Dit is Januarie en elke liewe winkel het ’n uitverkoping, al hierdie afslag voel onweerstaanbaar, selfs al gaan dit gepaard met ‘n skeut paniekaankope.
Indien jy al by winkels uitgeloop het met sakke vol winskopies waroor jy net later gaan spyt wees, is jy nie alleen nie!
Wees hierdie Januarie intensioneel met jou modekopies, koop slimmer, nie meer of vinniger nie.
Ons deel ses praktiese wenke om uitverkopingsangs te vermy en slimmer mode besluite te maak. Deur Justine Kroes
Waarom die gevoel van uitverkopingsangs?
Uitverkopings angs is daardie gevoel dat jy dalk iets gaan mis as jy nie dadelik ’n kopie op afslag maak nie. Beperkte groottes, afteltye en “laaste kans” boodskappe in helder rooi letters in winkels (en aanlyn) is ontwerp om die gevoel van angs rondom uitverkopings aan te hits.
Die waarheid? Die meeste uitverkopings word herhaal en trends beweeg vinnig verby.
’n Ware winskopie is daardie kopie wat werklik vir jou klerekas, persoonlike styl en lewenstyl werk.
7 Wenke om uitverkopingsangs vry te spring:
1. Wees bewus van impulsiewe kopies
Impulsiewe kopies of klere op uitverkoping-aankoop kan duur en onnodig raak. Daardie impulsiewe kopies gebeur wanneer jy nie beplan om iets te koop nie, maar die uitverkopingsangs en rooi etikette verlei jou net te maklik.
Wanneer jy voor ’n uitverkopingsrak staan, herinner jouself “daar is ’n rede hoekom hierdie klere op uitverkoping is”.
Vra jouself ook die vraag: “sou ek volprys vir die item betaal het?”.

Sodra jy hierdie vrae vir jouself begin vra, sal jy meer bewus raak oor moontlike impulsiewe kopies en meer intensioneel wees oor jou modebesluite.
2. Koop met ’n plan
Dit is belangrik om die winkels in te vaar met ’n duidelike plan om uitverkopingsangs en skuldgevoelens oor verkeerde klerekoop keuses te vermy.
Gaan eers deur jou klerekas en maak seker oor dit wat jy reeds het en nodig het.

Maak ’n lys van die items wat jy nodig het (hier sal jy ook vinnig agterkom waarvan jy te veel koop of reeds het). Byvoorbeeld, jy benodig; “’n denimbaadjie, ’n swart broek, ’n paar sandale”, hou hierdie items in gedagte wanneer jy klere koop – dit sal die inkopieproses makliker maak en jou twee keer laat dink of jy werklik nog ’n swart bloes nodig het.

3. Koop kwaliteit
Kwaliteit bo kwantiteit. Kwaliteit wen altyd, vyf goeie kwaliteit kledingstukke waarvan jy werklik hou sal 100% meer gedra word as daardie vyftien impulsiewe uitverkoping kledingstukke wat bydra tot jou geklotterde klerekas.
Goedkoop koop is meeste van die tyd duur koop.
4. Stel vir jouself reëls
Volg hierdie drie goue reëls voordat jy koop”
Reël 1; 5 Wear rule
Die “5 wear rule” – Vra jouself voordat jy koop, “kan ek hierdie item by 5 ander kledingstukke in my klerekas dra?” Indien die item slegs by een spesifieke ander item pas of slegs vir een geleentheid gedra gaan word, is dit dalk nie die koop werd nie, selfs al is dit 60% afgemerk.

Reël 2; Pas dit by jou stylpersoonlikheid en leefstyl?
Wees eerlik oor jou alledaagse uitrustings, indien jy baie van die huis af werk, het jy werklik nog ’n blazer nodig? Of as jy tans in sandale en tekkies leef, hoe gereeld gaan jy werklik daardie hoëhakskoene dra?

Reël 3; Pas bo prys
’n Goedkoop item wat nie pas soos dit moet nie is steeds ’n mors van geld (en tyd), hier’s hoekom:
Jy gaan in elkgeval die kledingstuk moet laat kleiner, groter, langer of korter maak sodat dit reg pas, en as jy ooit eendag werklik daarby uitkom, gaan dit in elkgeval vir jou ’n paar ekstra rand kos. Vra jouself af; is ’n item wat nie reg pas nie (afslag of nie) regtig die ekstra moeite werd?

5. Koop eerder stapels
Dink anders oor Januarie se uitverkopings, gebruik hierdie geleentheid om te belê in goeie kwaliteit stapel-items. “Basics” eerder as trend kledingstukke.
Wees op die uitkyk vir kwaliteit denims, linnehemde en rokke, klassieke swembroeke of sandale. Tydlose items wat jy weet oor ’n jaar van nou nog steeds ’n goeie aankoop tot jou somerklerekas sal wees.
6. Afkoelperiode
Skep vir jouself ’n afkoelperiode, as jy dalk aanlyn koop, voeg die items by tot jou virtuele “mandjie” en loop weg vir ’n paar uur (of selfs oornag). As jy die volgende dag steeds nie daardie item uit jou gedagtes kan kry nie (en mits dit binne jou uitverkopingreëls pas) dan sal die aankope minder emosioneel en meer intensioneel wees.

Laastens;
7. Onthou, ’n uitverkoping is nie ’n sperdatum nie
Jy hoef nie iets te koop net omdat dit afgemerk is nie. Die beste stylbesluit vir Januarie is om die jaar te begin met ’n klerekas wat doelbewus en intensioneel saamgestel word en jou ware styl weerspieël.
Koop met selfvertroue, nie paniek nie, jou toekomstige klerekas en uitrustings sal jou bedank!





