Sonskyn, skemerkelkies met vriendinne en ’n splinternuwe handsak – klink vir ons soos ’n goeie begin aan die somer wat net om die draai is. Dink aan natuurlike teksture, pastelskakerings en interessante silhoeëtte vir ’n vars somer handsakvoorkoms. Hier is die 9 handsakstyle wat tans op ons moderadar is: Deur Justine Kroes
9 Handsakstyle op ons moderadar:
1. Natuurlike teksture
Hierdie teksture was ’n gewilde handsakkeuse op modeloopplanke by ontwerpers Chloé en Lacoste te sien. Niks sê somer soos natuurlike teksture nie, dink aan geweefde mandjies en raffiastyl drasak (tote).

Dra jou geweefde “tote” styl handsak by ‘n ligte linnerok vir die perfekte somersdag uitrusting.

Psst, wees op die uitkyk vir een met interessante afwerkings of versierings soos kleurvolle leerbandjies of blinkers/pailette (sequins).
2. Oos/wes handsakstyl

Hierdie minimalistiese sjiek, langwerpige skouerhandsakkie is tans oraloor te sien aan modebekendes se arms en staan bekend as die “East/West” handsakstyl. ’n Silindertipe ontwerp (dink aan ’n AA battery) handsak met struktuur en ’n retro gevoel.

Hierdie langwerpige handsakkies is minimalisties en sjiek, net groot genoeg vir al die belangrikste noodsaaklikhede (selfoon, bank kaarte en lipstiffie natuurlik!).
Wenk: Kies een met ’n band wat oor jou lyf kruis vir ’n praktiese “handvrye” handsakstyl.
3. Geweefde leer
Handsakke wat soos ’n geweefde kunswerk lyk word voorspel om vanjaar ’n groot handsaktrend te word. Geweefde leer, en selfs ’n gehekelde geweefde handsakstyl soos gesien op loopplanke by Jacquesmus en Bottega Veneta.

Hierdie handsakstyl is ideaal vir daardie persoon wat ’n tikkie luuksheid verkies. Die stille luuksheid handsakontwerp is subtiel, gesofistikeerd en pas byna by als.
4. Die “dokter” handsak

Dink terug aan hoe dokters destyds huisbesoeke gedoen het met hul groot swart mediese tasse. Hierdie handsakstyl lyk soortgelyk, behalwe effens kleiner en meer modern.
Beskikbaar in allerhande skakerings en materiale, is dit beslis ’n tydlose handsakstyl wat nog vir lang jare ’n gunsteling in jou klerekas sal bly.
5. Pastel skakerings

Die vorige seisoen was handsakke in helder skakerings soos rooi en groen aan die orde van die dag, maar vir Lente/Somer 2025 is sagte pastelskakerings groot nuus. Dink aan sagte bottergeel of babablou, ballerinapienk of sagte pistasiegroen.

Dra jou sagte pastelhandsak by kraakvars wit somerrokke of pakke vir ’n moeitelose voorkoms.
Wenk: Hou jou klerekas in gedagte wanneer jy ’n pastelkleurige handsak kies – dink by watter items jou pastelkleur sal pas en waarby jy dit sal dra. Indien jy sukkel, is daardie handsak skakering dalk nie vir jou nie.
6. Die B.B.G (Big Brown Bag) Groot bruin sak

Met Pantone se 2025 kleur van die jaar “mocha mousse” is dit duidelik dat bruin (in alle skakerings) ’n reuse modetrend is en nog gaan bly wees.

Bruin handsakke (van donkerbruin tot ligbruin) het byna op elke modeloopplank gepronk. Kies vanjaar ’n moderne bruin handsakstyl om jou gewone ou bruin leer handsak te vervang.
7. Fraiings

Met maksimalisme en daarby ook die boho-sjiek modetrend wat vanjaar terugkeer, is fraiings op handsakke meer gewild as ooit.

Ons hou veral van fraiing handsakke in helder of pastel skakerings vir daardie prettige somergevoel.
8. Blink versierings en bandjies

Hetsy dit nou ’n blink juweelstylbandjie is, gespes of ’n handsak vol metaaldrukkers (studs), handsakke met versierings is in.

Dink aan verstelbare blink bandjies wat jy kan pasmaak tot jou eie styl en behoefte, onder jou arm deur of gekruis oor jou lyf dra. Handsakke omring met metaaldrukkers (studs) is nog ’n gewilde handsakstyl op ons somermode-radar.
9. Groot handsakke

Groot dra-dit-als styl handsakke is hierdie seisoen groot nuus. Veral die met struktuur en bandjies (top handles veral) aan die bo-kant. Van piepklein handsakstyle tot nou weer oorgroot, is ons opgewonde dat hierdie handsakstyl weer terug is. Prakties genoeg om jou skootrekenaar ook hierby in te pas!




















