Met hierdie stylvolle swembadbykomstighede kan jou swembad by die huis soos ’n luukse boetiekhotel voel. Luilekker somerkuiers en rondlê langs of in die water met ’n vuurtjie wat knetter, is ons idee van ontspan. Deur Suzanne Kotzé
Wenke vir ’n stylvolle buite-area
Hou by ’n kleurskema.
Die kleur van jou buitemeubels, kussings en sambreel behoort mekaar te komplementeer. Vermy dit om elke keer net nog ’n opblaaslilo te koop sonder om die kleur in ag te nou. Neem ook die kleur van jou swemhanddoeke in ag. (Al hou jy hulle vir wanneer julle onthaal, want ons weet kinders en handdoeke …. ’n mens kan nie voorbly nie).
Houers vir rondlêgoed.
Die swembad-area is vir pret hê en ontspan, en as jy kinders het, gaan dit gewoonlik met speelgoed en meer gepaard. Maak dit maklik vir die kinders om hul speelgoed te bêre deur ’n houer te hê waarin hulle al die buitespeelgoed kan gooi.
Koop duursame buitemeubels
As dit by buitemeubels kom, en veral jou groot items soos banke en stoele, is dit beter om die heel beste kwaliteit te koop wat jy kan bekostig. Onthou goedkoper items, soos dekstoele, wat nie van hout gemaak is wat reën en sonbestand is nie, moet opgevou en gebêre word wanneer jy dit nie gebruik nie.
Dink aan stoorspasie
Voordat jy daardie groot ‘beanbag’ koop vir langs of in die swembad, dink waar jy dit gaan stoor as dit winter is. Pas dit by die kleurskema van die res van jou huis sodat jy dit dalk binne iewers kan gebruik?
Pak weg en reg as jy klaar gekuier het
Dit is maar te maklik om net alles so dit los as jy klaar gekuier het. Maar die wind en weer kom vinnig oornag op, en een keer se natreën word maklik vele keer se natreën. ’n Duur sonsambreel wat geknak het of opblaasspeelgoed in die rose, is iets waarmee baie van ons dalk net te bekend is.
Stylvolle swembadbykomstighede
The Teepee People Floating Beanbags. Hierdie ‘beanbags’ is in ’n verskeidenheid kleure, groottes en materiaalkeuses beskikbaar. Van die standaard Aqua Loungers (vanaf R1 980) tot die Aqua Loungers Deluxe (R2 480, die materiaal wat gebruik word is meer duursaam) en Premium Loungers (R4 980, kan tot 200kg hou). Glo ons, almal gaan baklei om of op die water of buite die water op hulle te lê. Dit absorbeer wel water in die swembad, en kan swaar wees om uit te lig, maar word weer lekker vinnig droog in die son.