Tafeldekwenke sodat jou tafel ook ’n storie kan vertel

Leefstylontwerper Gera De Wet deel haar beste tafeldekwenke. Sy glo jou tafel moet ’n storie vertel en is lief om oud en nuut te meng en ‘high en low’-items saam te gebruik. Deur Suzanne Koté. Foto’s Gera de Wet

Gera de Wet se beste tafeldekwenke

Ons verkyk ons altyd aan die mooi tafels wat Gera de Wet op haar Instagram en Facebook-blad deel. Sy is #tafeldek-inspo en juis daarom het ons haar gevra om haar beste tafeldekwenke met ons en Stylvol-vriendinne te deel.

1. Neem jou ‘canvas’ in ag

Waar jy jou tafeldek moet altyd jou beginpunt wees. Die eerste wenk wat ek gebruik voordat ek nog tafels begin versier of items bymekaar te kry, is waar dit is. Is dit in ’n eetkamer met wit mure, pienk mure, in die tuin, op die grasperk.

Die linne handdoekies wat as servette gebruik is, is Gera se ontwerp en beskikbaar by Heimwee Huis.

Dit help nie die tafel wat jy dek pas nie by jou ‘canvas’ nie, dan voel alles uit plek uit.

2. Kies ’n fokusitem (hero)

Hetsy dit ’n mooi blom, blommerangskikking of kandelaar is. In meeste gevalle is dit my tafeldoek of selfs ’n rou tafelblad. En dan sal ek begin items soek.

Gera de Wet by een van haar mooi gedekte tafels.

Die swart en wit geweefde stoele was my fokusitem vir hierdie tafels wat ek gedek het vir ’n funksie. Die restaurant was taamlik donker, maar dit het ’n pragtige uitsig op die see en palmbome gehad.

Dit sou te voorspelbaar wees om die tafel swart en wit te dek en ek was geinspireer deur die hele Palm Springs gevoel. So saam met die pastel linne het ek geweefde plekmatjies (van Pep Home) gebruik saam met borde en eetware wat ek geêrf het.  

3. Laag op laag is belangrik om tekstuur te skep

Ek is iemand wat hou van baie lae op mekaar, soos jy kan sien met die klomp verskillende linne en geweefde plekmatjies.

PS: Gera glo nie in lopers op ’n tafel nie. “Vir my lyk dit asof jou geld opgeraak het. Ek sal slegs ’n loper gebruik om ekstra tekstuur te gee, bo-op ’n ander laag.”

4. Dink nuut oor items

Ek gebruik nie noodwendig ’n tafeldoek as ’n tafeldoek nie. Soms het ek ’n mooi gordyn (wat ek sommer afhaal).

5. Jou tafel moet ’n storie vertel

Soos met interieurprojekte wat ek aanpak, glo ek alles op jou tafel moet ’n storie vertel. Hoe ek my storie vertel met tafelversier is om items te meng wat meer kontemporêr is, nuutgekoopte items, iets wat ’n bietjie meer van ’n tendens is gekombineer met oudhede.

Ek is gelukkig dat ek baie oudhede en antieke items geêrf het oor die jare, ek het ook al vanaf studentedae self baie oudhede aangekoop.

Om oudhede te kombineer met nuwe items gee nie net dimensie en karakter aan ’n tafel nie, maar dit word ook geselspunte.

Gera de Wet

Die storie word ook verbaal vertel. Ek sal altyd vertel waar ek iets gekoop het, van watter land af dit kom, by watter ouma, of skoonma of ma ek dit gekry het, of watter vriendin dit vir my gegee het.

6. Naambordjies vir elke gas

Ek dek graag naambordjies vir elke gas, en dan sit ek mense langs mekaar wat ek weet mekaar gaan uitdaag met nuwe interessante gesprekke. Dit hou ook die tafel se ambience interessant.

7. Blomme is van kardinale belang

Ek glo nie jy kan ’n tafel dek sonder blomme nie, hetsy dit ’n enkel steel of ’n tafelrangskikkig is. Ek is geseënd met ’n groot tuin. My familie, my ma en ouma is bobaas blommerangskikkers en ek leer al van kleins af blomme doen by hulle.

8. High/low

Soos met my interieurprodukte glo ek aan ‘highs and lows’ . Ek sal goedkoper en duurder items meng, byvoorbeeld duur tafellinne met plekmatjies van Pep Home of kerse van H&M.

(Ek is op die oomblik mal oor die kerse van H&M wat op Superbalist beskikbaar is.)

Stylvol

Handige ekstra wenke en raad, spesiale afslag en wenke, slegs vir die binnekring.

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui

Oor ons

Stylvol sosiale media

Nog Stories
beddegoed
Die beddegoed wat ons nou wil hê
error: Content is protected !!