Baie vroue gooi ’n serp om hul nek in die hoop dat hierdie laaste stylelement hul uitrusting sal red of dalk verhef, en hoewel dit kan, is daar ook die moontlikheid dat jou serpkeuse jou uitrusting onvleiend en outyds kan laat lyk. Twee stylkenners deel hul topwenke vir serpe kies, plus moets en moenies, leer meer hier; Saamgestel deur Justine Kroes
14/07/2023
Nege wenke om te oorweeg voordat jy jou volgende serp kies:
1. Meng gerus patrone en teksture
’n Serp kan ’n pragtige eenheid bring in ’n uitrusting. Moenie bang wees om verskillende patrone en teksture saam te dra nie en gebruik serpe om interessantheid en verskeidenheid in jou winterklerekas te bring, verduidelik stylkenner en voorkomskonsultant Tania de Clerk van Simplify Image.
2. Kies goeie materiaal
’n Serp moet sag teen jou vel voel – ’n krapperige serp veroorsaak onnodige irritasie, is Tania se raad.
3. Langer serpe is meer vleiend
Langer serpe gee jou vertikale lengte omdat dit verder afhang as die groot, vierkantige serpe wat net meer “bulk” bring na jou bolyf, verduidelik stylkenner en konsultant Laudi Lee (Jen X Style op Instagram). Tania stem saam “’n Reghoekige, lang serp is waarskynlik die serpvorm wat die meeste gesigs- en liggaamsvorms pas. As jy kort is, kan jy die illusie van lang lyne daarmee skep en as jy ’n baie kort nek en ’n ronde gesigvorm het, is die lang serp ook ’n hulpmiddel om balans te skep”.
4. Kleur is belangrik
Die verkeerde kleur serp naby jou gesig kan jou veltoon ’n geel skynsel gee, jou laat ouer lyk of bloot net uitgewas laat voel. As jy ’n serp as geskenk kry wat nie die regte kleur is om so naby jou gesig te dra nie, sit dit eerder in ’n memory box of skenk dit vir iemand by wie dit sal pas, sê Tania.
5. Sê totsiens vir windpompmotiewe
Laat gaan daardie ou serpe. Wanneer serpe haakplekke het of duidelik wys dat dit ’n paar seisoene gelede se modeneiging reflekteer (byvoorbeeld windpompies of serpe met gediggies) is dit waarskynlik tyd om dit te vervang, verduidelik Tania
6. Laat gaan jou sirkelserp
Vermy liefs sirkelvormige “infinity”styl serpe, veral as jy ’n groter borsmaat het, dit kan jou moontlik “top heavy” laat lyk, is Tania se wenk. Hierdie tipe serp sal ook ’n nek breër laat lyk en ’n ronde gesigvorm meer rond laat voorkom. Stylkenner Laudi Lee stem hiermee saam “Skenk eerder jou Infinity serpe, en vervang dit met ’n gewone lang serp”.
7. Syserpe bly tydloos en sjiek
Kies ’n klassieke luukse syserp, hierdie serpstyl sal altyd ’n goeie koop wees en Laudi Lee stel voor, speel rond met verskillende skakerings en patrone.
8. Probeer ’n neckerchief-styl-serp
Kleiner nek serpies is ook hoogmode wat baie gesofistikeerd voorkom. Jy kan hierdie serpies rondom jou nek dra, vasbind rondom jou handsak en selfs in jou hare dra. Laudi Lee
9. Hallo 90’s
Lang, dun serpe van die 90’s maak ook weer opspraak in die modewêreld en dit is definitief iets wat ons weer orals gaan sien, veral in somer 2023, hou dus ’n ogie oop hiervoor, is Laudi Lee se wenk.