Stileer slim; 14 truuks om slanker te lyk

Ons ken self die gevoel, daardie dae wanneer jy uitrusting na uitrusting probeer en net nie goed voel in dit wat jy aanpas nie. Hier’s hulp! Ons deel 14 handige en slim stileertruuks vir slanker lyk vir wanneer jy daardie ekstra tikkie selvertroue benodig – g’n kalorieë hoef hier getel te word nie. Net slim stilering! Probeer dit op daardie afdag wanneer jy dalk nie op jou mooiste voel nie. Deur Justine Kroes

27/06/2025

14 Truuks om slanker te lyk:

1. Omhels die krag van ’n monokroom uitrusting

Om een skakering te dra van kop tot tone om ’n slanker voorkoms te skep, is een van die oudste stileertruuks wat bestaan. Klere met patrone kan maklik ekstra volume skep in ’n uitrusting, wees dus versigtig met patrone en die tipe patrone (fyn of groot) wat jy kies.

Om van kop tot toon swart te dra skep ’n lang regaf, vertikale voorkoms; die resultaat? ’n Langer en slanker voorkoms in ’n japtrap.

Dit hoef nie noodwending net swart te wees nie, enige donkerder skakerings van rooi, vlootblou of groen werk net so goed.

2. Kies hoëmiddellyf-alles

Hoëmiddellyf broeke, denims en rompe verleng en verslank jou bene en beklemtoon ’n kleiner middel wat die visuele effek van ’n uurglas-figuur skep.

3. Vertikale lyne en soomlyne

Ons weet teen die tyd al om eerder horisontale lyn te verruil vir regaf vertikale lyne vir ’n vleiende voorkoms. Vertikale lyne, selfs vertikale ritssluiters, lei oë op en afwaarts, wat ’n verslankende effek het.

Vertikale lyne werk amper soos ’n optiese illusie wat jou liggaam sal verleng, jou natuurlik langer en sommer dadelik slanker laat lyk.

As jy huiwerig is vir te veel lyne, kies dalk ’n broek met ’n resiesstreep langs die kant van die broek af, dit sal ook die gewenste effek hê. 

4. Pasgemaak vir jou eie lyf

Klere wat nie reg sit nie, soos byvoorbeeld ’n broek of blazer baadjie wat te groot is of op die verkeerde plek eindig, kan veroorsaak dat jy groter lyk as wat jy werklik is.

Om die regte lengte vir daardie baadjie of broek te vind, kan ’n drastiese verandering aan jou proporsies maak. Spandeer geld en neem al daardie kledingstukke wat jy al lankal moes laat pasmaak vir jou eie lyf. ’n Goeie kleremaker (tailor) behoort een van jou beste modevriende te wees.

So kry jy natuurlik ook meer dra uit jou huidige klerekas.

5. Gebruik V-nek-halslyne

Hierdie neklyne trek oë na onder en verslank en verleng jou nek-area. Hierdie balanseer breër skouers of ’n groter borsmaat.

Vermy crew/neck hemde indien jy graag jou bo-gedeelte wil verslank.

6. Kies donker vir onder

Donkerder broeke en rompe met ligter hemde en bloese verskuif weer die oë en aandag opwaarts. Hierdie stileertruuk verleng jou bene en balanseer jou silhoeët.

Swart, houtskool, vlootblou, donkerbruin is universele donker skakerings wat goed sal werk om jou ondergedeelte te verlsank.

7. Materiale met struktuur

Sag gedrapeerde materiale is pragtig, maar materiale wat klou en kleef verklap dalk meer as wat jy dink dit gaan.

Kies eerder materiale met effens meer struktuur soos katoenkombinasies wat sag val oor kurwes sonder om aan hulle vas te klou.

8. Puntskoene vir langer bene

Ruil gerus jou rondepuntskoene vir skerper, puntige skoene. Die ronde vorm kan jou bene korter laat lyk, terwyl die skerppuntskoene jou bene sal “verleng” en die illusie van langer bene skep. ’n Neutrale, beige, vleeskleur of ligtebruin skerppuntskoen met ’n hak vir ekstra lengte is veral hier ’n staatmaker.

