik gedra. “Ek dra my kapsule vir ten minste 10 dae voordat ek weer my kledingstukke uitruil”

4. Jou klere word meer as een of twee keer gedra

Die kreatiewe kapsule help jou om jou klere oor en oor te dra. Klere is duur en hulle moet vir jou werk. Dit is presies wat hierdie aantrekmetode doen, jy dra jou klere totdat jy moeg is daarvoor (7 tot 30 dae) dan bêre jy hul en ruil dit uit vir ’n ander kreatiewe kapsule met verskillende kombinasies.

“Dit is nie ’n probleem om baie klere te hê nie, die probleem is, dat die klere nie gedra word nie. Die kreatiewe kapsule stel jou in staat om te dra wat jy het, sonder om ’n enkele nuwe item te gaan koop. Probeer dit en sien vir jouself!”

Thia van Vuuren

5. Jy maak doelgerigte klerekopies

Nog ’n voordeel is dat jy meer doelgerig is met jou klerekopies, verduidelik Thia “Jou kreatiewe kapsule help jou om vinnig te identifiseer wat jy werklik in jou kas nodig het en watter items jy maar kan laat gaan omdat jy hulle nie so baie dra nie.” Vra jouself af “het ek ander klere wat ek rondom hierdie nuwe jas of bont rok ’n kapsule kan bou?” Verby is die dae van klere koop wat jy slegs een of net ’n paar keer dra.

@thiathee op Instagram

6. Trek blitsvinnig aan

Dit help jou om soggens baie vinnig aan te trek. Jy hoef nie te dink oor wat jy graag wil dra nie, jy behoort enige van die 10 items saam te kan gooi vir ’n lekker uitrusting. “Hang jou 10 items apart, ek hang myne op ’n klerereling langs my bed – dit maak die proses nog makliker,” verduidelik Thia.

7. Bemeester high-low aantrekstyl

Jy bemeester die high-low aantrekstyl (om kleredragkodes te meng) deur glansitems by meer gemaklike kledingstukke te dra. Byvoorbeeld ’n blinkerromp by ’n t-hemp. Moet nie items in jou kas laat wag vir spesiale geleenthede nie, “capsule dit en dra dit!” sê Thia

@thiathee op Instagram

8. Vir elke stylpersoonlikheid

Die metode is gepas vir enige stylpersoonlikheid, die “creative” verwys meer na die manier waarop jy met klere speel. Dit gaan meer oor die kreatiewe kombinasies waarmee jy vorendag kom. ’n Kreatiewe kapsule is ’n veilige plek vir enige styl om te speel.

@thiathee op Instagram

’n Kreatiewe kapsule hoef nie net uit helder kleure en bont patrone te bestaan nie.

Byvoorbeeld:

’n Natuurlike elegante stylpersoonlikheid se kreatiewe kapsule mag dalk sagter kleurskakerings in in katoen en leermateriale bevat, patrone kan ’n sagte blou strepie op jou linnehemp wees. Alles wat steeds daardie natuurlike elegante stylpersonlikheid reflekteer.

’n Kreatiewe elegante stylpersoonlikheid se kapsule sal bestaan uit items met onverwagse patrone en kleurkombinasies met ’n unieke item wat ’n interessante storie het.

’n 100% Klassieke stylpersoonlikheid se kreatiewe kapsule mag dalk bestaan uit wit, swart en ’n tikkie rooi met ’n strepies t-hemp.

Doen dit so:

Thia se 5-stap-proses tot jou eie kreatiewe kapsule

Stap 1

Begin so, kies enige twee items wat by mekaar pas. Dit hoef nie noodwendig twee items te wees wat jy bymekaar gaan dra nie. maar ’n uitrusting waarvan jy hou is altyd ’n goeie beginpunt om te “capsule” sê Thia.

Stap 2

Kies enige twee broeke of rompe wat jy onder gaan dra. Die reël hier is dit moet pas by albei items in stap 1.

Stap 3

Kies enige drie items wat jy graag bo wil dra, moulose hempies, t-hemp, knopieshemp, trui ensovoorts. Die reël; dit moet pas by al die items in stap 1 en 2.

Stap 4

Kies ’n joker item. Dit is enige item, hetsy dit ’n broek, hemp, of romp wat by al die ander items pas. Dit kan ’n eenvoudige wit t-hemp of ’n grys polonek of selfs ’n bont rok wees. Die enigste reël is dat die item by al die ander items van stap 1 tot stap 3 moet pas.

Stap 5

Kies twee “layering” items – kledingstukke wat jy normaalweg bo-oor sou dra soos byvoorbeeld ’n jas, blazer, trui of knopieshemp. Die idee hier is dat jou “layering” item jou uitrusting meer interessant sal maak.

Kreatiewe kapsule skoene

Ek kies gewoonlik 3 pare skoene:

Een paar skoene waarmee jy kan hardloop, dink bv aan tekkies (Mammas sal weet!). Veral gepas vir dae waneer jy weet jy baie op jou voete gaan wees.

Tweede paar skoene soos ’n loafer of sandaalstyl. Dink aan jou gunsteling paar skoene wat jy gereeld wil dra. Die skoen is steeds gemaklik, maar ‘n skoen wat byna by enige uitrusting sal pas.

En jou laaste paar – ’n fancy skoenstyl soos ’n blokhakskoen of daardie blink skoen. Wat jou uitrusting sal verhef vir ‘n afspraak of belangrike vergadering.

Meer oor Thia van Vuuren

Thia van Vuuren van To The Tee Studio is ’n mamma van twee, ’n voorkoms en styl konsultant, en kundige kenner van die 10 item kreatiewe kapsule.

Thia is boonop ’n thrift kenner en het ’n behulpsame gids saamgestel wat vroue bemagtig om op tweedehandse aanyln platforms slim mode kopies te maak. Thia is AICI gesertifiseer deur @imageinnovators_sa

Volg vir Thia op Instagram hier by @thiathee

Stylvol

Handige ekstra wenke en raad, spesiale afslag en wenke, slegs vir die binnekring.

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui

Oor ons

Stylvol sosiale media

Nog Stories
Uitrustings vir troues en spesiale geleenthede – hier is raad
error: Content is protected !!