Stylvol, eksentriek en energiek is hoe ons die Pineapple House Boetiek Hotel in Seepunt, Kaapstad sal beskryf. Ons het onlangs ingeloer, en ons was so beïndruk met die spasie, die dekor en die pragtige stilering van elke gastekamer, vertrek en koffietafel. Ons gesels met eienaar Lesley Sykes oor die onstaan en spasie inspirasie van die pienk, pragtige Pineapple House.
Saamgestel deur Justine Kroes. Fotos: Greg Cox, Stilering: Luann Thoms.
19/07/2024
Hoe en wanneer het die gedagte agter Pineapple House onstaan?
Lesley Sykes, eienaar van Pineapple House Boutique Hotel sê: “Ek en my man Rupert het op die huis afgekom toe ons in Kaapstad vakansie gehou het, ons het toe nog in Londen gewoon. Hoewel ons oorsee gebly het, was die plan altyd om my man te oortuig om terug na Suid-Afrika toe te trek.”
“Pineapple House is verdeel in twee aparte huise, langs mekaar. Dit was die huis aan die linkerkant wat destyds in die mark was, ons het dit gesien en dadelik ons harte verloor op die spasie. Nadat ons die een helfte opgeknap het, kon ons toe die huis aan die regterkant ook koop.”
“Ons het toe besluit ons gaan ’n boetiek hotel open. Nadat ons albei spasies opgeknap, versier en stileer het, is die personeel opgelei en aangestel.
Drie maande nadat ons die deure van Pineapple House oopgemaak het, moes ons weer sluit weens die koronavirus pandemie. Ons het dit genadiglik deurgemaak met ons ongelooflike span, en ons het besluit om bewustelik na die positiewe te kyk.”
Hoe sou jy die dekorstyl in Pineapple House beskryf?
“Eklekties, bont, selfversekerd en prettig!”
Lesley Sykes, Eienaar Pineapple House
Waar kom die naam Pineapple House (PH) vandaan?
Lesley verduidelik: Ons het die “frosted” pynappeltegniek en logo-ontwerp op glas gebruik op bou- en dekor projekte in Londen en dit het baie gewild geraak – mense het gereeld gevra waar ons dit kry. Toe ons terug in Suid-Afrika is het ons die einste pynappelontwerp op die gebou gebruik en presies dieselfde ding het gebeur!
Toe dit tyd was om op ’n naam te besluit vir ons hotel het ons dadelik gedink die pynappellogo wat ons so graag gebruik sal goed werk. Daarby ook sommer toe die naam van ons klein hotel. Min het ons geweet dat ’n pynappel ook ’n teken van “welkom” en “gasvryheid” is.
Wie is verantwoordelik vir die ontwerpe en stilering van die spasie?
In samewerking met Melissa Kerkhoff van Lula Fabrics het ons die hotel self versier en stileer.
Ons het eindelose pret gehad om rond te speel met verskillende skakerings, materiale en natuurlik die pragtige kuns.
Lesley Sykes
Elke spasie in PH is so goed deurdink, beplan en uitgelê, vertel ons meer?
Lesley sê; My man Rupert het vir 21 jaar in Londen gewoon en het ’n bou-en-ontwerp-besigheid besit. Rupert het ‘n unieke gawe om ’n spasie uit te lê en beplan op so ’n manier dat die spasie ten volle benut word met stoorplek daarby. Boonop ook om soveel moontlik natuurlike lig in te laat.
Duidelik liefde en waardering vir plaaslike kunstenaars, ontwerpers en besighede in die spasie; hou jy daarvan om plaaslik te ondersteun?
Dit was vir ons belangrik dat gaste wat in die hotel kom bly of dit besoek die talentvolle kunstenaars en “creators” van Suid-Afrika kan ervaar. Van my gunsteling plaaslike kunstenaars, besighede en “creators” in die PH spasie sluit in: Mervyn Gers, SMAC Gallery, Krisjan Rossouw, Victoria Verbaan, Lula Fabrics, India Ink en Importers Coffee.
Wat was die “dekorvisie” toe die ontwerpproses begin het?
Lesley: Ons het geglo (en doen steeds) dat die dekor van die spasie prettig en helder moet wees, sekere elemente moet dadelik jou oë vang, maar die belangrikste is dat besoekers die spasie moet kan geniet.
Wat is jou gunsteling dekoritem in PH?
Defnitief die koraalkleur fluweelbank en turkoois stoele. Ons het destyds die meubels in ’n tweedehandse winkel in Woodstock gekoop en hulle is nou al ’n hele paar keer nuut oorgetrek.
Ek hou veral van die bank en stoele se tydlose vorm en natuurlik die gelukkige tye wat ons saam met spesiale vriende en familie op die banke geniet het.
Wat is jou wens vir mense wat PH binnetree?
Ek sal graag wil hê gaste moet geïnspireer voel deur die kleur, ontwerp en klein details in die spasie. En natuurlik om die gasvryheid en warmte van ons spesiale span te voel en ervaar.
Meer oor die spasie:
Pineapple House Boutique Hotel spog met 14 kamers, elk uniek ontwerp met sy eie karakter en nie een lyk soos die ander nie.
Daar is twee swembaddens en ’n pragtige uitsig van Tafelberg en Leeukop om elke hoek en draai. Dis geleë in ’n stil straat in die hartjie van Seepunt en 500 meter vanaf die naaste strand.
Klik hier om jou besoek te bespreek.
Toe ons Pineapple House verlaat het, het ons energiek en kreatief opgewek gevoel. Ons was sommer van voor af geïnspireerd om nuut te werk met die interessante dekorelemente wat ons tuis het en op interessante, onverwagte maniere uit te stal.
Spesiale dankie aan Lesley en die Pineapple House-span vir ’n besoek wat ons nie sommer gou sal vergeet nie!