Sorg so vir jou juweliersware

Een van ons gunsteling juweliers, (met ’n letterlike hart van goud!) Janine Binneman, deel haar top juweelskoonmaak, -bêre en -sorgwenke. Lees hier hoe jy beter na jou kosbaarste blink besittings kan omsien! Sorg so vir jou juweliersware, hier is 7 wenke: Deur Justine Kroes.

29/09/2023

7 wenke om vir jou juweliersware te sorg

1. Wees versigtig vir hitte en son

Jou juweliersware, veral edelstene, moet nie aan uiterste hoë en lae temperature blootgestel word nie. Edelstene kan kraak in uiterste temperature indien dit te warm of te koud raak.

Langtermyn blootstelling aan die son kan ook jou juwele beskadig, verduidelik Janine; “veral opale en pêrels, dit versoorsaak dowwe juwele en stene”.

Maak seker die bêreplek vir jou juwele is nie in ’n hoë sonlig area nie.

Ringe van Janine Binneman

2. Hou juwele weg van harde chemikalieë

Om juwele en edelstene gereeld aan chemikalieë bloot te stel kan die metaal en stene beskadig. Geplateerde (plated) juwele moet liefs nie gereeld aan chemikalieë, water, rome en lyfprodukte blootgestel word nie – die “plating” is maar ’n dun lagie van metaal wat die basismetaal bedek. Die dun lagie kan vinnig verweer indien dit gereeld aan bogenoemde blootgestel word.

Edelstene, veral sagter stene soos smaragde, tanzaniete, opale en pêrels moet eerder weg gehou word van chemikalieë en kommersiële juweliersware skoonmaakprodukte omdat hierdie tipe stene van nature meer poreus is, wat beteken hulle is meer broos en makliker kan beskadig word as ander stene.

Mooiste ringe van Janine Binneman

3. Hoe gereeld moet juwele skoongemaak word?

Janine verduidelik “Dit sal afhang hoe gereeld jy jou juwele dra. Hoe meer jy dit dra hoe meer gereeld sal jy dit moet skoonmaak”. Volgens Janine is die reël gewoonlik sodra jou edelstene en metaal begin dof en vaal lyk, dan is dit tyd vir ’n goeie skoonmaaksessie.

4. Maak jou juwele só self tuis skoon

Die meeste juwele kan eintlik met ’n klein tikkie Handy Andy, warm water en “elbow grease” skoongemaak word – onthou net om saggies te werk. Hou eerder verby met die Handy Andy op jou opale, smaragde en pêrels.

Indien die juwele baie vuil is, gebruik ’n tandeborsel met sagte borselhare om tussen al die groefies in te beweeg en skoon te maak met ’n stippel aksie. Spoel altyd jou juwele in skoon louwarm water af nadat jy dit skoongemaak het, en maak hulle goed droog met ’n sagte lappie.

Die beste manier om pêrels skoon te maak is om dit in louwarm water te plaas met ’n paar druppels Woolite, of ’n delikate klereskoonmaakmiddel. Borsel jou pêrels saggies met ’n sagte tandeborsel en spoel af in skoon water – onthou om goed af te droog met ’n skoon lappie.

Rnge van Janine Binneman

5. Stoor jou juwele so

Janine sê “Moet asseblief nie al jou waardevolle juwele in een groot opgehoopte houer stoor nie”. Jou pragtige juwele krap teen mekaar en beskadig as hulle almal so styf teen mekaar opgehoop lê.

Wenk: Kry vir jou ’n juweelkissie met laaie of aparte stoorplekkies om seker te maak elke juweelstuk word mooi netjies op sy eie gestoor. Hier is ’n paar mooi opsies:

Pedersen Lennard Purl Jewellery Box (R3 500)
Lovisa Cream Rectangle Jewellery Box (R400)

6. Raad vir gekoekte hangertjies

Ons het hierdie super slim en handige wenk geleer op Janine se “Top Tip Tuesday” op Instagram waar sy elke Dinsdag op sosiale media ’n juweelwenk deel (glo ons, ‘n moet volg!).

Dit het jy nodig om jou hangertjie te “ontknoop”:

  • ’n Haartangetjie (tweezer), ’n groot speld of doekespeld en babapoeier
  • Trek met die haartangetjie een kant toe en die speld anderkant toe om die kettinkies van mekaar los te kry. Trek al die stywe knope weg van mekaar af.
  • Indien jy voel dit sukkel, strooi klein bietjie babapoeier oor die hangertjies – hierdie laat die hangertjies oor mekaar gly.
  • Werk stadig en versigtig en kyk watter deel van die kettinkie moet bo-oor of onderdeur beweeg om die hangertjie te ontknoop.

Loer na Janine se oulike video hier

7. Neem jou juwele vir ’n diens

Janine verduidelik dit goed “Onthou jou juwele, nes jou kar of huis, benodig ook gereelde aandag of ’n skoonmaak deur ’n professionele persoon. Juwele met diamante of edelstene moet minstens een keer per jaar “ingeboek” word vir ’n “diens” om seker te maak al die kloue hou die stene nog goed vas en sommer vir ’n deeglike skoonmaaksessie wat jou juwele blink en slpinternuut sal laat lyk.

Stylvol

Handige ekstra wenke en raad, spesiale afslag en wenke, slegs vir die binnekring.

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui

Oor ons

Stylvol sosiale media

Nog Stories
Thrift (koop tweedehands) soos ’n kenner
error: Content is protected !!