Bruin het na vore getree as een van die veelsydigste neutrale kleure; veral vir herfs. Baie van ons het laasjaar reeds bruin items begin aanskaf, maar as jy soos ons wonder watter skakerings, handsakke en skoene goed werk, voorkomskonsultant Jean-Mari Heilig gee raad. Deur Suzanne Kotzé
Die mode-sielkunde agter die opkoms van bruin
Bruin se opkoms weerspieël ’n sielkundige skuif na gemak, stabiliteit en gegrondheid; mense word aangetrek tot kleure wat veilig voel en ’n verbintenis met die natuur skep in onseker of vinnige tye.
Met tegnologie (en AI) wat ’n al hoe groter rol in ons lewens speel, is daar ’n terugbeweeg na egtheid en die natuur.
Bruin bo swart
Waar swart lank die oorhand gehad het, word bruin nou gevier vir sy warmte, sagtheid en die vermoë om ’n wye verskeidenheid velkleure te vlei. Volgens voorkomskonsultant Jean-Mari Heilig lyk die meeste mense selfs beter in bruin as in swart, wat soms hard of verouderend kan voorkom. Dit beteken natuurlik nie dat jy moet ophou swart dra nie, maar oorweeg gerus nou en dan bruin bo swart vir jou staatmaker.
Hoekom werk bruin so goed?
Bruin weerspieël die natuur; dink aan boomstamme, grond, klippe en herfsblare. Dit voel daarom natuurlik gebalanseerd en maklik op die oog. Anders as swart, wat skerp kontras skep, versag bruin jou voorkoms en gee dit diepte sonder om oorweldigend te wees.
Tog is “bruin” nie net een kleur nie. Van ryk sjokolade tot warm kaneel en koeler taupe; elke skakering werk anders saam met jou gelaatstrekke. Die geheim is om te eksperimenteer en te ontdek watter skakerings jou die beste laat lyk.
Bruin as ’n moderne neutraal
Jean-Marie sê: “Vandag word bruin net soos swart, wit en vlootblou as ’n basiskleur beskou. Dit kombineer pragtig met:
Blou skakerings (van ysbou tot kobalt en veral denim)

Mosterd- en geel tone

Wynrooi

Room en sagte wit

Sagte pienk vir ’n vroulike kontras

Dit maak bruin ’n ideale grondslag vir enige uitrusting; of jy nou werk toe gaan of meer informeel aantrek.”
Hoe begin jy bruin dra?

As jy huiwerig is, begin klein. Bykomstighede is ’n maklike manier om bruin in jou kas in te bring:
- ’n Bruin handsak of leerbelt
- Klassieke bruin skoene of stewels
- ’n Serp in aardse kleure
Nog ’n goeie beginpunt is ’n bruin jean of broek wat jy met jou bestaande bostukke kan meng en pas. Só raak jy geleidelik gewoond daaraan om bruin te dra voordat jy groter items soos ’n jas of baadjie aanpak.


Meng skakerings soos ’n kenner
Een van die grootste mites is dat al jou bruin skakerings moet ooreenstem. Inteendeel verskillende skakerings skep ’n ryker, meer interessante voorkoms. Dink aan sjokoladebruin saam met karamel of truffelkleure.
As jou uitrusting nie heeltemal werk in terme van skakerings nie, gebruik ’n element soos ’n gordel of handsak om dit te bind; diervelmotief werk besonder goed omdat dit verskeie bruin tone kombineer.
Slim stylwenke
Meng teksture

Meng leer, kant, breiwerk, suede, satyn en pels vir diepte.










H&M Shoulder-pad lace blouse – dark brown (R1099, Superbalist)

Speel met patrone


Diervelmotiewe, kolle of geruite patrone breek groot blokke kleur op.



Voeg kleur by

’n Tikkie kleur kan ’n bruin uitrusting ophelder.
Sokkie-stilering

Dra neutrale of patroon-sokkies saam met brogues of balletstylskoene om verskillende bruin skakerings sagter te laat oorvloei. Of tel die kleur van ‘n bo-stuk op met jou sokkies.


Kan jy swart en bruin saam dra?
“Ja beslis! Ek het vandag ’n swart uitrusting aan, met ’n tikkie bruin in die vorm van tiervelsokkies aan,” vertel Jean-Marie. Hierdie eens “verbode” kombinasie is nou stylvol en modern.
Hou dit eenvoudig deur nie ander kleure by te voeg nie, sodat die kontras elegant bly.

Laat die natuur jou inspireer


In die natuur is geen twee bruine dieselfde nie en tog werk dit altyd saam.
Gebruik dit as inspirasie: meng, speel en eksperimenteer met selfvertroue.
Bruin is ’n tydlose neutraal
Bruin is nie net ’n trend nie, maar ’n tydlose neutraal wat warmte en elegansie na enige kas bring. Bou gerus voort aan jou bruin-versameling.





















