Om ’n groter borsmaat te hê is nie aldag maklik nie. Ons het ’n paar kenners gevra watter foute hulle vroue met groter borste dikwels sien maak. En natuurlik deel ons oplossing ook. Ons is hier om te help. Deur Suzanne Kotzé
Kenners gee raad; vermy hierdie foute as jy ’n groter borsmaat het
Mode-ontwerper Isabel de Villiers, mode-stilis Wandé Franzsen, model en handsak ontwerper Beatrice Fassler van Belegra en Liza Clifford, eienaar van Liza Clifford Bra Studio gee raad.
Bra-foute
Liza, Isabel, Wandé en Beatrice stem almal saam dat die regte bra veral belangrik is vir die van ons met ’n groter borsmaat. Vermy hierdie bra-foute
1. Verkeerde tipe bra
“Alhoewel niemand jou bra sien nie, verander dit wel die vorm van jou lyf. Jy weet self hoe anders jou borste lyk in ’n ou uitgerekte sportbra teenoor ’n bra met ondersteuning waarvan die bandjies reg verstel is. Jy kan van voor, agter en die kant van jou silhoeët ’n groot verskil in die vorm van jou lyf sien as jy die regte bra dra.” Ontwerper, Isabel de Villiers.
Oplossing: Maak seker jy kies die regte tipe bra, wat goed pas, vir jou kledingstuk. Beatrice (wat self ‘n groter borsmaat het) sê dit is die moeite werd om te belê in bra’s wat goed pas en goeie ondersteuning bied. “Ek kan nie sonder my bra’s met dikker skouerbandjies en dikker rugpanele nie,” sê sy.
2. Verkeerde grootte bra
“Maak seker jy dra die korrekte grootte bra. Jou borste se grootte kan verander deur jou leeftyd, en ek sien baie vroue wat dink hulle is nog dieselfde grootte 20 jaar later.” Modestilis Wandé
Oplossing: Laat jou borste professioneel meet
3. ’n Bra met ’n te los band en te klein koppies
Liza Clifford sê vroue met groter borste maak dikwels die fout om bra’s te dra met ’n te los band (die deel wat om jou lyf kom) en koppies (cups) wat te klein is. Jy het dan swak ondersteuning, borsweefsel wat oorhang en ‘rugvet’ aan die kante en agter.
Oplossing: Stel jou band stywer, en maak seker die koppies is nie te klein nie. Lig jou borste (ook die kante) in die koppies in. So is jou silhoëet kleiner en jy kry veel meer ondersteuning.
4. Bra-bandjies wat te los sit
“Baie vroue wat ek aantrek, dra hulle bra-bandjies (die bandjies oor jou skouers) te los, en dit maak so ’n verskil as mens ’n bra het wat goed pas en waar die bra-bandjies nie te los is nie. Die bandjies rek uit oor tyd.” Wandé
Oplossing: Pas gereeld jou bra’s aan en verstel die bandjies.
5. Jy dink jou bra-bandjies doen die ligwerk
“As jou bra-band te los is, moet jou bra-brandjies al die gewig dra. Dit veroorsaak ongemak (daai bandjies wat so in jou skouers insny!) en bied dan nie genoegsame lig of ondersteuning nie.” Liza Clifford
Oplossing: Verstel jou bra-band as dit te los sit. Onthou die band moet die swaar ligwerk doen.
6. Jy dink ’n ‘minimizer’ bra gaan jou borste kleiner laat lyk.
Liza Clifford sê: “Baie vroue met groter borste dra ‘minimizers’. Al wat dit doen is om jou borste plat te druk. Dit maak eintlik die area nog groter, veral rondom jou middel. Jou borste word nou net platgedruk en dit maak dit moeilik om vleiende style te dra, soos goedpassende bostukke en rokke.
Oplossing: Kies eerder ’n bra wat goed pas, met ’n band wat styf genoeg is sodat jy jou natuurlike middel kan beklemtoon en so ’n meer vleiende silhoeët skep.”
7. Jy dink jy kan nie ’n ‘padded bra’ dra nie
“Daar is ’n wanpersepsie dat ‘padding’ of bra’s met gevormde koppies jou borste selfs nog groter sal laat lyk, maar dit gebeur slegs as die bra nie reg pas nie,” sê Liza.
Oplossing: “’n Padded of moulded bra wat reg pas, kan jou borste gladder laat lyk en ook ’n netjieser voorkoms skep, veral onder T-hemde of ligte materiale.” Liza.
8. Jy dink ’n DD is ’n groot grootte
Liza sê: “Baie vroue dink verkeerdelik dat ’n DD ’n baie groot grootte is, maar dit is nie noodwendig waar nie. Vir baie vroue met groter borste is ’n DD dalk te klein.
Oplossing: Maak seker jy dra die regte grootte bra en koppie grootte deur jou professioneel te laat meet, want jy is waarskynlik baie groter as ’n DD.”
9. Jy gaan nie vir professionele bra-meet en pas nie
“Deur nie vir ’n professionele bra-meet en pas te gaan nie, en om op kettingwinkels staat te maak, kan bydra dat jy die verkeerde grootte bra dra.
Oplossing: Ruim tyd in vir ’n behoorlike bra-pas en meet. Hierdie is vreeslik belangrik vir vroue met groter borste. Onthou professionele konsultante wil jou graag help om op jou heel beste te lyk.” Liza Clifford.
