Het jy ook al ontelbare kere tevergeefs probeer om pragtige huisplante te red? Hier is ‘n plantkenner se raad, slim truuks, moets en moenies en redes hoekom plante se blare geel word. Lees hier as jy ook droom van grasgroen vingers en huisplante wat gedy. Deur Justine Kroes
18/09/2023
1. Maak seker jy vee plante se blare gereeld skoon
“Plante moet kan asemhaal en dit doen hulle deur hul blare. Maak daarom seker jy vee hulle gereeld skoon,” sê Andreas Keller, plantkenner van die winkel en aanlynwinkel www.plantify.co.za. “’n Lappie met louwarm water en ’n klein bietjie skottelgoedseep is al wat jy nodig het om die blare goed skoon te vee.”

2. Moet ek my plante draai of roteer?
Andreas verduidelik: “Dit sal afhang van die lig wat die plant kry – as die lig van net een rigting af kom, moet jy die plant gereeld draai. As jy dit nie draai nie, sal jy agterkom die plant groei – of leun – in die rigting van waar die meeste lig kom. As jy jou plante gereeld genoeg draai, sal dit die ‘skewe’ groei van die plant uitbalanseer.”

3. Help! Hoekom raak my plant se blare geel?
Andreas se raad: “Geel blare beteken dikwels dat jy jou plante te veel water gee, en dit gebeur veral in die winter. Jy kan die geel blare verwyder om die plant te help om na normaal terug te keer. Wees versigtig vir te veel water.”
4. Groepeer jou plante bymekaar

Glo dit of nie, dit is goed vir jou plante om saam gegroepeer te word. “Wanneer jy plante naby aan mekaar plaas, skep jy ’n ‘mini-ekosisteem’. Elke plant gee humiditeit af wat goed is vir die plante rondom hom. Veral plante soos ’n begonia, wat baie sagte blare het, sal ander plante se omgewingsgtemperatuur rondom hulle waardeer,” verduidelik Andreas.
5. Hoe gereeld moet ek plante natmaak?
Jy is óf in die “ek gee my plante te veel water”-kamp, óf in die “ek vergeet om my plante nat te maak”-kamp.
Andreas stel ’n oplossing voor: “Probeer om nie vasgevang te word in die denkwyse van ‘hoe gereeld’ jy jou plante behoort nat maak nie. Maak bloot ’n gewoonte daarvan om in die winter (of somer) een keer per week op dieselfde dag na die toestand van jou plante te kyk. Is die grond droog – druk jou vinger in om te toets – of lig die pot op om te sien of daar nog water onderin lê. Besluit dan of die plant water nodig het of nie.”

6. Is ’n waterpen die antwoord?
’n Waterpen (water spike) word gebruik om seker te maak jou plant kry genoeg water. Die toestel word met water gevul, in die grond gedruk en die plant “drink” water soos nodig.
“Daar is natuurlik baie soorte van dié toestelle op die mark en party werk beter as ander. Die grootste risiko is dat mense sal aanneem dat die toestel vir altyd vir die plant sal sorg. Jy behoort dit eerder as ’n hulpmiddel te gebruik om na jou plante om te sien,” is Andreas se raad.
“Verstaan dat die toestelle nie jou verantwoordelikheid vervang om steeds te kyk hoe jou plant vaar nie. Kyk steeds of die grond te nat of te droog is, en let steeds op na die gesondheid van die blare en wortels.”
7. Gee plante ‘n bietjie ekstra sorg
Piesangskille
Het jy al gehoor van die truuk om piesangskille in warm water te week, en dan die water (wat glo ryk aan voedingstowwe soos kalium en kalsium is) te gebruik om plante nat te maak? Meer daaroor hier.
Gemaalde koffie
Gemaalde en klaar gebruikte koffie kan ook glo goed vir die grond wees. Gemaalde koffie gee glo stikstof aan die grond wat die plant help om voedingstowwe en water te absorbeer. Dit is ook glo nuttig om goggas en plae te keer. Vir huisplante is ’n teelepel meer as genoeg.
Bemesting
Andreas van Plantify sê hulle het nog nie hierdie truuks probeer nie, hoewel baie mense daaraan glo. “Ons sou eerder voorstel dat jy kunsmis gebruik – dan kan jy gerus wees dat jou plante al die regte hoeveelhede voedingstowwe kry.”
8. Praat met en speel musiek vir jou plante
Andreas sê daar is g’n twyfel dat positiewe bevestigings soos gesels en musiek plante help om te groei en gedy nie. “Plante reageer ook op emosies, hou dit in gedagte rondom jou plante!”
9. Probeer maklike plante eerste
Indien jy raadop is met plante wat net nie hou nie, probeer ’n slag dalk ’n plant wat maklik is om na om te sien, dit sal sommer jou selfvertroue ‘n hupstoot gee. Andreas stel die volgende plante voor: “Vir beginners sou ek ’n geraamteplant (delicious monster) en die heartbeat philodendron voorstel, albei is maklik (en mooi!) om na om te sien.
Ná ’n ruk sal jy leer om ’n intuïtiewe gevoel te kry van wat die plant nodig het en daarop te reageer. Streef na ’n simbiose tussen jou en jou plante. Daar is nie ’n reg of verkeerd nie, kry ’n ritme wat vir jou en jou plante werk.
Loer ook gerus na die Plantify-webstuiste – daar is ’n hele afdeling van “maklike” plante, asook volledige raad en wenke oor hoe om na elke plant om te sien, soek eenvoudig die plant se naam hier en leer meer oor hoe om vir jou plant te sorg.
10. Hou moed, jou plante sal by jou leefstyl aanpas
’n Interessante opmerking wat Andreas gemaak het, is dat plante heel veerkragtig is, en dat ’n plant slim genoeg is om by jou (selfs vergeetagtige) natmaakskedule aan te pas.