Wintermode-stylgids: hierdie 22 trends, style en skakerings is nou groot nuus

Ons is gelukkig om seisoen na seisoen geïnspireer te word deur internasionale wintermodes wat ons op mode loopplanke en sosiale media voor ons sien afspeel.

Hierdie seisoen gaan minder oor een “moet-hê” item en meer oor hoe jy jou voorkoms saamstel, sagte teenoor gestruktureerde silhoeëtte, diep juweelskakerings teenoor sagter en neutrale bruin skakerings.

Hier is die grootste wintermode tendense wat hierdie winter op ons radar is. Saamgestel deur Justine Kroes

22 Wintermode trends

1. Glamorati

Dink 80’s maar meer luuks. Dieselfde meer-is-meer gevoel maar met ‘n moderne tipe struktuur. Gestruktureerde pakke met groot skouers, en bonkige goue armbande en gordels daarby.

Met al die goue bykomstighede is dit duidelik dat goud voorspel word om een van 2026 se gewildste skakerings te wees.

Trend voorspeller Sara Maggioni van WGSN noem dat goud ‘n gevoel van stabiliteit simboliseer in hierdie onsekere tye, en dat daar ’n nuwe ‘eetlus’ vir luuksheid en dekoratiewe ontwerp is na ‘n seisoen waarin “stille luuksheid” oorheers het.

Bottega Veneta, Chloe Chanel, Givenchy

2. Sportief (maar verhef)

Nie die athleisure voorkoms waaraan ons gewoond is nie – die fokus is meer sjiek as atletiek.

Dink aan retrostyl baadjies, rugbystyl truie, en parkabaadjies gedra by kant kortbroeke. Hakskoene en leggings word sommer so saam gedra.

Fendi, Tibi Saint Laurent, Leowe, Tory Burch

Sportiewe items word slimmer gestileer, minder gym, meer “off-duty” sjiek

3. Luukse leer

Leer is beslis die gunsteling tekstuur vir 2026. Van swart na blou, selfs diep rooiwyn skakerings en natuurlik al die skakerings van bruin.

Leer bly ’n wintergunsteling en bring onmiddellik ’n edgy, maar steeds gepoleerde gevoel na enige uitrusting. Van leerbaadjies tot rompe en broeke, ’n tydlose belegging wat maklik by omtrent enige ander items in jou klerekas sal werk.

4. Wuthering Heights & Poetcore

Dink aan nostalgiese Engelse uitrustings, groot krae, valle, strikke, kant en frille. Driehoekige serpies, vintage blazer baadjies, turtleneck truie.

Interessante teksture, romanties, vroulik en sag.

Die sleutel tot Poetcore lê in balans: hou die voorkoms modern deur een romantiese stuk met meer gestruktureerde items te meng. Dink aan ’n frilletjies bloes onder ’n skerp gestruktureerde baadjie, of ’n sagte bloes met kant saam met netjiese broek. Dis nie kostuum nie, eerder ’n subtiele, emosionele verwysing na ’n tyd een van storievertelling, natuur en stille elegansie.

5. Faux Fur

Faux fur bly ’n kerntekstuur vir Winter 2026 en word hierdie seisoen nog meer luuks en doelbewus gestileer. Dink aan oorgroot jasse, sagte kragstukke en selfs korter faux fur baadjies wat drama en warmte toevoeg. Die gevoel is minder “glam retro” en meer moderne elegansie.

Die beste manier om dit te dra is deur balans te skep in jou uitrusting: laat die faux fur die fokus wees en hou die res van die uitrusting eenvoudig en gestruktureerd. Kombineer dit met wyepyp broeke, skerppuntskoene of minimalistiese stapelitems vir ’n kontemporêre kontras.

Jy kan selfs net ’n faux fur trim aan die onderkant van jou jas/ rok laat doen of ’n mus, serp of faux fur kraagdetail op jou leerbaadjie.

Hierdie tekstuur hou nie net warm nie, dit verhef super vinnig enige uitrusting.

6. Interessante proporsies

Hierdie trend forseer die meeste mense uit hul gemaksones, dink aan cropped silhoeëtte soos ’n korter soldatejas of blazer baadjie wat jou om die middel vang. Dink ook aan bubble rompe en ballonstyl broeke. Peplum bloese en rokke. Sagter maar ook baie gestruktureerde proporsies.

En dan natuurlik die “drop waist” proporsie.  Pas aan totdat jy ’n styl en snit vind wat by jou lyfvorm pas.

7. Dierepatrone

Van polkakolle tot tier, sebra, cheetah en selfs dierepatrone soos koei en “deer” bokkie- patrone.

“Deer” kolle is die nuutste patroon op ons radar en ons kan nie wag om ons hande op dié een te kry nie

Probeer gerus om jou dierepatrone te meng. Die meer is meer en prettige kant van mode is beslis terug met winter 2026.

8. Oorgroot bomber baadjies/ funnel necks

Hierdie jaar se bomber baadjie het meer volume, en ‘n duidelike dramatiese “funnel neck”. Hierdie hoë neklyn gee ’n skoon, moderne en modebewuste voorkoms.

9. Geruite check of tartan patroon

Hetsy jy dit nou ruitjiespatroon, check, tartan of plaid noem, maak nie saak nie, weet net hierdie patroon is hier om te bly.

Veral vanjaar gewild in blazer baadjies en jasse, maar die gewildste is ’n geruite romp. Midi, mini en maksi lengtes, almal welkom die winter met ‘n geruite patroon.

