As modetrends ons nou al iets geleer het, is een ding duidelik, modetrends is sirkelvormig en trends kom byna altyd terug in die mode. Net so vinnig soos wat jy daardie polkakol bloes diep weggebêre het, net so vinnig is polkakolle weer terug in die modekollig.
En vanjaar is polkakolle terug, groter as ooit. Van mikro to megakolle, kolle op deursigtige uitrustings, kolle in kleur met vlymskerp stilering daarby.
Die huidige polkakol gevoel is beslis minder retro en meer modern. Hier is 7 wenke om jou polkakolvoorkoms vanuit 2016 tot 2025 te neem met ’n polkakol koopgids daarby. Deur Justine Kroes
Hoe die polkakol se 2025 herlewing onstaan het:
Tydens die Lente/ Somer 2025 modevertonings was daar talle kolle op die loopplanke gesien deur bekende ontwerpers insluitend Jacquemus en Acne Studios. Teen die Herfs/Winter 2025 modevertonings was daar byna dubbeld die hoeveelheid polkakolle te sien in verskillende ontwerpers se reekse, Fendi en Altazurra om ’n paar te noem. Teen middel 2025 pronk die polkakol aan modebekendes by modeweke regoor die wêreld.

7 Wenke om jou polkakol-voorkoms vir 2025 te stileer
1. Mikro en megakolle saam

Eksperimenteer met skaal. Meng mikro en megakolle. Piepklein kolletjies op ’n bloes met reuse kolle op jou romp (of andersom). Die 2025 manier van hierdie trend stileer omhels ’n assimetriese gevoel met meng en pas van kolletjie groottes.
2. Dra dit deursigtig

Deursigitg bly steeds ’n modetrend en deursigtige materiale met polkakolle selfs nog meer. Dink aan deursigtige tulle, organza of fyn satyn met polkakolle op. Stileer jou deursigtige romp byvoorbeeld met ’n langer t-hemp daarby. Of jou “sheer” polkakol bloes met ’n blazer daarby.
3. Probeer ‘n bypassende stel

Bypassende stelle is steeds groot nuus vir 2025, en ’n polkakol bypassende stel nog meer so. Hou dit interessant en kombineer byvoorbeeld ’n bloes met ’n swart polkakol op ’n wit agtergrond by ’n broek met ’n wit polkakol op ’n swart agtergrond. Hierdie laat die polkakolvoorkoms meer modern eerder as retro voel.
4. Polkakolle in kleur

Hoewel swart en wit polkakolle vir ewig tydloos sal bly, is die 2025 polkakol in skakerings van bruin, groen, rooi, vlootblou en selfs sitrusskakerings groot nuus. Ons dink hierdie is beslis ’n moderne manier om kolle te dra, en kan nie wag om dit self te probeer nie.
5. Kolle en strepe bymekaar

Kombineer polkakolle en strepe in een uitrusting, onthou net om kleurskakerings van strepe en kolle in dieseflde kleurfamilie te hou.
6. Kolle en patrone

Jy hoef net nie kolle by kolle of kolle by strepe te dra nie – kolle werk byna by enige patroon. Onthou daar moet ten minste een ooreenstemmende skakering in albei patroonitems wees wat bymekaar gedra kan word.
7. Polkakol bykomstighede

Indien patrone soos polkakolle dra vir jou uitdagend voel, begin klein met ’n bykomstigheid. ’n Polkakol syserp, ’n polkakol aanglipskoen of ’n handsak in fyn klein polkakolle.
Jou polkakol koopgids
Koop eenkeer dra op herhaling, hier is jou polkakol koopgids:
Polkakol syserp
Rond ’n uitrusting perfek af. Dra dit in jou hare, as ’n bandanastyl, bind dit om jou middel, of maak dit aan jou handsak vas.
Polkakol bloes
In jou gunsteling bloesstyl, dra dit by jou polkakol romp, by denims of by ’n bypassende wyepyp polkakolbroek.
Polkakol skoen
Indien jy sukkel om patrone te dra is ’n polkakol item soos ’n skoen ’n makliker manier om die trend te dra. Kies ’n aanglipskoen of hakskoen of selfs ’n ballerina pump.
Polkakol rok
Vind een in ‘n tydlose styl, hou die grootte van die kol in gedagte, hoe kleiner en fyner, hoe minder opvallend, hoe groter die kol hoe meer dramaties die stelling wat jy maak.

















