Indien jy onlangs in die winkels was, het jy dalk al gesien die winkelrakke is reeds propvol winter mode-items. Deur die jare het ons al geleer sommige van die mooiste winterklere en skoene word heel eerste uitgepak (moontlik om ons opgewonde te maak oor die komende koue weer!).
Ons het vir drie stylkenners gevra, met die nuutste trends in gedagte, wat is heel bo aan hul kooplysie vir die komende winter. Hierdie winterstapelitems gaan jou opgewonde maak oor die winter! Saamgestel deur Justine Kroes
8 Winterstapelitems op stylkenners se kooplysies:
1. Iets in “kragtige rooi” (kersierooi en donker dieprooi)
“Rooi is hierdie winter ’n groot fokuskleur, en ek gaan beslis iets in ’n kersierooi of donker dieprooi aanskaf” verduidelik stylkenner en voorkomskonsultant Jeanine Theron (Volg vir Jeanine op Instagram hier).
Jeanine se raad, “Dra jou kersierooi of diep donkerrooi in een kleur van kop tot tone in ’n monokroom uitrusting. Speel met verskillende teksture (wol, leer, sweedsleer bymekaar) om die uitrusting interessant te hou.
Jeanine sê “En as jy nie wil nie, hoef jy nie alles in rooi te dra nie. ’n Enkele rooi item soos ’n jas, trui of selfs ’n handsak maak reeds ’n groot impak.”

“Ek het sopas vir my die “viral” rooi “technical” baadjie van Zara gekoop vir hierdie seisoen, ’n helder kersierooi praktiese baadjie. Loer hier hoe Jeanine die baadjie stileer.
2. Bruin Faux-Fur Jas
Stylkenner en voorkomskonsultant Susra Matthee sê “’n Bruin faux fur jas is nou al ‘n hele ruk op my wenslys. Dit is ’n tendens wat jaar ná jaar terugkeer en wat jy vir baie lank nog gaan kan dra. Deesdae is vegan fur so goed vervaardig dat dit amper onmoontlik is om te sien dat dit nie die ware jakob is nie.

“Ek het verlede jaar ’n kort (cropped) faux fur baadjie by H&M gekoop en ek is gaande oor die gevoel en die warmte daarvan, ek het dit ongelooflik baie gedra. Hierdie seisoen gaan ek ’n effense langer een koop. Dit is perfek vir koue aande uit” vertel Susra.
Volg vir Susra op Instagram hier.
3. Boheemse rok

Nog ’n mode-item op stylkenner Susra se kooplysie is ’n boheemse rok. “Ek wil hierdie winter in ’n paar boheemse items belê. Ek ag myself ’n baie sinvolle koper, en omdat die boho modestyl al vir jare lank in die mode is, voel dit soos ’n slim belegging. Ek dink dit is só stylvol dat dit eintlik nooit werklik uit die mode sal gaan nie, veral nie ’n boheemse maksirok nie”
Susra sê “Maksirokke is ideaal vir die winter, veral wanneer dit met kniehoogte stewels gedra word. Boonop gaan dit perfek pas by my faux fur jas wat ek gaan koop! Die styl het daardie ontspanne, moeitelose en elegante gevoel wat maklik is om te dra”.
4. Loafers
Stylkenner en voorkomskonsultant Jean-Mari Hellig se mode-moet: “Ek is baie opgewonde oor die Loafer wat hierdie seisoen groot nuus gaan wees. Ek hou veral van ’n leer loafer. Die stylopsies met hierdie skoen is eindeloos, dra dit netjies, of meer gemaklik, hier is ’n paar idees:
Dra dit meer klassiek by ’n denim by ’n wit bloes gekombineer met ’n jas daaroor.
Of jy kan dit dra by ’n romp of rok met sykouse daarby.
Dra dit meer gemaklik by jou barrel denim en ’n trui, of selfs ’n t-hemp en ’n blazer baadjie daarby.
Die loafer is nie net in die mode nie maar is ’n veelsydige kopie wat jy seisoen na seisoen sal kan dra.

Wenk: Koop die beste kwaliteit wat jy kan bekostig, is Jean-Mari se wenk. Bruin of swart (selfs donkerbruin of boergonje is groot nuus), maar koop ’n Loafer in ’n skakering wat jy baie dra, sê Jean-Mari.
Moenie bang wees om ’n sokkie of dun sykous by jou Loafer te dra nie vertel Jean-Mari, dit is die 2026 manier om jou loafer te stileer.
Volg vir Jean-Mari op Instagram hier.
5. Gepoleerde swart leggings

Stylkenner en voorkomskonsultant Lizanne Anderson se swart leggings is op haar koop lysie die winter-seisoen. “Dink aan swart leggings, effens dikker materiaal as jou oefenbroek en dit moet hoog om jou middel pas. ‘n Mooi knoophemp, lang jas en deftige plat skoene sal beslis ‘n gereelde uitrusting keuse wees”.
6. Sweetpakbroeke, maar netjies!

Nog ‘n styl-item op Lizanne se kooplysie is die sweetpakbroek. “Die trackpants trend het behoorlik oorgeneem en daar is ‘n duidelike en doelbewuste stilering van sweetpakbroeke. Van stilering met ‘n wit kraaghemp, ‘n jas met struktuur en jou gunsteling bykomstighede, is die trackpant blitsig besig om ‘n gunsteling alternatief vir tradisionele winterbroeke te word. Ek moet erkenm die gemaklike mens in my sien baie uit na hierdie trend waar styl en gemak mekaar nie uitsluit nie!” vertel Lizanne
Volg vir Lizanne op Instagram hier.
7. Edgy leer/ of sweedsleer baadjie
Die leer baadjie hierdie jaar het ’n meer “oorgrootte” gevoel, dink bomber styl baadjies. Dit is meer edgy en iets wat jy by baie ander uitrustings kan stileer, by jou sweetpak, of denims en selfs toegerits by ’n romp. ’n Edgy leerbaadjie of selfs sweedsleer baadjie is bo aan my kooplysie, vertel Jean Mari.

Jean-Mari se raad – “Indien die oversized bomber baadjiestyl nie jou styl is nie, kies liefs ’n ontwerp wat meer tydloos is. ’n Baadjie wat jou stylpersoonlikheid vasvang eerder as trendy net vir een seisoen. Dit is ’n belegging (en nie ’n goedkoop kopie nie) daarby ook ’n item wat jare lank in jou klerekas sal hou, maak ook seker dit is ’n styl wat jy sal dra. As jy dit aantrek en dit lyk net nie vir jou reg nie, moet dit nie net koop net omdat dit tans trend nie.
Weereens sê Jean-Mari, koop die beste weergawe wat jy kan bekostig en maak seker die baadjie pas goed en dat dit definitief een is wat jy oor jare steeds sal wil dra.
8. Sy-/kantbloes
Nog ’n item wat ek graag sal aankoop, is die gewilde syerige cami met kant, wat diagonaal/ skuins afloop aan die onderkant. Dit is ’n trendy item wat vroulik maar ook effens sexy lyk. Dit lyk ook stylvol onder ’n blazer baadjie, edgy leerbaadjie of selfs ’n jas.

Jy kan selfs jou sy-cami stileer met ’n trui bo-oor en dan hang die lace aan die onderkant uit. Die diagonale lyn wat skuins afloop is ontsettend vleiend, vertel Jean-Mari.
’n Veelsydige kopie wat jy in die winter of somer kan dra, selfs met ’n hemp onderaan.





