’n Familie-beheersentrum kan jou en jou gesin help koershou tussen ’n warboel gesins- en skool-aktiwiteite. Die meeste van ons voel skaars ’n paar weke in die nuwe jaar in of ons sukkel om kop te hou en hopelik help hierdie ons om beheer te neem. Deur Suzanne Kotzé
Wat is ’n familie-beheerstentrum?
Dit is meestal ’n vertikale spasie, soos ’n muur, wat jou gesin help kophou; van skedules tot pos, papiere en selfs sleutels. Jy kan dit aanpas soos en hoe jy wil om by jou gesin se skedules aan te pas.
Sommige mense verkies om alles vanaf spyskaarte tot inkopielysies op hulle sentrums in te sluit, terwyl ander hoofsaaklik op aktiwiteite fokus. Dink aan die goed waarmee julle sukkel: Om te onthou wie, waar en wanneer moet wees. Papiere wat wegraak, sleutels wat soek is. Skryfbehoeftes wat op is. Pas dit hiervolgens aan.
Waar is die ideale plek vir jou familie-beheersentrum?
Dink aan die spasie waar almal in die huis goed neerplak; dikwels by jou voordeur of dalk jou eetkamertafel? Die ideaal is dat jou sentrum op so ’n sentrale plek moet wees, waar almal dit kan sien.
Dit hang natuurlik ook af van jou muurspasie. Ons het baie min muurspasie in ons huis, so ek het die muurspasie in ’n pajamalounge net buite die kinders se kamers gebruik hiervoor. Dit is waar hulle daagliks huiswerk doen en al hulle skoolgoed is.
’n Ander opsies is langs die deur wat van jou motorhuis na jou huis gaan.
Wat hoort op jou familie-beheersentrumspasie?
Ek het onlangs hierdie familie-beheersentrum vir ons familie gemaak. Die enigste ding wat ek nuut bygekoop het, was die reuse kalender. Alles anders is ou goed, wat uit my tuiskantoor of verskillende plekke in die huis kom. Jy sal verbaas wees hoeveel goed jy dalk reeds het.
Kalender
Gebeure soos skoolprojekte, partytjies en ander sosiale verpligtinge kan hierop neergeskryf word. ’n Skryf en afveebord of ’n groot papierkalender werk goed hiervoor.
Die groot kalender is van Typo, en het genoeg plek om gebeure vir verskillende mense in verskillende kleure op neer te skryf. Dit verkoop blitsig uit, so as jy een in die winkel sien, koop dit dadelik.
Weeklikse aktwiteitslysie
Hierdie is vir aktiwiteite soos skoolsport of spesifieke vergaderings, wat meestal onveranderd bly. Dit verander dalk kwartaalliks.
Papierorganiseerder
Daar is altyd ’n klomp los papiertjies wat huistoe kom en dan soek is as jy dit nodig het. Hou sommer vir elke kind hul eie houertjie waarin hulle of jy al die skoolpapiere kan druk en weet waar dit is.
Ekstra skryfbehoeftes
Sodat jy op jou kalender kan skryf. Ek bêre ook sommer ekstra skoolskryfbehoeftes hier, sodat die kinders nie vir my hoef te sê: “Mamma, ek kort nog gom nie.” Almal weet waar dit is, en kan net self inpak skool toe.”
Horlosie
Sodat almal kan sien hoe (meestal) laat of vroeg hulle is.
Sakkie vir kabels
In ons huis is foonkabels en laaikabels altyd soek. Hierdie is ’n ongebruikte grimeersakkie wat ek net met duimspykers vasgedruk het..
Muur/Kurkbord
Ek het hierdie kurkbord jare gelede ontwerp en laat maak by Get Cork en dit was beslis een van my beste planne nog en was al alles van ’n bed se kopstuk (met liggies daarteen) tot ’n fotobord, kantoorbord en nou is dit die agtergrond vir ons familie-beheersentrum.
Jy het natuurlik nie kurk nodig nie. Jy kan net jou muur verf of ’n hout ‘peg board’ benut. Die kurk is wel handig, aangesien jy nooit goed in die mure hoef in te slaan nie.
Familie-beheersentrum inspirasie
In jou voorportaal
Maak seker jou beheersentrum pas by jou dekor. Ons is gaande oor hierdie minimalistiese styl.
Gebruik ’n kombuismuur
Of selfs teen die kant van ’n kas kan ook werk.
Slim met spasie
Kyk net hoe slims is hierdie deur benut! Hierdie is ’n lekker plan vir jou garage se binne/huisdeur. Swartbord verf is gebruik en vele items het jy dalk reeds in jou huis, soos die halwe geut en geuthakke!
Kyk net hoe oulik is hierdie idee. Bêre en terug skooltoe papierhouers en ’n krat met elke kind se naam op om skoolgoed/rondlêgoed in te sit.
Familie-beheersentrum kopies
Onthou voor jy koop, kyk gerus wat jy by die huis het.