zomerlust
zomerlust

Zomerlust: Ouwêreldsje sjarme en sagte luuksheid

Die geskiedkundige Zomerlust boetiek hotel in die Paarl mag dalk ’n ikoniese statige dame wees, maar met haar nuwe baadjie het sy so ’n bietjie van ’n Iris Apfel mooimaak gekry. Dink aan ou wêreldse sjarme, met speelse kleure en kreatiwiteit. Misi Overturf was verantwoordelik hiervoor en sy deel meer oor die proses en ook wenke oor hoe jy oud en nuut saam kan gebruik. Deur Suzanne Kotzé.

Zomerlust, die vasvang van Paarlse geskiedenis

Die voorkant van die geskiedkundige Zomerlust boetiek hotel (wat reeds in 1792 gebou is).
Die hotel vanuit dit pragtige tuin aan die agterkant.

Ons was gelukkig genoeg om saam met ’n groep vriendinne genooi te word om by Zomerlust boetiek hotel oor te bly. En was dit nou ’n ondervinding. Van die Rolls Royce wat jou aanry en voor die hotel staan en wag, tot die pragtige, luukse kamers en smullekker kos in SMEUL Restaurant.

Misi Overturf (bekend vir onder andere In die Sop) stap saam eienaar Elizabeth in die tuin rond, net toe ek die pragtige tuine binnestap na my aankoms.

Elizabeth Lategan wat die hotel saam met haar man Wikus besit bly in Pretoria en ’n paar jaar terug so ‘n helder droom gehad oor die hotel, dat sy vir ‘n vriendin ‘n voicenote gestuur het oor dit. “Ek was nog nooit hier nie,” vertel sy. “Ons was oppad na die Weskus met vakansie en toe stop ons oppad by die hotel, wat toe pas op die mark gekom het. Eers toe ek by die trappe afstap by die hotel, het ek besef dit is hier waar my droom afgespeel het.”

Vir Misi was die mooimaak van Zomerlust nie net spesiaal nie, maar ook ’n voorreg.

“Met my eie Paarlse herkoms dra ek natuurlik ook ’n geskiedenis met die vallei en die perseel self. Vir my is Zomerlust nie net ’n hotel nie, maar deel van die groter verhaal van die Paarl.”

Die Bolandse kleurpalet

“Die projek het gegaan oor die vasvang van daardie geskiedenis, die stories deur die seisoene heen, maar ook die skep van ruimte vir nuwe herinneringe en ervarings. Die natuurlike landskap het ’n groot rol gespeel in die gevoel van die hotel.

Die rooi berge, olyfbome, sagte stofblou skakerings en die veranderende Bolandse lig het amper die interieurpalet self geskilder,” vertel Misi.

Misi beskryf die buitekant van die gebou as ’n pêrel wat jou oog moet vang.

“Die mooi wit gebou, akkerbome en die muurkuns langs die kant wat jou lei na die magiese binnehof.

Vroeg-oggend terwyl ek foto’s neem nadat ons hier oorgebly saam het, begin ‘n Paarlse oom en tannie met my gesels terwyl hulle verbystap. “Ek het tien jaar terug my verjaarsdag hier gehad,” vetel die tannie opgewonde. “Dit is nou so mooi hier; ons het ingeloer terwyl hulle besig was. Het jy al die mooi blomme op die muur gesien,” vra sy sonder asemhaal tersyl sy my laat saamstap om te wys. (Die blomme is vanaf die hoofpad sigbaar.)

“Ek wou hê mense moet oor die drumpel stap en onmiddellik ontspan. Die ervaring moes onverwags, emosioneel en tog gemaklik voel. Daar moes warmte wees, karakter en ’n gevoel van samesyn. ’n Plek waar mense langer wil vertoef, tyd dalk bietjie stilstaan en gaste (en die wat daar werk) werklik tuis voel.”

Die interieur opdrag

Die opdrag was om ’n bestemming te skep wat histories geanker voel, maar steeds vars, begeerlik en relevant vir moderne gaste is. “Ons wou wegbeweeg van iets wat té formeel of té voorspelbaar voel. Daar moes ’n sagte luuksheid wees. Minder imposant en meer emosioneel. ’n Ruimte waar mense die atmosfeer van die Paarl kan ervaar op ’n manier wat verfynd, maar steeds eg en ontspanne voel.”

Die visie en konsep

Misi se aanvanklike konsep het begin by die spesifieke kleurpalet en om te werk met die “bene” van die perseel.

“Om die energie en unieke sjarme van die gebou te respekteer, is baie van my visie gevorm deur die Paarl-vallei se bekoring en deur Zomerlust se lieflike tuin.

Vyf primêre kleure

Ek het in die pragtige kamer 7 gebly.

Misi het vyf primêre kleure gekies wat as grondslag vir die hotel gedien het, en vandaar is elke kamer individueel benader met sy eie stemming en karakter.

