6 Vreemde wintertrends

Kyk, ons het al geleer “never say never” wanneer dit by modetrends kom, maar met hierdie 6 vreemde modetrends is ons taamlik seker ons sal hulle nie sommer vinnig probeer nie. Van donsige skoene tot pofbroeke, lees meer oor die 6 vreemde wintertrends wat ons eerder vanjaar by ons gaan laat verbygaan. Deur Justine Kroes

24/05/2024

1. Pofbroeke

Foto: Pinterest

Dit het ons lank genoeg geneem om pofjasse aan te pak, pofbroeke gaan werklik eers moet wag! Danksy ontwerpershuis Miu Miu se gewilde broekontwerp is die pofbroek steeds ’n gewilde opsie.

Die meeste vroue probeer juis aantrek om die onderste gedeelte van hul lywe te vlei, nie om dit meer pofferig te laat lyk nie. Ons sal hierdie een laat verbygaan, dalk as die temperature in die Kaap minus 20 tref sal ons dit oorweeg (maar eers dan!).

Foto: Pinterest
Foto: Pinterest

2. Perdeskoen Denims (Barrel Jeans)

Foto: Pinterest

In die modewêreld beweeg trends vinnig en selfs nog vinniger wanneer dit by denimtrends kom. Ons het tot dusver ons noupassende “skinny” styl denims weggepak (jy kan dit steeds dra, dit is net nie meer hoogmode nie) en eerder regaf of wyepyp denims gekies. En hier is die volgende styl nou, en ons weet nie of ons gereed is hiervoor nie …glo 2024 se moet-hê denimstyl – die Barrel Jean.

Foto: Pinterest

Die barrel jean staan ook bekend as die “horse shoe” denim (die vorm lyk nes ’n perdeskoen). Hoewel ons dramatiese silhoeëtte geniet, weet ons darem nie of hierdie silhoeët vir ons is nie.  Maar dalk ’n effens minder perdeskoen-pof weergawe!

Foto: @constantly_k op Instagram

As proporsies nie in ag geneem word nie, sal hierdie denimstyl eintlik min lyfvorms vlei. Ons kyk (vir eers) hierdie kat nog uit die boom.

3. Donsige skoene

Foto: @Despi_naka op Instagram

Die donsige skoene oftewel fuzzy of furry skoentrend is ’n modetrend wat ons eenvoudig nie kans sien om aan te pak nie, bloot omdat ons nie weet hoe op aarde ons die skoene sal kan skoon hou nie. Oukei en omdat dit regtig snaaks lyk.

Foto: Shuting Qiu fall 2023 ready to-wear
Foto: MSGM Fall ready to wear 2023

Die donsige skoen is ten minste deur modekenners as 2024 se “ugly shoe trend” gedoop – maar is steeds ’n gewilde opsie danksy ontwerpers soos Leowe, MSGM en Iceberg op wie se loopplanke die wollerige skoenstyle volop was.

4. Driekwartbroeke

Foto: Pinterest

Ja, jy het dit reg gelees! Driekwart broeke, pedal pushers, capri pants, noem dit wat jy wil – die broekstyl van die vroë 2000’s is weer in die modekollig. Ontwerpers Phillip Lim, Sandy Liang en Carolina Herrera het duidelik hul liefde vir die broekstyl op hulle lopplanke verklaar. Ons weet net nie of ons gereed is vir daardie styfpassende styl wat die voorkant van jou been (en amper knie) so beklemtoon nie.

Foto: Pinterest
Foto: Pinterest

Net omdat dit terug in die mode is, beteken dit nie jy hoef dit te dra nie. Ons sê eerder gaan verby en gee vir ons ’n netjiese cropped flare broekstyl – ’n stylvolle silhoeët wat effens uitklok aan die onderkant (totsiens styfpassend) en op ’n korter (enkel of midi) lengte op jou been eindig. Soveel meer vleiend as die “capri” styl.

5. Tatoeëermerk klere

Foto: Pinterest

Die mesh of gaasmateriaalrokke en bloese is ook steeds hoogmode en een waarvan ons baie hou – behalwe vir die tatoeëermerkpatrone op die kledingstukke. Die idee is dat die gaas of mesh-kledingstuk noupassend sit sodat die patroon soos ’n regte vollyf tatoeëermerk lyk. Ontwerper Jean Paul Gaultier is verantwoordelik vir die modetrend se sukses.

Foto: Pinterest
Foto: Pinterest

Dalk sal ons hierdie modetrend probeer vir ’n temapartytjie!

6. Snaakse sonbrille

Foto: Pinterest

Die spotprent sonbril

Modeontwerpshuis Leowe se donsige skoene is nie waar die vreemde trends eindig nie – die “Inflated Cat Eye” sonbril lyk self asof dit in ‘n tekenprent hoort. Hoewel dit prettig lyk op hierdie modelle weet ons nie of ons ‘n huis se prys kan betaal om te lyk asof ons in ‘n spotprent hoort nie.

Foto: Pinterest
Foto: @constantly_k op Instagram

Die piepklein sonbril

Danksy beroemde modelle soos Gigi Hadid en Kendall Jenner is die piepklein sonbril terug op die moderadar. Onthou jy destyds toe Paris Hilton en Nicole Richie op die stel van The Simple Life ook hierdie eienaardige sonbrilletjies gedra het? ’n Bewys dat mode sirkelvormig is en dat trends werklik terugkeer – of jy nou van hulle hou of nie.

Foto: Pinterest

Modeliefhebbers regoor die wêreld spandeer honderde (duisende) op piepklein sonbrilstyle en ons verstaan nie hoekom nie!

Foto: Pinterest
Foto: Pinterest

Ons het groot waardering vir ’n unieke sonbril, hetsy dit nou groot, vierkantig of kleiner rame het, maar die piepklein styl is een waaraan ons net eenvoudig nie kan gewoond raak nie. Hier’s hoekom:

1. Dit beskerm nie werklik jou oë of ooglede ordentlik teen die son nie (dus is dit glad nie funksioneel nie)

2. Dit werk net eenvoudig nie op die meederheid se gesigvorme nie

3. Ons dink dit lyk vreemd!

Stylvol

Handige ekstra wenke en raad, spesiale afslag en wenke, slegs vir die binnekring.

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui

Oor ons

Stylvol sosiale media

Nog Stories
Hierdie skoenstyle hoort in elke vrou se kas
error: Content is protected !!