Ons besef nie altyd hoe gelukkig ons is om besonderse talentvolle kunstenaars en ontwerpers onder ons neuse te hê nie. Met die onlangse Cape Town Furniture Week en Kamers Makers uitstallings is daar ’n hele klomp nuwe gunsteling ontwerpers op ons dekor‑radar.
Van unieke meubels tot handgemaakte kuns en luukse dekorstukke, hierdie plaaslike talent bring beslis karakter en kreatiwiteit na elke ruimte. ’n Fees vir jou dekor oë: Deur Justine Kroes
8 Plaaslike dekor gunstelinge:
1. ’n Spieël van Spectrum Mirror
Spectrum Mirror is ’n Kaapstadse ontwerpstudio wat ’n unieke reeks chromatiese spieëls ontwikkel deur verskillende suiwer metale in lae op glas te deponeer, wat ’n pragtige kleur‑gradient‑effek skep. Hierdie handgemaakte, luukse materiaal word plaaslik vervaardig , aangekoop en uitgestal in residensiële, kommersiële en ontwerpprojekte wêreldwyd.
Jy kan jou eie gradient-efffek kleur asook die vorm en grootte van jou spieël laat pasmaak tot jou voorkeur.
Kyk net hoe besonders mooi is hierdie:

2. Keramiekontwerpe van Vorster & Braye
Vorster & Braye is ’n Kaapstad-gebaseerde ontwerpstudio wat spesialiseer in handgemaakte keramieke, insluitend tafelware en dekorstukke met ’n moderne, minimalistiese estetika. Hul ontwerpe balanseer funksionaliteit en kuns, met elke stuk wat vervaardig word. Daar word gefokus op vorm, tekstuur en verfynde afwerking sonder oorbodige versiering.

3. Tekstiel kunswerk van Leila Walter Studio
Leila Walter van Leila Walter Studio is ’n Suid-Afrikaanse kunstenaar wat die verhouding tussen mens, tekstiel en landskap ondersoek deur handgemaakte en geweefde kunsstukke. Leila maak gebruik van natuurlike vesels en tekstielafval van die mode-industrie vir haar kunswerke. Deur stadige prosesse en handgeweefde bewegings verken sy hoe materiaal geheue en geskiedenis dra, met tapisserieë wat soos natuurlike lae op die aarde oor tyd opbou.
Elkeen van Leila se kunswerke is mooier as die volgende een, hoe kies ’n mens!
4. Lampe en beligting van Arkivio
Arkivio ’n ontwerpateljee gebaseer in Durban wat spesialiseer in handgemaakte spieëls, beligting en meubelstukke met ’n sterk fokus op vakmanskap en moderne ontwerp. Arkivio werk met plaaslike materiale en ambagsmanne, en hul projekte wissel van residensiële dekor tot luukse gasvryheidsruimtes, plaaslik én internasionaal.
Kyk net hoe mooi is hierdie ligte:

5. Bou jou eie kerse van Wax Lyrical
Wax Lyrical, ’n plaaslike handelsmerk wat handgemaakte kerse ontwerp met die fokus om atmosfeer, herinneringe en verbindings tussen mense en oomblikke te bevorder.
Jy kan jou eie kers met aparte stukke kers self bou en pasmaak tot jou persoonlike voorkeur. Verskillende skakerings en vorms so bo op mekaar gestapel.
’n Dopamiene hupstoot vir enige gedekte tafel!
6. Meubels van Wiid Design
Wiid Design is ’n Kaapstad-gebaseerde ontwerpstudio, gestig deur Laurie Wiid van Heerden, wat meubels, beligting en versamelbare ontwerpstukke skep wat kuns en funksie kombineer.

Die Wiid Design handelsmerk is bekend vir sy innoverende gebruik van materiale, veral kurk, in interessante en unieke meubelstukke.

Die span maak gebruik van tradisionele vakmanskap en eksperimenteer met uit-die-boks-dink tegnieke wat dan unieke, hoë kwaliteit en luukse ontwerpe lewer.

Van stoele, tafels, lampe, ligte en selfs dekorstukke. Kyk hoe besonders mooi en uniek is hierdie ontwerpe:



7. Buitemeubels van Haldane
Haldane is ’n Kaapstad-gebaseerde handelsmerk wat fokus op luukse buitemeubels, met ’n sterk ontwerpgedrewe benadering wat ’n verbinding tussen leefruimtes en die natuur skep.
Die span werk alleenlik op bestelling. Hul buitemeubels wat soos kunswerke in eie reg lyk, word plaaslik vervaardig, en word wêreldwyd gebruik in luukse residensiële en gasvryheidsprojekte.
Kyk net hoe mooi:
8. Dekoritems van Alkaline
Alkaline is ’n plaaslike ontwerpstudio wat in 2021 in die Midlands, KZN, gestig is en fokus op kontemporêre, handgemaakte huisware met ’n sterk estetiese en funksionele benadering.
Hul reeks sluit dekor- en leefstylitems soos kandelare, bakke, skinkborde en badkamerbykomstighede in, alles eties vervaardig deur ’n klein span plaaslike ambagsvroue.


























