Hierdie seisoen is daar ’n stylvolle skoen vir elke stylpersoonlikheid, van gemaklike espadrilles, aanglip- sandale tot skoene vol blink versierings asook retro tekkies. Hier is ’n lys van 10 somer-skoenstyle wat hierdie somerseisoen groot nuus gaan wees (en eintlik reeds volop in die winkels is!). Deur Justine Kroes
28/10/2022
1. Interessante hakke
Skoene met interessante ontwerpe is een van die gewilde somer-skoenstyle trends – ontwerper Jonathan Anderson van die modehuis Leowe het vir die somer 2022 reeks skoene ontwerp met interessante hakke – naellak botteltjies, onderstebo rose en selfs ’n gekraakte eier, vreemd maar innoverend fantasties!
Hoewel daar nie juis tans presies dieselfde skoenversierings in Suid-Afrika is nie, is dit wel duidelik dat interessante en anderste tipes hakstyle wel volop is, van negatiewe spasie-hakkie, driehoekvormige hakke of hakke wat soos balle lyk.
Hier is ’n paar wat ons nie kon miskyk nie:
2. Espadrillestyle
Net soos gemaklike sandale in enige somerklerekas hoort – is Espadrillestyl-skoene nog ’n absolute moet-hê in jou somerskoen-arsenaal. Die skoenstyl word gemaak van ’n tipe tou-geweefde lap wat nie net gemaklik en lig is nie – maar is ook lieflik koel aan jou voete op warm dae te danke aan die natuurlike vesels. Die espadrille skoenstyle is oneindig van oop tone, toe tone, tekkiestyle en selfs sandaalontwerpe – beslis iets vir almal.
Wenk: Vir hierdie seisoen se Espadrille – kies meer moderne opsies soos die “flatform” style of die met metaalskakerings en afwerkings.
3. Maklike aanglipsandale
’n Stapel vir ’n besige “on the go” vrou en sommer ’n lekker vakansie skoenstyl daarby. Jy kan nie verkeerd gaan met ’n gemaklike aanglipsandaal (die waarin jy moeiteloos jou voet kan instoot) vir vanjaar se somer nie.
Wenk: Kies óf ’n skakering wat by meeste uitrustings in jou klerekas sal pas, óf waag ’n bietjie en kies een in ’n super helder skakering!
4. Blink versierings
Hierdie is een van die heel grootste skoentendense van die oomblik – of dit nou ’n hakskoen, plakkie of sandaal is – kyk uit vir iets met ’n reuse (of klompie) blink versierings op.
Wenk: ’n Skoen met ’n blink versiering val dadelik in die meer “formele” aantrekstyl kategorie, dus kan jy maklik die “high-low” aantrekstyl aanpak met hierdie skoenontwerp. Dra jou blink versierde skoen by jou denims en T-hemp vir ’n “high-low” voorkoms. Nie seker wat “high-low” beteken nie? Lees meer hier.
5. Bandjies bo
Sandale en hakskoene met bandjies as fokuspunt, of die bandjies nou om die enkel of been vou of net ’n “super strappy” ontwerp het, weet net bandjies in oormaat is in.
Wenk: Hoewel die tendens is “hoe meer bandjies hoe beter” – maak net seker die bandjies lyk vleiend aan jou voet – ons het al ’n paar aangepas en lekker gegiggel oor ons voete wat deur die bandjies as iets soortgelyk as kersfeeshamme uitgebeeld word!
6. Groot hoogtes met platformskoene
Platform enigiets – van tekkies tot stewels en sandale – die platformhakskoene is groot nuus. Hemelhoë skoene gedra by formele of informele uitrustings (hoe hoër hoe beter!) kies helder skakerings om in die kol te wees met hierdie trend.
Wenk: Wees seker jy kan behoorlik loop in die paar wat jy kies!
7. Bonkige sportsandale
Bonkige sportsandale is terug. Ontwerper Proenza Schouler het gespog daarmee op die somer 2022 loopplanke by fraaiingrokke en rompe.
Hierdie skoenstyl is beskikbaar in talle soorte van reënboogskakerings vir iets wat uitstaan of neutrale skakerings in leer of die met nylonbandjies. Onthou – hoe bonkiger hoe beter.
Wenk: Skep balans in ’n uitrusting en dra hierdie meer manlike styl skoen by vroulike items soos rokke en rompe om jou voorkoms te versag.
8. Retro tekkies
Die retrostyl tekkies van die 90’s is terug – groot en bonkig maar dink ook aan daardie “nike cortez” met die ronde voorpunt silhoeët wat destyds groot nuus was.
Wenk: Kies helder en kleurblok opsies vir ’n behoorlike uitstaan retrotekkie.
9. Balletskoene
Die nederige balletskoen is terug! Te danke aan ontwerpers soos Chanel en Simone Rocha se Somer 2022 modevertonings is die skoen terug soos nooit van te vore nie. Kies ’n helder skakering en dalk iets in leer vir daardie uber ekstra gemak!
Wenk: Hierdie veelsydige skoen kan by jou denims, rompe, rokke en selfs werkspakke gedra word – ’n veelsydige tydlose stapelskoen wat elke somer vir nog jare ’n gunsteling in jou klerekas sal bly.
10. Plastiek
Onthou jy nog jou jelly sandale wat jy dalk as dogtertjie/tiener gedra het? Wel jelly skoene of skoene met plastiek is terug. Deursigtige plastiek, gekleurde plastiek, dun bandjies plastiek, amper enige plastiek – ook een van dien “in” somer-skoenstyle
Wenk: Kyk dalk eers baie mooi hoe jou tone lyk deur daardie deursigtige plastiekskoen se voorpunt – ek het onlangs by ’n geleentheid iemand se tone sien smag na asem in so plastiekskoen – die plastiek was skoon opgewasem en die tone sommer eina rooi gedruk – iets wat ek nie graag op enige iemand se tone wens nie!