Aktrise Greteli de Swardt is nie bang vir uitgooi nie, en selfs met ’n baba in die huis, handhaaf hulle ’n minimalistiese dekorstyl. Hier is haar wenke. Deur Suzanne Kotzé
Greteli de Swardt glo in hierdie wenke

1. Sorteer uit
Ek is mal daaroor om uit te gooi. Ek het 11 keer in nege jaar getrek toe ek jonger was en dit is iets wat ek by my ma geleer het. Maak minder, maak minder, maak minder. Vandat ek en Juan getroud is, of dit nou ’n kantoor of huis is waar ons getrek het, het ons ook uitgegooi. Elke keer kom ’n mens net agter hoe baie onnodige goed jy het.
2. Een in die kas, een in die was
My reël is, een in die kas, een in die was en dit is dit. In ’n stadium het ek ses stelle beddegoed gehad, maar dan gebruik jy dit nie. Al wat jy nodig het is een op jou bed en een in die was. Ek hou nie onnodige goed aan nie.
3. Klere; een in een uit
Vir elke nuwe mode-item of kledingstuk wat ek koop, moet een uitgegooi word. Of dit nou een of drie is. Dit is nog ’n reël wat ek by my ma geleer het en dit werk so goed.
Die meeste van ons het beperkte spasie.
Ek hou eintilk daarvan dat ek beperkte spasie het, want as jy so baie klere en goed het, raak ’n mens oorweldig en jy kies in elkgeval net jou gunstelinge wat jy oor en oor dra..
En dan is jy ook nie meer kreatief met jou klere nie. Hoe minder klere ek het, hoe meer kreatief raak ek met my uitrustings, en hoe meer speel ek rond en hoe mooier lyk ek dan.
4. Verkoop jou ou klere
Juan sê altyd jou klere moet daardie ‘hell, yeah’ gevoel ontlok. En as dit nie doen nie, is dit tyd om dit te laat gaan. As jy nie nou in die winkel sal instap en volprys sal betaal daarvoor nie, gooi dit uit. Ek verkoop al my ou klere op Yaga en dit is so ’n lekker manier om ’n ekstra geldjie te maak.
5. Dekor moet funksioneel wees
As dit nie funksioneel is nie, wil ek dit nie hê nie. ’n Stoel wat net daar staan om mooi te lyk, maar jy sit nooit daarop nie. Honderde blompotte wat net rondstaan en mooi lyk, maar net stof opgaar, is nie vir my nie. Kies eerder een mooi statement piece waarin jy elke week vars blomme sit. In ons huis sal jy nie klomp tafeltjies en goetertjies sien rondstaan nie; as dit nie ’n funksie het nie, hoort dit nie hier nie. Ek haat dit as goed in my huis net daar staan en nie ’n doel het nie.
6. Slim stoorplek
Ek probeer altyd dink hoe ons stoorplek kan skep met die meubels wat ons het. ’n Bankie wat kan oplig en stoorplek onder het, of in plaas van ’n bedbasis, ’n bed op voetjies met plek om kratte te stoor onder die bed.
7. Kies tydlose meubels

Met meubelkeuses probeer ek om nie ’n trend te volg nie. Dit is soms moeilik, want al die nuwe trendy goed is so mooi, maar dit word net te duur. Ek probeer altyd om my groot dekoritems so tydloos moontlik koop. Dit is hoekom ons so baie van Pedersen en Lennard se meubels koop. Ek hou ook van eenvoudige kleure vir meubels. Al is ’n geel bank byvoorbeeld dalk vir my hoe mooi, sal ek eerder kies om helder, funky kussinkies om my bank te sit. Om ’n muur (wat jy maklik weer kan toeverf) ’n kleur te verf is ook ’n maklike manier om kleur in te bring.
8. Kinderspeelgoed; minder is meer
Ons het net twee klein mandjies vol speelgoed wat ek by my baby shower gekry het. Ek dink nie kinders het so baie speelgoed nodig nie. Dit lê net jou huis vol en dit is oorstimulerend. Alé speel met ons tupperware of ons sleutels. As jou kind verveeld word, kry dan iets nuuts. Wees kreatief met wat jy in die huis het en gebruik dit as speelgoed.
9. Pak dadelik weg

Juan sê altyd hy het nodig om te oefen om sy dag reg te begin en goed te voel. Vir my is dit weer om ons huis netjies en skoon te hou.
As jy ’n baba in die huis het, is dit nie realisties om te dink dat jy vier ure op ’n slag kan skoonmaak nie. Ek probeer eerder dadelik takies af te handel of goed weg te pak. As ek klaar geëet het, pak ek dadelik my bordjie weg, of tel dadelik Alé se speelgoed op as sy klaar gespeel het. Selfs as ek sien die wasgoedmandjie is in die aand vol, was ek dit dadelik. Dit is maklier as jou baba dalk gou ’n paar minute huil terwyl jy ’n takie vinnig afhandel as wat jy ure se werk laat ophoop en dit alles tergelykertyd probeer doen.