Vanjaar se teëltrends beweeg weg van koel, kliniese ruimtes en verskuif na sagte teksture, aardse skakerings en slim uitlegte wat jou badkamer meer luuks laat voel. Van dramatiese vloere tot slim patrone skep met jou teëls, hier is 12 van die nuutste badkamerteëlneigings wat in 2026 gaan oorheers. Deur Justine Kroes
1. Kombineer verskillende teksture van teëls

Meng mat en glansteëls vir ’n interessante ontwerpelement. Die truuk is om dieselfde skakering teël te kies, een in ’n mat en een in ’n meer blink/ glans weergawe. En kombineer die gebruik van die teëls in jou badkamer uitleg.
Verdeel byvoorbeeld jou muur in twee en gebruik die glansteël bo en die mat teël onder (of andersom).
Nog ’n idee kan wees om jou mat teël regoor jou hele badkamer te gebruik en die glans teël vir ‘n aksent in jou stort, agter jou wasbak, teen jou bad of as vertikale detail stroke teen jou muur af.
Die gebruik van twee verskillende teël afwerkings voeg diepte en visuele belangstelling in jou badkamer by sonder om besig te voel.
Die glansteëls weerkaats lig en laat kleiner ruimtes helderder voel terwyl mat afwerkings ’n gevoel van sagtheid bring.
2. Gestreepte teël patrone

Strepe maak tans ’n groot terugkeer in die dekorwêreld en badkamers volg vinnig. Ontwerpers gebruik dieselfde teëlvorm in twee verskillende kleure om sagte streep-patrone te skep. Dink aan kombinasies soos sagte pienk en room, liggroen en wit, of sand en terracotta.

Vertikale strepe laat plafonne hoër lyk, terwyl horisontale patrone ’n kleiner badkamer wyer kan laat voel.


Wenk: Gebruik teëls met ’n effense tekstuur (byvoorbeeld handgemaakte teëls) dit skep ’n effense onreëlmatige effek vir ’n meer organiese ontwerpersgevoel.
3. Mikro-teëls is terug, maar gebruik dit slim

Klein mosaïek- en mikro-teëls maak ’n groot terugkeer in 2026. Hulle voeg onmiddellik tekstuur en ’n spa-agtige luuksheid in jou badkamer, veral wanneer natuurlike lig daarop val. Maar balans bly belangrik. Doen dit so:


Moets
Gebruik mikro-teëls as fokuspunte eerder as regdeur die hele badkamer.
Kombineer dit met groter formaat teëls vir balans.
Hou by sagte, neutrale kleure vir ’n tydlose gevoel.

Moenie:
’n Hele klein badkamer daarmee bedek nie, dit kan vinnig oorweldigend voel. Veral in jou stort, die grout/ voeglyne kan moeilik wees om skoon te hou.
Kontrasterende grout skakerings gebruik as jy nie wil hê die patroon moet oorheers nie.
Vergeet dat meer voeglyne (grout) meer onderhoud en deeglike skoonmaak beteken nie.
Ontwerpers hou van mikroteëls omdat dit ’n gevoel van beweging, detail en tekstuur op ’n sjiek manier skep.
4. Dramatiese vloer en stil neutrale mure

Vir mense wat persoonlikheid in die spasie wil skep sonder chaos, is hierdie een van 2026 se slimste badkamerbenaderings tot teëlkeuses.
Sterk, bont of besige vloerpatrone van checkerboard tot geometriese ontwerpe word die fokus van die ruimte, terwyl sagte neutrale mure die badkamer rustig en tydloos hou.


Dink aan warm wit, sandkleurige en beige neutrale klipskakerings teen die mure; dit werk besonders mooi saam met dramatiese besige vloere.
Die resultaat: ’n Stylvolle badkamerontwerp met karakter wat steeds kalm en elegant voel.
5. “Tile Drenching” skep ’n spa-gevoel

Jy het dalk al gehoor van die dekor neiging “colour-drenching” (plan, vloer en muur een kleur geverf) maar het jy al gehoor van “tile drenching?”.
Tile drenching is een van die grootste luuksheids neigings vir 2026 – wanneer dieselfde teël op vloere, mure en selfs binne die stort gebruik word.


