Die nuwe jaar is hier en daar is g’n beter tyd om opnuut na jou klerekas te kyk nie. Ons het by drie voorkomskonsultante raad gevra – hulle deel hul top 9 wenke om jou klerekas te verfris en soos ’n nuwe modieuse jy te voel. Saamgestel deur Justine Kroes
06/01/2023
Is hierdie dalk jy?
- Jou kas is vol klere maar jy neem ure om die regte uitrusting te vind.
- Die ‘stapels’ in jou klerekas is oud, uitgewas en deurgedra.
- Jou klere inspireer jou nie meer nie.
- Jou leefstyl en persoonlikheid word nie in jou klerekas weerspieël nie
- Jy het baie lank laas nuwe items aangeskaf.
Dan weet jy dit is tyd om jou klerekas te verfris – hier is raad:
1. Herrangskik jou klerekas
Voorkomskonsultant Simone Lombard verduidelik “rangskik jou klerekas en maak seker alles hang in die regte volgorde. Ek hou daarvan om dieselfde kleure bymekaar te hang, ander verkies weer om die verskillende soorte kledingstukke, soort by soort saam te hang. Deur dit te doen sal jy ’n goeie idee hê van wat tans in jou klerekas is.”
Voorkomskonsultant Susra Matthee se raad “Om jou klere in kleurformaat in jou kas te hang is nog ’n maklike manier om te sien waarvan het jy baie en watter kleurskakerings jy gerus kan aanskaf.”
“Dit maak dit ook makliker wanneer jy verskillende kleurkombinasie wil probeer. Van die gewilde kleur kombinasies op die oomblik is kobaltblou en Kelly-green, helder pienk en oranje, framboospers en blou”.
2. Laat gaan
“Laat gaan die items wat nie meer gered kan word of wat jou nie meer gelukkig maak nie. Indien jy dit nie hierdie somer of die vorige een gedra het nie, verkoop of skenk dit. Daar is baie plekke wat tweede- handse klere wat steeds in ’n goeie kondisie is, verkoop. Loer gerus na opsies soos 2Brunettesinbloom, resalecollection_studio, sophie’s choice, of yaga.” Is Susra se laat-gaan wenk.
Simone Lombard sê: Daar is niks beter as ’n goeie klerekas-uitgooi sessie nie.
So doen ek dit: hê ’n goeie en eerlike vriendin byderhand wat weet hoe gereeld/wanneer laas jy iets gedra het. Haal dan stuk vir stuk klere uit en wys vir haar: Sy vra jou dan:
1. wanneer laas ek dit gedra het,
2. hoekom ek die item nie meer dra nie? en
3. hoe ek dit anders kan stileer/verstel.
Daarna sal ek besluit wat ek wil skenk, verkoop of aan ’n ander vriendin wil gee.
3. Maak verstellings
Susra sê “Dit is ’n goeie tyd om te kyk watter items het ’n verstelling nodig en laat maak dit reg. Dit kan iets eenvoudigs wees soos ’n knoop aanwerk tot ’n rok kleiner laat maak wat te groot is.”
4. Doen ’n klerekas oudit
’n Kas oudit aan die begin van elke jaar is belangrik verduidelik Susra – hier kan jy ook vasstel of jy genoeg items van die capsule wardrobe boustene in jou klerekas het om te meng en pas met ander items.
“Die idee is om 100% van jou kas 100% van die tyd te dra – nie 20% van jou kas, 80% van die tyd nie”
Ronel Le Roux
Voorkomskomsultant Ronel le Roux stem hier saam, dit is belangrik om jou klerekas jaarliks te herevalueer.
Doen dit so;
Pak sommer jou kas heeltemal uit en maak hom lekker skoon.
Deel jou klere op in drie hopies:
- 1. alles waarvan jy regtig hou en gereeld dra
- 2. alles wat jy nie so gereeld gedra het nie maar tog van hou
- 3. dit wat jy glad nie die seisoen / afgelope jaar gedra het nie
Pak dan hopie 1 terug in die kas. Ons weet dit werk – so dit kan bly.
Met hopie 2, dink bietjie hoekom het jy die items op die hopie nie so baie gedra nie. Gaan loer dalk op Pinterest en soek soortgelyke items – Kyk hoe mense dit stileer en probeer ’n paar nuwe kombinasies uit jou kas om die items meer gereeld te kan dra en ook nuwe lewe aan hul te gee.
Kyk nou na hopie 3, hoekom het jy dit nie gedra nie? Is dit nie meer jou smaak nie, is dit iets wat uit die mode is, is dit te groot of te klein? Watookal die rede, laat gaan dit. Probeer om nie te sentimenteel te wees nie. Jy sal verbaas wees hoeveel ligter ’n mens voel so aan die begin van die jaar na ’n lekker klere- kasdetoks!
5. Behandel jou leer-items
Susra glo daaraan om jou leer-items te behandel “Maak jou leersandale skoon en behandel dit met ’n “leather conditioner” Hulle het hard gewerk die vakansie en moes harde toestande soos sand en see trotseer. En indien jy dit nog nie gedoen het nie, behandel jou leerstewels ook en bêre dit tot jy dit weer nodig het vir die winter.
6. Hersien jou onderklere
Susra sê “Hierdie is ’n belangrike een wat die meeste van ons afskeep. Kyk of jou onderklere nog in goeie toestand is. Indien jou bra by die laaste hakie is en al uitgerek is, is dit tyd om ’n nuwe een aan te skaf. Wanneer jy ’n nuwe bra koop, koop dit so dat die hakies op die eerste hakie pas (dit kan moontlik bietjie styf voel) soos die bra ouer raak, rek dit uit en skuif jy die hakies tot by die kleinste een.
As jy jou arms oplig, moet jou bra nie skuif nie. Daar is ook min goed so irriterend soos ’n uitgerekte broekie. Vervang dit sodra dit nie meer gemaklik sit nie.
7. Kyk met nuwe oë na jou bykomstighede
Loer watter items het al hul doel gedien en is nou of moeg of uit die mode, is Susra se raad. “Dit is nie nodig om die mode slaafs na te volg nie, maar jy wil ook nie bykomstighede dra wat outyds is nie. Dit kan jou hele uitrusting verouder.”
8. Dink aan dit wat jy nodig het
Na die kas-oudit en klere uitgooi, dink mooi wat jy werklik nodig het is Simone se raad. “Maak ’n lys en begroot. Dis altyd lekker om iets nuuts te koop, veral as jy weet jy het dit nodig en dit gaan sy ‘cost per wear’ uitleef”
9. Probeer iets nuuts
Wanneer laas het jy iets vir die eerste keer gedoen of probeer? Ons raak so vasgevang in ou gewoontes en maniere van aantrek. ’n Nuwe jaar is ’n goeie tyd om iets nuuts te probeer. Koop ’n slag ’n item wat buite jou mode-gemaksone is. Probeer dalk een van die gewilde patrone vir die somer soos zebrastrepe of groot blomme verduidelik Susra.
“Indien hierdie proses nie een is wat jy graag alleen wil aanpak nie, kontak gerus ’n voorkoms- konsultant. Ons doen dit professioneel en help jou om jou stylpersoonlikheid, liggaamsbou & kleur-kategorie te ontdek en dit dan toe te pas met jou leefstyl ook in ag”
Ronel le Roux
Voorkomskonsultante:
Simoné Lombard – kontak haar by simlombardimage@gmail.com en volg haar op sosiale media hier.
Susra Matthee – Kontak vir Susra hier en volg haar op sosiale media hier.
Ronel le Roux – kontak haar by hello@ronelleroux.com en volg haar op sosiale media hier.