Weg is die dae van bonkige troeteldierbeddens en plastiek kosbakke in neon skakerings. In 2026 word troeteldier bykomstighede ontwerp om soomloos by jou huis se dekorstyl te pas.
Hier is ’n paar handige wenke en die allermooiste stylvolle troeteldierbykomstighede vir jou spasie. Deur Justine Kroes
Troeteldierbykomstighede vir ‘n stylvolle huis
Troeteldierbeddens
Honde- en katbeddens behoort lankal nie meer ’n oogseer in die een hoek van jou huis te wees nie. Het jy geweet jou dierekind slaap tot en met 14 uur per dag, klein hondjies slaap selfs 20 uur lank, so hul beddens is uiters belangrik.
Indien jy op soek is na ’n troeteldierbed, hou die volgende in gedagte:
Tipe materiaal:
Oorweeg troeteldierbeddens in goeie kwaliteit afwerkings en materiale. Kies slim met wasbare oortreksels vir maklike instandhouding.
Dit is ook ’n goeie idee om materiaal te kies wat UV bestand is, hierdie maak jou troeteldierbed perfek vir beide binne- en buitegebruik.
Kleur van material:
Neem natuurlik ook die kleur van jou dier se bed in ag. Ons is almal lief vir neutrale kleure, maar oorweeg die kleur van jou troeteldier se hare en hoe sigbaar dit op die materiaal sal wees.
Onthou: ‘n Patroon-materiaal sal natuurlik nie so vinnig vuil wys nie
Laat pas by jou dekor:
Kies ook dierebeddens in skakerings wat by die res van jou dekor, kleurskema en gevoel pas – anders staan daardie hond- of katbed uit soos ’n seer duim

Waar jy die bed plaas:
Skep knus hoekies vir jou troeteldier se bed of slaaparea in maklik toeganklike areas.
Dink aan onder die trappe of in jou kombuiseiland versteek.

Daar is vandag allerhande slim dierebed-ontwerpe – van stylvolle vorms (rond tot reghoekig) tot die wat van die grond af opgebou is met hout of staal.
Kies ’n ontwerp en afwerking (hout of staal) wat goed by die res van die dekor in jou huis pas.
Hou die grootte van jou troeteldierbed in gedagte, siestog, groot genoeg dat jou troeteldier gemaklik op die bed kan uitspan maar ook nie te groot sodat die grootte van die bed jou hele leefarea oorheers nie.

Let op na die versorgings fynskrif
Kom ons wees eerlik, ’n dierebed word blitsvinnig vuil. Wees op die uitkyk vir ’n bed met oortreksels wat verwyder kan word en masjienwasbaar is. Kyk ook gerus na bedontwerpe waar jy ekstra oortreksels kan aankoop.
Troeteldierbeddens op ons radar:

Eetstasie en voerbakke
Vir ’n eetstasie, kies mooi voerbakke wat higiënies en hoog genoeg vir jou dieremaat is.
Slim stoorplek
Stoorplek vir jou troeteldier se speelgoed is noodsaaklik, speelgoed wat oral oor rondlê kan vinnig ’n spasie geklotter en deurmekaar laat lyk. Dink anders oor stoorplek en hou jou troeteldiere se speelgoed georganiseerd in mandjies wat bereikbaar is vir jou troeteldier om self uit te haal.
Dit mag dalk ’n goeie idee wees om ’n spesifieke ophangplek te hê vir hals- en leibande sodat almal nie altyd daarvoor soek nie. Kyk hoe oulik is die idees van Pinterest:



Stoorplek vir kos:
Maak ook seker kosvoorraad word veilig in ’n kas gestoor en indien jy ’n houer gebruik, maak seker dit is ’n verseëlde houer om die kos vars te hou.
Klimtrappe en krappale
Verby is die dae van reuse krappale wat jou leefarea oorneem en met jou dekorstyl bots. Vandag se kattrappies en krappale is ontwerp om soomloos by ’n moderne huis in te pas.
Dink aan drywende houttrappies wat soos muurdekor lyk, minimalistiese krappale met natuurlike afwerkings, en neutrale klimstelsels wat by jou kleurpalet aansluit.
Wenk: Laat pas houtafwerkings van krappale, beddens en trappies by jou meubels se hout en kies materiale en skakerings wat by jou huidige dekor pas. Mits dit nou neutraal of kleurvol en bont is.

Psst: plaas kattrappies naby ’n venster vir ’n stylvolle, sonnige “kat-hoekie”.
