Dit skep ’n rustige, cocooning en omhelsende gevoel en laat kleiner badkamers groter en meer samehangend lyk.
Warm aardse kleure en mat afwerkings werk besonder goed hiervoor. Hierdie teël metode en trend gee daardie boetiekhotel-estetika.
6. Handgemaakte teëls

Die gebruik van perfekte teëls het verskuif na handgemaakte en onperfektes wat meer warm en natuurlik voel.
Die trend is tans vir badkamers om meer weg te beweeg van perfekte egalige oppervlaktes en om eerder meer handgemaakte teksture te omhels.
Handgeglasuurde keramiek en effens oneweredige afwerkings bring warmte, beweging en karakter na jou ruimte.


Die klein “onvolmaakthede” reflekteer lig pragtig en laat ’n badkamer sagter en meer leefbaar voel.
Hierdie trend werk veral goed as jy op soek is na daardie Mediterreense, organiese of ouwêreldse gevoel.
7. Ribbed of fluted teëls
Tekstuur en kurwes speel ’n groot rol in 2026 se interieurneigings, en geribde of driedimensionele teëls is een van die mees elegante maniere om dit in ’n badkamer te gebruik.

Hierdie teëls skep subtiele skaduwees en werk besonder mooi agter ’n wasbak, rondom ’n bad of as ’n fokusmuur in die stort.


Ontwerperswenk: Hou die kleurpalet sag sodat die tekstuur self die fokus bly.

8. Warm aardse skakerings.
Aardse en neutrale skakerings vervang koeler grys skakerings. Die koel grys badkamer-estetika maak stadig plek vir warmer, natuurgeïnspireerde kleure.

Dink aan terracotta, olyf, sand, klei, mushroom en kalksteen-skakerings. Hierdie kleure oorheers 2026 se kleurpalette en laat badkamers rustiger en meer uitnodigend voel.


Die voorkoms is ontspanne, organies en stilweg luuks sonder ’n koue of kliniese gevoel.
9. Grootformaat teëls
Terwyl mikro-teëls gewild is, is grootformaat teëls en porseleinplaat teëls net so gewild. Hierdie teëls word op mure en vloere gebruik vir ’n soomlose eenvormige voorkoms deur jou badkamer.

Groter teëls beteken minder voeglyne (grout lines), wat ’n skoner, meer ruim gevoel skep en natuurlik ook makliker is om skoon te hou. Dink 1meter by 1meter groottes of selfs groter.

Hierdie grootformaatteëls werk uitstekend in moderne, minimalistiese ruimtes. Dit laat ’n badkamer onmiddellik groter, luuks en modern lyk.
Hierdie is veral ’n goeie keuse as jou dekorstyl minimalisities en simplisties is.
10. Sagte skaakbord patrone

Vergeet van die tradisionele swart en wit checkerboard-vloere, in 2026 beweeg die skaakbord teël patroon na ’n meer sagte en verfynde voorkoms.


In plaas van die harde swart-en-wit kontraste kies ontwerpers nou kleure soos:
room en sand, terracotta en blos, olyf en linne, of beige en taupe
Kleiner “micro-check” patrone raak ook al hoe gewilder.
11. Vertikale teëluitlegte

Die plasing van teëls in ’n meer vertikale uitleg voel en lyk meer kontemporêr. Die tradisionele subway-teëls in die horisontale baksteenpatroon word vervang deur ’n netjiese vertikale uitleg.


Vertikale teëls laat mure hoër voel en gee badkamers ’n meer moderne en 2026 gevoel.
Werk die beste saam met teëls en voeglyne wat naby aan dieselfde skakering is (soomlose afwerkings) vir daardie minder besige voorkoms en meer oop en skoon met maksimum impak
12. Natuurlik klip en travertyn (travertine) teëls

Hoewel hierdie voorkoms nie vir almal is nie, word die natuurlike klipteël voorkoms al hoe meer gewild.


Travertyn-voorkoms porseleinteëls, kalksteenafwerkings en sagte, mat teksture skep daardie gewilde “quiet luxury”/ stille luuksheid gevoel wat tydloos eerder as trendgedrewe voel.
Wenk: kombineer dit met pragtige houtaksente, goue metaal stortkoppe en krane en warm dekor aksente.






