Somer is hier en dit beteken dit is weer tyd om met ons vars gemanikuurde voete in die allermooiste somerskoene te spog. Van vissermansandale tot deursigtige balletskoene en skoene met versierings, hierdie 10 skoenstyle hoort op jou somer mode kooplysie te wees. Deur Justine Kroes
18/10/2024
1. Vissermansandale
Volop tydens die 2024 internasionale Lente/Somer modevertonings, is hierdie bonkige sandaalstyl. Dra gerus hierdie sandale met bonkige sole en bandjies by ’n vroulike kledingstuk om balans te skep.
2. Espadrilles
As daar een skoenstyl is wat die somer opsom, is dit die espadrille. Daar is feitlik honderde verskillende weergawes en ontwerpe beskikbaar wat beteken daar is ‘n espadrille styl vir elkeen onder die somerson. Of jy nou ’n hoë, lae, neutraal of kleurvol verkies.
’n Gunsteling skoenstyl hier by ons – hierdie skoenstyl is super gemaklik, nes die Toni Pons ontwerperskoene wat vanuit Spanje ingevoer word. Dit is die “real deal” wanneer dit by espadrille-styl skoene kom. Hierdie skoene word gemaak van ’n tipe tou-geweefde lap wat nie net gemaklik en lig is nie – maar is ook lieflik en koel aan jou voete te danke aan die natuurlike vesels, wat jou voete toelaat om “asem te haal”.
3. Tussen die tone
Ons kan dit self nie glo nie – maar visplakkies is ’n mode-moet vir somer 2024. Gesien op loopplanke by Miu Miu, Coperni en Chanel en daar is g’n twyfel dat fênsie visplakkies al hoe meer gewild gaan raak onder modeliefhebbers nie.
Plat sandaal of hakskoenstyle – solank dit tussen jou tone deurgeryg word is dit ’n mode-ja.
4. Plat aanglipsandale
Danksy die allerbekende Hermes skoensandaalontwerp is die plat aanglipsandaal steeds ’n somerskoen moet-hê. Die skoenstyl met ’n breë band oor jou voet is beskikbaar in skakerings van die reënboog, party met gespes, en ander met blinkers, pêrels en metaalkleurige afwerkings
Psst: wees versigtig vir te plat – ons vind partykeer (veral as ons ver stap) dat selfs ’n sandaal met ’n effense opgeboude hakkie meer ondersteuning vir jou voete bied as wat jy dink.
5. Laeprofiel tekkie
“Low profile sneakers” verwys na ’n simplistiese, moderne en neutrale skoenontwerp met ’n lae sool. Dink aan daardie neutrale tekkie wat by als sal pas en vir jare lank nog ’n gunsteling in jou klerekas sal wees.
6. Skoene met bandjies (slingbacks)
Hierdie bly ’n stylvolle en gemaklike skoenstyl – die hakkie is nie te hoog nie en is veelsydig om meer of minder formeel te stileer. Daar is so baie verskillende style van die sling back skoen beskikbaar dat feitlik elke persoon kan wegkom met ’n sling back skoenstyl – soos dit jou stylpersoonlikheid pas.
Jy kan ’n plat sool sling back kies vir ’n elkedag voorkoms.
7. Balletskoene met ’n verskil
Danksy die die “balletcore” modetendens is die balletskoen nou al ’n rukkie ’n mode moet-hê, maar hierdie somer is die mesh, of eerder deursigtige, balletskoen die modegunsteling.
Psst onthou – afhangend van hoe deursigtig jou balletskoen is, maak seker jou voete en naellak lyk steeds netjies, jy wil steeds afgerond lyk!
8. Juwele en versierings op skoene
Die perfekte somerskoenstyl vir die wat dit geniet om ’n tikkie blink te dra. Tans is hierdie somerskoenstyl volop in winkelskoenrakke. Hetsy dit ’n groot goue metaalversering is of pêrels reg rondom. Hierdie meer-is-meer skoen wat aandag trek is vanjaar ’n gewilde keuse.
9. Geweefde skoenstyle
Amper so deursigtig nes die mesh balletskoene – hoewel hierdie trend amper ’n gehekelde (crochet) of geweefde afwerking het. Van sandale tot mary-janes is hierdie geweefde skoen nog ’n gunsteling somerskoenstyl. Metaalkleure is veral ’n gunsteling hier by ons!
10. Unieke hakskoene
Hierdie skoen trend is beslis nie splinternuut nie – die unieke (of selfs ongewone) hakskoene is weer terug in die mode. Van allerhande vreemde vorme, kurwes en versierings – hoe meer uniek hoe beter.