Klassieke strepe bly ’n staatmaker, maar soos in die mode-wêreld is dekorstrepe in alle kleure en groottes groot nuus. Of jy nou van klassieke swart en wit hou, neutrale minimalistiese strepe of maksimalisties en bont verkies, hier is ’n streep en styl vir jou. Deur Suzanne Kotzé.
Klassieke styl; kies swart en wit of donkerblou en wit strepe
As jou huis ’n klassieke of neo-klassieke styl het, sal tradisionele swart en wit of vlootblou en wit strepe waarskynlik die beste by jou dekorstyl pas.
Minimalistiese styl; kies kleiner strepe, of strepe in neutrale kleure.
’n Los mat met swart strepe werk baie goed saam met ’n mininalistiese of Skandi-styl. As jy muurpapier of ’n verftegniek wil inbring, kies dun strepe wat wyer uitmekaar is.
Foto: Pinterest
Maksimalistiese styl: hoe bonter (en skewer) hoe beter
Hoe meer kleur en patrone hoe beter. Strepe saam met ander patrone en kontraskleure werk goed. Onthou die maklike reël van patrone en kleur meng; maak seker daar is een onderliggende kleure in al jou botsende patrone.
Parys-styl is op die oomblik ’n groot trend, en hierdie mooi slaapkamer is die perfekte voorbeeld van die styl. Gestreepte muurpapier, Paisley en gestreepte beddegoed, frille en valle en oulike muurkuns.
Strandhuis of buite; geel, rooi, oranje en blou strepe
Strepe werk wonderlik in enige buite-area. As jy jou huis minimalisties en sonder patrone wil hou, oorweeg gerus ’n helder steep vir buite. Dit voel net dadelik energiek en somers.
Streepspirasie
Probeer gerus van hierdie streep-idees
Dakdekor; sambrele, lampskerms en plante
Ons het onlangs Slops restaurant in Plettenbergbaai besoek en was gaande oor die dekor. Gestreepte strandsambrele, lampskerms en hangplante is gebruik om die dak mooi te maak. “Ons wou graag die gevoel van sonnige seedae vasvang met die oranje en blou skakerings.
Die strepe laat ’n mens terugdink aan klassieke strandrondawels, en is gebruik deur die hele ruimte, van mure tot banke en selfs op tafels. Die reuse sambreelligte in die sonkamer trek aandag, selfs van buite die restaurant,” vertel eienaar Deborah. Die dekor is gedoen deur Heartspace Design.
Gestreepte plafon
’n Mens dink dikwels aan strepe op mure, maar kyk net hoe wonderlik lyk ’n gestreepte plafon.
Verf ’n pilaar
Foto: Die gestreepte oranje pilare van Slops is nog ’n oulike plan. En dit is ’n klein area, wat jy altyd later weer kan toeverf as jy moeg is van strepe.
Verf ’n ou kassie
As jy van doen-dit-self projekte hou, hoekom nie ’n ou kassie met strepe verf nie?
Gestreepte strooikussings
Die heel maklikste manier om ’n tikkie strepe in te bring is met strooikussings.