9. Dra die regte grootte

Oorgroot klere sal dalk al jou figuurfoute wegsteek, maar dit sal jou beslis groter laat lyk as wat jy werklik is. Vierkantige en losspassende klere is net vleiend as jy die balansreël toepas, byvoorbeeld as jou hemp lospassend is, dra ’n noupypbroek daarby. Om proporsies te balanseer is uiters belangrik.

Die teenoorgestelde is natuurlik ook waar, klere wat te styf pas, voel nie net ongemaklik nie maar is dalk nie die vleiendste styl vir jou nie en sal moontlik areas beklemtoon wat jy eerder wil wegsteek.

10. Definieer jou middel

Hierdie stileertruuk is een van die maklikste maniere om blitsvinnig slanker te lyk. Om ’n gordel om jou middel te bind, trek dadelik die oë na die kleinste gedeelte van jou ligggaam toe. Dit skep definisie, balans en vorm in enige uitrusting.

Jy hoef ook nie altyd die gordel deur die lussies te ryg as dit nie is waar jou “true waist” sit nie, ons almal se lengtes, proporsies en lyfvorms is so verskillend van mekaar. Die truuk is om die kleinste gedeelte rondom jou middel te vind en die gordel daar vas te bind.

11. Vormdrag is ’n moet

Het jy al goeie vormdrag probeer? Glo ons, jy gaan nie terugkyk nie – ’n paar spanx wat die magie effens intrek, bobene styf vashou, boude lig en enige “lumps en bumps” versag, is ‘n gunsteling truuk in ons stileer-arsenaal.

Woolworths MAGIC COOLTECH Seamless Shaping Hip & Thigh Cycle Shorts (R399)
Woolworths MAGIC Firm Control Sculpting Hips & Thighs Slip (R499)

Vormdrag is die geheime wapen wat niemand kan sien nie. Dit sorg vir plat magies, verbloem selluliet en laat klere net sommer foutloos aan enige lyfvorm sit. Dit gee jou daardie ekstra tikkie selfvertroue wanneer jy daardie syerige rompie dra!

12. Probeer ’n oorvou rok

Die oorvourok of “wrap” rok is een van die gewildste rokke vir enige vrou met enige lyfvorm. Vir slanker vroue skep dit gewenste kurwes. En vir vroue met kurwes pas dit vleiend oor al die belangrike areas. Die V-halslyn is verslankend, die middel word ingetrek en gedefinieer, en die uitklok A-lyn styl val vleiend oor die boude en heupe.

13. Werk slim met bykomstighede

Het jy geweet iets so eenvoudigs soos juwele kan jou liggaamsvorm vlei? Werk strategies met jou juwele en bykomstighede.

As jy byvoorbeeld ’n groter onderlyf het, trek aandag en oë opwaarts deur ’n helder of bonkige halssnoer om jou nek te dra.

As jy ’n groter borsmaat het wat jy graag wil versag, kies dan eerder halssnoere wat langer is, dit trek weer oë afwaarts en en verleng die décolleté-area. Die krag van ’n langer halsnoer is soortgelyk aan die effek wat ‘n V-nek halslyn bied.

Selfs jou handsak kan jou kleiner of groter laat vertoon. As jy petite gebou is en jy dra ’n reuse oorgroot handsak, laat jy jouself selfs nog kleiner lyk. Die teenoorgestelde is ook waar, vroue wat langer en groter gebou is wat ’n piepklein handsakkie dra, kan hul nog groter laat lyk. Kies eerder ’n handsak wat proporsioneel is teenoor jou liggaamsbou, lengte en gewig.

Onthou, daar waar jy die bykomstighede dra of plaas, is waar die oë sal vestig, gebruik dit tot jou voordeel!

14. Postuur (en selvertroue) is alles!

Selfs die heel beste uitrusting kan platval as dit met slegte postuur gedra word. Staan regop, skouers terug en dra jou uitrusting met selfvertroue – die heel beste verslankingstruuk wat bestaan!

Stylvol

Handige ekstra wenke en raad, spesiale afslag en wenke, slegs vir die binnekring.

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui

Oor ons

Stylvol sosiale media

Nog Stories
Kies die regte swembroek vir jou lyfvorm
error: Content is protected !!