Benodig jou winterskoenekas dalk ’n nuwe paar skoene? Dan is hierdie artikel vir jou – ons deel 11 skoenstyle wat tans hoogmode is en ’n hele klompie op ons winterskoene- wenslysie. Deur Justine Kroes
09/05/2025
11 Winterskoene wat nou trend
1. Stylvolle stewels vir die winterreën
As jy in die Kaap woon, ken jy van dae aaneen se reën en reën. Wees op die uitkyk vir stylvolle stewels wat sal jou warm hou waarookal jy jouself in hierdie bibberweer mag bevind.
Toni Pons se stewels vanuit Spanje is ons gunsteling reënstewels vir die nat weer. Daar is ’n hele paar verskillende opsies van die waterdigte stewels beskikbaar. Gemak soos g’n ander – die stewel is van ’n sagte rubber met ’n mat afwerking gemaak, met rekke aan albei kante van jou enkels vir meer gemak. Dit is uitgevoer met materiaal aan die binnekant vir ekstra gemak. Beslis ’n stewel vir elke stylpersoonlikheid:
2. Kniehoogte of bo-oor die kniehoogte stewels

Hoewel enkelstewels ’n gunsteling is, word kniehoogte of tot bo-oor die knie-stewels nou as groot mode beskou. Die truuk is egter om ’n paar te vind wat gemaklik oor jou kuite pas en nie onvleiend om jou kniegedeelte sit nie.

Hierdie stewelstyl is natuurlik nie net die warmste stewelstyl nie maar ook ’n tydlose styl wat keer op keer na die modewêreld terugkeer as ’n moet-hê stewel vir die seisoen. Dra dit by jou denim, minirompe en sykouse vir ’n trendy voorkoms.
3. Slonsige stewels (Slouchy boots)

Slonsige stewels is presies dit, stewels met ’n effense kreukel-effek. Die styl is lospassend met taamlike plooie. Onthou om altyd die balans van jou uitrusting in ag te neem wanneer jy jou slonsige stewels dra. By noupassende, getailleerde broeke en minirompe of -rokke werk die styl goed.
4. Mary Janes

Daar is byna ’n “Mary Jane” skoene vir elke stylpersoonlikheid – van leer tot sweedsleer, blinkleer en natuurlik die met afwerkings of selfs ’n Mary Jane hakskoen. In byna alle kleure, dalk is luiperdmotief vir jou? Kies ’n Mary Jane-styl wat die beste by jou klerekas pas.



5. Skoene met tekstuur
Wintermodes is van ons gunstelinge om te stileer, al die verskillende teksture in een uitrusting skep warmte en diepte. Hierdie winterseisoen is skoene met tekstuur groot nuus. Dink aan skoene met afwerkings van luukse teksture, die gewildste op die oomblik is die met ’n bouclé teddy-wol tekstuur.


Ons is natuurlik gaande oor die ligte skakerings – ons weet net nie hoe ons dit sal skoonhou in die Kaapse reënweer nie!
6. Balletskoene

Weer ’n veelsydige kopie wat by werk, naweek en selfs meer gemaklike uitrustings gedra kan word. Dit werk saam met denims, ’n T-hemp en blazer en net so goed by ’n rok vir ’n meer vroulike voorkoms


Wenk: moet nie oorhaastig wees met jou balletskoen kopie nie. Soek totdat jy ’n paar kry waarvan jy regtig baie hou. Daardie paar wat jy weet by als in jou klerekas sal pas.

7. Loafers

Jy hou of daarvan of glad nie – indien jy span “loafer” is – kan jy dankbaar wees hierdie skoenstyl is vir die winter hoogmode.

Hoewel die bonkige “chunky” loafer styl steeds hoogmode is, is die minimalistiese nou, gepoleerde en plat loafer skoenstyl ’n gunsteling aan modebekendes se voete. Beslis ’n veelsydige skoen-opsie wat tydloos deur die jare sal bly.
8. Tekkies
Vanjaar gons dit met allerhande verskillende tipes tekkies – ons het onlangs ’n artikel gedeel oor die top tekkietrends – lees meer hier.
9. Metaalknopies (Studded)

Elke nou en dan is daar ’n skoentrend wat ons baie opgewonde het, en die “studded” skoentrend is een van hulle! Watookal jy verkies, ’n studded ballerina skoen of ’n studded stewelstyl, dit is een van die winter se moet-hê skoenmodes.

Die blink bykomstighede op die skoene trek dadelik aandag na jou voete toe. Stileer dit by ’n paar jeans of selfs by ’n vroulike rok om daardie stylkontras te skep.



10. Puntskoene

Of dit nou plat is of ’n effense hakkie het (kitten heels), is puntskoene een van die seisoen se moet-hê winterskoenstyle. Puntskoene is ’n vleiende skoenvorm vir die meeste voete. Die voorpunt skep die illusie van ’n verlengde voet en langer been wat ’n verslankende effek het.

Kies een in ’n skakering wat by die meeste klere in jou klerekas gaan pas, of wees braaf en probeer een in rooi of luiperdmotief.
11. Klompe (Clogs)

Hierdie skoenstyl is dalk nie almal se gunsteling nie, maar beslis ’n gewilde skoen aan die voete van modebekendes vir Winter 2025.

Danksy die oorheersende boheemse modestyl wat tans ’n groot wintermodetrend is, is hierdie skoenstyl volop. Die Clog styl is in ’n reeks verskillende ontwerpe en skakerings beskikbaar – hou jou klerekas in gedagte voordat jy jou klompe-kopie maak.