Modefoute
10. Klere wat te los of te styf is.
“Vroue wat klere dra wat OF te groot ‘baggy’ OF te klein is sal hul borste groter laat vertoon as wat hulle eintlik is.” Isabel. Wandé stem saam” As jou bostuk te groot is, sal dit jou borste nog groter laat lyk, en as dit te knap is, beklemtoon dit weer jou borste.
Oplossing: “Maak seker jou bostukke en klere pas perfek bo,” sê Wandi. Isabel sê dat jy dit altyd na jou plaaslike ‘tailor’ toe kan neem vir verstelling sodat dit jou reg pas. “Onthou elke lyf is anders.” Liza stem ook saam: “Klere wat goed pas en saam met ’n bra wat behoorlik pas gedra word, sal jou figuur vlei en jou middel beklemtoon.
11. Hoë neklyne
“Dit skep die illusie dat jy net een groot borskas het – die uniboob,” sê Isabel. “Dit kan ook jou borste blokkig en groter laat lyk,” sê Beatrice.
Oplossing: “Dit is baie meer vleiend om n V-nek, scoop neklyn of sweatheart neklyn te dra. Dit laat jou nek langer en jou borste kleiner lyk.” Isabel. “’n V-nek is altyd ’n goeie opsie,” sê Wandé. Beatrice beveel aan dat as jy wel ’n polonek wil dra, jy eerder ’n lang rok of bostuk kies, en jou middel beklemtoon met ’n gordel.
12. Te veel detail om borste ‘weg te steek’
“Nog ’n groot fout wat ek gereeld sien, is die cover-up fout. Te veel frille, strikke, drapering en lap om groot borste weg te steek. Dit beklemtoon net die deel wat jy wil verbloem. Dit laat jou top-heavy lyk.” Isabel
Wandé stem saam: “Bly weg van groot pof skouers, en groot valle oor die bors area, partykeer dink mens dit steek jou borste weg, maar dit laat dit net nog groter lyk.” Beatrice stem ook saam.
Oplossing: Beatrice beveel aan: “Hou die boonste deel van uitrusting eenvoudig en fokus eerder om jou middel te beklemtoon, en hou details soos strikke en valle vir ander dele van jou lyf soos jou skouers, heupe of soom.”
13. Bonkige halsnoere
Isabel sê: “Wees versigtig met bonkige halssnoere wat op jou borslyn val. Dit skep ’n fokuspunt.
Oplossing: Dra eerder ’n halssnoer wat tussen jou nek en borslyn val.
14. Groot patrone
Wees versigtig vir groot patrone oor jou borsmaat, pas altyd eers aan om te kyk of dit nie dalk jou borste beklemtoon nie.
Oplossing: Strepe en kleiner kolle of kleiner dieremotiefpatrone werk goed.
15. Dun materiaal
“Materiaal wat dun is of rekbaar is en span oor jou borste trek net meer aandag en laat hulle groter lyk.
Oplossing: “Kies eerder ’n swaarder en dikker tipe materiaal,” sê Beatrice.
Wenke vir ‘n groter borsmaat
Balanseer jou proporsies.
“As jy groot borste het, sal ’n helder broek en donker V-nek top goed werk om jou uit te balanseer.” Isabel
Beklemtoon jou middel
As jy ’n kleiner middel het, dra ’n gordel wat dit beklemtoon. As jy ’n regaf bostuk dra wat oorgroot is, kan dit jou groter laat lyk, so “snatch” dit in by die middel, en dit gee jou ’n uurglasvorm.” Wandé
Haakspelde in jou handsak
“Daar is niks so erg soos om op pad na ’n funksie te wees, of erger, by ’n funksie te wees en jy kyk af en sien jou knope gaap oop by jou borste nie. (Hierdie is bekend as die ‘boob gape’.) Soms is dit nie eers omdat die kledingstuk te klein is nie, maar die knoopsgaatjies is dalk te groot of die ekstra stremming op die knopies is net te veel. Hou haakspelde in jou handsak (en sommer jou motor ook) vir hierdie noodgevalle.” Suzanne
Hou hakies en ogies byderhand
“Bostukke wat perfek lyk aan ander is dikwels heeltemal te laag vir die van ons met groter borste. Leer om sommer self hakies en ogies aan te werk, aan byvoorbeeld ’n oorvourok of tussen knope wat oopgaap.” Suzanne
As jy ’n bostuk kry wat perfek pas, koop nog.
Mens sou dink dat jy in elke winkel minstens ’n paar basiese V-nek bostukke behoort te kry, maar dit is selde die geval. As jy een raaksien wat perfek pas, koop sommer ’n ekstra een, of laat maak vir jou nog.
Materiaal wat effens rekbaar is
Bostukke en rokke wat uit materiaal wat effens rekbaar (maar nie te dun is nie) gemaak word, werk goed. So kan dit effens rek oor jou borsmaat, sonder dat dit te los om jou middel sit. Kyk vir materiaal soos ‘n rekbare crepe.
Ondersteun plaaslike ontwerpers
Leer ken plaaslike ontwerpers soos Isabel met wie jy ’n verhouding kan opbou en wat verstellings vir jou kan maak, of volgens jou mates vir jou klere kan maak.
Oorvourokke en bostukke
Oorvourokke en bostukke werk goed om ’n V-halslyn te skep en beklemtoon jou middel.
Voel goed in wat jy dra
Onthou hierdie is alles net riglyne, en ons almal se lywe verskil. Die heel belangrikste is dat jy vol selfvertroue en goed moe voel in jou uitrusting.