Dramatiese moue vir nou is hier om te bly! Hierdie seisoen bly moue steeds die moet-hê item in modekringe. Enigiets van pofmoue, klokmoue, ballonmoue en selfs koueskouer moue af, te kus en te keur. Kies een van hierdie agt moustyle om seker te maak jy bly in die mode hierdie seisoen! Deur Justine Kroes
Raad vir die dra van dramatiese moue:
- As jy wye heupe het, kies ’n pofmou wat lekker dramaties is aan iets wat effens ingetrek word rondom jou middel. Die silhoeët van die moue balanseer jou proporsies terwyl die definisie om die middel die oë na die kleinste gedeelte van jou lyf trek en jou vlei.
- As jy ’n groter borsmaat of wye skouers het, kies ’n kleiner pofmou-styl met ’n lae hals of ’n V-halslyn, volume oor jou borste en skouers mag jou dalk net groter laat lyk as wat jy werklik is
- As jy ’n pofmou op jou skouer dra, hou die res van jou uitrusting meer simplisties, modern en eenvoudig onder.
- Hoe kleiner en petite jou liggaamsbou, hoe meer volume kan jy dra – dames met ’n klein raam kan die heel grootste volume en silhoeëtte dra.
- Pas dalk eers van die kleiner pofmoue aan as jy dink dat die groter moue nie vir jou liggaamsbou werk nie. Dit hoef ook nie groot en dramaties te wees nie, selfs net ’n katoen T-hemp met ’n effense pofmou is ’n eenvoudige manier om jou klerekas daardie hupstoot te gee.
8 Verskillende moustyle
Ballon-pofmoue (balloon sleeves)
Ballonmoue is korter en opgepof, ’n ronde styl wat kenmerkend ingetrek word net bo of onder jou elmboog. Dit lyk amper soos ’n ballon wat effens afgeblaas en is ’n styl wat tans volop is in die meeste winkels, van oorgrootpof tot minder pof – ’n dramatiese moustyl wat by die meeste van ons pas.
Klokmou (bell sleeve)
Hierdie styl sit nouer rondom die skouer en klok wyd uit na onder toe. Die moustyl lyk werklik soos ’n groot klok of trompet.
Bishop sleeve (Biskop-mou)
Hierdie styl pof uit vanaf jou elmboog of die onderste gedeelte van jou arm, en word weer ingetrek rondom jou pols.
Frille- en valle-moue
Word gekenmerk aan die frille en valle op die mou gedeelte. Hoe meer frille en valle op die mou hierdie seisoen, hoe beter.
Mutton leg moue
Die vorm van hierdie moustyl lyk baie soos die van ’n skaap se been. Ingetrek en pof aan die bokant (op die skouer) en raak al hoe nouer na die pols toe.
Koue skouer-moue (Cold shoulder sleeves)
Hierdie styl is perfek vir vroue wat nie hul hele arm wil wys nie. Die koue skouer mou wys net ’n klein bietjie vel op die boonste gedeelte van jou skouer – verbeel jou iemand het ’n stukkie materiaal uit die mou gesny.
Gesplete moue
’n Dramatiese pofmou wat van die bopunt van die skouer tot aan die onderste gedeelte van die mou gespleet is. Dink daaran soos ’n spleet in jou romp – maar net vir jou arm!
Skouermantel-mou (Cape sleeve)
Hierdie styl is gewoonlik ’n korter moustyl wat die agterste en boonste gedeelte van die skouer toe maak, meestal oop aan die voorkant. Dit word nie deurgetrek en vasgewerk onder die arm gedeelte nie.