10. Teal

Transformative Teal soos benoem deur WGSN as hul kleur van die jaar vir 2026. Dink aan donker blou gemeng met ’n aqua groen skakering. Teal val net mooi tussen blou en groen op die kleurwiel, ’n skakering wat deur baie gedra kan word.

Die vooruitsig is dat hierdie skakering tydens winter en somer groot nuus sal wees omdat dit as ’n “trans-seasonal” kleur gesien word.

Erden, No.21, Etro, JW Anderson, Tory Burch, Victoria Beckham

Jy besit moontlik al iets in die skakering – loer gerus in jou kas voordat jy koop!

11. Knoophemp

Die klassieke button-up maak ’n sterk terugkeer as ’n kernstuk jou winter 2026-klerekas, maar met ’n meer ontspanne, moderne gevoel.

Dink oorgroot en lospassend, langer lengtes en stywer gestruktureerde kraaglyne wat netjies onder baadjies uitsteek. Dit skep ’n gevoel van stille luuksheid en lyk stylvol, skoon en doelbewus.

12. Drop waist

Dink aan Coco Chanel en die Jazz era, en Art Deco geinspireerde rokke. Die drop waist silhoeët maak stilletjies ’n stil terugkeer onder modekenners.

’n Subtiele knipoog aan die 1920’s met ’n moderne, minimalistiese aanslag. Die laer middellyn skep ’n langer, meer ontspanne silhoeët wat vars voel.

Hierdie styl werk besonder goed in rokke en langer tops en bloese, waar die fokus skuif van die middellyf na ’n meer vloeiende (meestal diagonale) lyn.

Hou die res van jou voorkoms eenvoudig en gebalanseerd. Paar dit met gestruktureerde baadjies of skerp skoene om te keer dat dit te sag of vormloos voel.

Gesien op loopplanke van Chanel, Marnie, Tory Burch en Rabanne om maar net ‘n paar te noem,

13. Kleurblok (Colour Blocking)

Kleurblokkeer gaan oor kontras en pret. Kombineer twee of meer sterk kleure vir ’n moderne, energieke voorkoms wat onmiddellik aandag trek

Dink aan sterk, duidelike kleurkombinasies soos rooi en pienk, vlootblou en groen, of selfs kontrasterende neutrale wat doelbewus saamgestel word. Dit gaan minder oor chaos en meer oor skoon, grafiese impak.

Die geheim is balans: hou by twee tot drie kleure en laat die snitte eenvoudig bly sodat die kleur die fokus is. Dit is ’n maklike manier om energie en persoonlikheid na al die winterlae te bring sonder om oorweldigend te voel.

14. Puntskoene

Skerp v voorpunte verleng jou bene en skep ook die illusie dat jou bene slanker vertoon. Die styl laat jou ook onmiddellik gepoleerd lyk. ’n Eenvoudige manier om enige voorkoms te verhef.

15. Kniehoogte & Slouch Stewels

Hoër, sagter stewels bring ’n moeitelose, stylvolle voorkoms na winteruitrustings.

16. Tekstuur-op-tekstuur

Lae (layers) en tekstuur is alles: leer, suede en wol saam gekombineer skep ’n stylvolle, luukse en interessante voorkoms.

Hierdie skakerings is groot nuus:

1. Vlootblou

’n Verfrissende alternatief tot swart, soveel so dat navy nou die “nuwe swart” genoem word. En ons verstaan hoekoem, vlootblou voel vars, sagter as swart en is net so veelsydig. Dra dit kop-tot-toon vir ’n moderne, luukse voorkoms.

Vlootblou het omtrent oorheers op loopplanke by Balenciaga.                                             

Ferragamo, Khaite, Chanel

2. Kameelkleure

Kameelkleurige mode-items dien as ’n neutrale skakering wat byna by enige kleur en uitrusting kombinasie sal pas. Vir in die kol wintermode dra dit kop tot toon monokroom of gebruik dit as ’n “grounding” element in jou uitrusting saam met ander skakerings.

Max Mara, Ferragamo, Isabel Marant, Victoria Beckham

3. Pastasiegroen

’n Vars kleur vir winter, kies ’n trui of jas in ’n pistasiegroen kleur om ’n stelling te maak.

Victoria Beckham, Valentino, Rabanne, Giambattista Valli

4. Winter sitrusskakerings

Dink aan lemoene, nartjies en warm sitrusskakerings so gepas vir wintermode.

’n Enkele statement-item soos ’n trui, serp of handsak in sitrusoranje is genoeg om ’n uitrusting onmiddellik vars en modern te laat voel.

Helder, lewendig en perfek om donker winterpalette op te lig.

Fendi, Victoria Beckham, Ulla Johnson, Ferragamo, Etro

5. Rooi

Rooi maak hierdie seisoen ’n sterk stelling. Van diep wynrooi tot helderrooi skakerings, rooi is hier om te bly.

Dit voeg warmte en selfvertroue by jou winterklerekas en werk perfek as ’n fokusstuk. Of dra rooi in verskillende teksture: leer, wol, sjiffon of denim.

Psst, hou ’n ogie uit vir die rooi parkastyl baadjie wat elke modebekende en kenner tans dra.

6. Sagte pienk

Pienk is nie net vir die somer nie en hierdie seisoen is nie ’n helder Barbie-pienk nie, maar ’n meer gedempte, elegante weergawe wat verrassend maklik dra.

Sagte poeierpienk vir die winter voeg ’n speelse, vroulike element tot jou winterlae.

Stylvol

Handige ekstra wenke en raad, spesiale afslag en wenke, slegs vir die binnekring.

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui

Oor ons

Stylvol sosiale media

Nog Stories
11 Hoedstyle vir koue dae
error: Content is protected !!