“In die gemeenskaplike areas het ek subtiele verwysings na tradisionele erfenisgroen ingebring, maar in verskillende tonal variations sodat dit vars, gelaag en kontemporêr voel.

Ek wou hê die ruimtes moet voel asof dit oor tyd versamel is. Oud en nuut moes saam werk op ’n manier wat elegant, effens speels en heeltemal natuurlik voel. Daar moes ’n byderwetse huislikheid wees met fyn afronding en ’n klas van sy eie.

Die pragtige biblioteek/stikamer.

Baie oorspronklike elemente is behou en het liefde gekry. Selfs van die ou gordyne en ’n spesifieke kopstuk is ingewerk.

Dit was vir my belangrik dat alles nie blinknuut moes voel nie, maar eerder asof die hotel sy geskiedenis met trots dra.

Gunsteling dekorstukke

Misi het ongelooflik baie vreugde gevind in die restourasie van meubels en oorspronklike elemente met geskiedenis en karakter. Die hele binnestoep se vloer en vensters is byvoorbeeld oorspronklik Burmese Teak, ’n uiters gesogte houtsoort wat ons teruggeskuur het na sy natuurlike tonaliteit. Dit bring ’n ongelooflike warmte en egtheid na die ruimte.

Die klein koper pendant in die voorportaal is ook vir my besonders. Dit is meer as 110 jaar oud, met die hand gemaak, en beslis nie iets wat mens sommer vervang nie. Vandag hang dit saam met die William Morris-muurpapier, en daardie kombinasie van oud en oud op ’n nuwe vars manier vertel vir my presies waaroor Zomerlust gaan. Beskerming van erfenis.

Die gerestoureerde kaste is ongelooflik spesiale stukke en dan bly die sunburst-horlosie in die biblioteek wat ek op 5:15 namiddag gestel het sodat die vliegtuig altyd oor is iewers, een van my gunsteling elemente, kom in, sit, en drink iets en wees tuis.  

Misi se wenke hoe ons kleur kan kies en oud en nuut meng

Die kleurgebruik voel luuks én speels. Enige wenke oor hoe om kleur te kies?

Mense raak dikwels te gefokus daarop dat alles perfek moet pas, terwyl kleur eintlik oor atmosfeer en emosie gaan. Die geheim lê daarin om ’n stemming te skep eerder as om net mooi kleure langs mekaar te plaas.

Dink hoe kleur jou laat voel

Ek begin gewoonlik by iets natuurliks of hoe dit my laat voel.’n Landskap, ’n lappie, ’n herinnering of selfs ’n seisoen. 

Kies tonal layering, eerder as harde kontras

My grootste wenk is om met tonal layering te werk eerder as harde kontras. Daar is wel harde kontraste ook, maar dan is daar genoeg spasie vir die onverwagse om “asem te haal”.

Wanneer jy byvoorbeeld groen gebruik, werk met olyf, mos, salie en donker bosgroen saam. Dit laat ’n ruimte ryker, sagter en meer verfyn voel, maar ek het altyd plek vir ’n tikkie spitsvondigheid. Daar is altyd iets onverwags. ’n Interessante patroon, ’n okertoon, ’n kontrasterende lamp of ’n stof met karakter. Dit is gewoonlik daardie detail wat ’n ruimte lewendig en persoonlik maak.

Wat is jou wenke vir die meng van oud en nuut?

Ek is ’n groot voorstander van die Arts and Crafts-herlewing en die sogenaamde “original home”-tendense waar elemente eerlik, onopgesmuk en ingeleef mag wees. Daar is iets ongelooflik besonders aan meubels en materiale wat karakter, patina en geskiedenis dra.

Dit gee ’n huis diepte en siel. En juis daarom kan ’n moderne of ontwerpers-element só mooi daarmee kontrasteer. ’n Kontemporêre lig of bank met baie skoon lyne kry baie meer impak wanneer dit langs iets met ouderdom en ’n storie geplaas word.

Die geheim lê daarin om nie alles in een styl te probeer forseer nie. Die mooiste ruimtes voel versamel oor tyd, amper asof die huis natuurlik gegroei het. Kleur speel ook ’n groot rol om oud en nuut bymekaar te bring. Wanneer verskillende eras dieselfde tonale taal deel, voel alles onmiddellik meer harmonieus en kontemporêr.

SMEUL restaurant is in die kelder-area van Zomerlust.
Geskiedkundige foto’s op die mure.
Bekende sjef Kevin Grobler besig op die allerlekkerste biefstuk te bedien.

Besoek gerus zomerlust.co.za vir besprekings

Stylvol

Handige ekstra wenke en raad, spesiale afslag en wenke, slegs vir die binnekring.

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui

Oor ons

Stylvol sosiale media

Nog Stories
Mervyn Gers bekers
Kies en keur uit hierdie mooi bekers
error: Content is protected !!