Staan jy dalk meer gereeld as wat jy graag wil voor jou vol klerekas en dink: Ek het niks om aan te trek nie. En dit is meestal nie as gevolg van ’n tekort aan klere nie, eerder ’n tekort aan idees, klerekombinasies en slim uitrusting-formules.
As jou kas soms vir jou oorweldigend voel, is dit dikwels omdat daar te veel keuses en te min duidelikheid is. Uitrusting-formules bring rustigheid in jou daaglikse aantrekroetine
Hier is 9 uitrusting-formules wat altyd werk, ongeag jou ouderdom, liggaamstipe of persoonlike styl. Deur Justine Kroes
9 Uitrusting-formules:
1. Klassiek en tydloos, die wit hemp en denim formule
Hoekom hierdie formule werk:
Dit bly klassiek, vars en tydloos en is veelsydig, afhangend van hoe jy dit stileer.

’n Kraakvars wit hemp (of t-hemp) by jou jeans is een van die mees betroubare uitrustings wat jy kan besit. Van gemaklik tot meer formeel, maak hierdie uitrusting- formule jou eie.
Doen dit so:
Kies ’n crewnek (hoë rondenek) wit t-hemp of ’n v-halslyn indien jy groter borste het, die pas is meer vleiend.
Steek die hemp by jou jeans in om die voorkoms af te rond. Probeer die French tuck (half ingesteek) of vol ingesteekte metodes.

Indien jy ’n wit kraaghemp verkies, stileer dit volgens jou persoonlike styl, rol die moue op, dra ’n hangertjie om jou nek of bind ’n klein syserpie vas.
Stileer die uitrusting met ’n gordel en netjiese skoene vir ’n meer formele afspraak.

Dra jou wit hemp by jou denims met bonkige sandale vir ’n gemaklike maar steeds modieuse voorkoms.
Psst: As wit hemde nie jou stylpersoonlikheid pas nie, kies ’n blou hemp met ’n ligte strepie.
2. Gryp daardie bypassende stel

Hoekom hierdie formule werk:
Geen moeite, maksimum impak.
Bypassende stelle lyk dadelik intensioneel,dit lyk soos ’n uitrusting wat noukeurig deurdink is, selfs al het dit net net 4 minute geneem om aan te trek!

Doen dit so:
Trek jou bypassende stel aan op oggende wanneer jy min tyd het.
Kombineer elke item apart om meer uitrusting kombinasies te skep.

Dink oor jou bykomstighede, indien jou bypassende stel reeds die kollig steel, hou jou bykomstighede minimaal en om “oor-stilering” te vermy.
Bypassende stelle in linne, gebreide stelle en selfs pakke is altyd goeie opsies om te oorweeg.

Wenk: Neutrale bypassende stelle hou langer, is meer tydloos en sal makliker meng en pas by jou bestaande klerekas.
3. Stylvolle stapel-item formule
Ook bekend as jou elevated basics, hierdie kledingstukke vorm gewoonlik deel van ’n kapsule klerekas. Dink aan ’n T-hemp, netjiese broek en goeie kwaliteit netjiese skoene saam gestileer.
Hoekom hierdie formule werk:
Eenvoudige stapelitems wat intensioneel gestileer word. ’n Plein T-hemp lyk onmiddellik meer stylvol waneer dit by ’n netjiese broek of romp gedra word.

Doen dit so:
Waneer jy jou t-hemde koop, onthou om te belê in goeie kwaliteit (dikker materiale). Beter kwaliteit stapel-items lyk nie net netjies nie, maar sal ook langer hou.
Eksperimenteer met stilering, steek jou hemp in, bind ’n gordel deur jou netjiese broek se lussies, dra ’n serp om jou middel.
Dra ’n paar netjiese skoene hierby, dink aan loafers, balletskoene of selfs ’n effense hakskoen.

Hierdie stapel-item uitrustingformule werk perfek vir dae wanneer jy min moeite wil doen maar steeds netjies wil lyk.
4. Rok-en-plat skoene formule

Hoekom hierdie formule werk:
’n Rok is ’n eenstuk uitrusting, dus is hierdie ’n onmiddelike of instant uitrusting.
’n Gemaklike rok met plat skoene is ’n lewensredder, ons gebruik gereeld hierdie uitrusting formule, veral op dae wat ons laat is. Dit verg geen meng-en-pas moeite nie, jy hoef skaars daaraan te dink en dit lyk altyd netjies en afgerond.
Doen dit so:
Watter lengte is vir jou gemaklik? Onthou midi lengtes is die mees veelsydige en kan vir gemaklike of meer formele geleenthede gedra word.

Afghangend van die weer, geleentheid of afspraak, kombineer jou rok en skoene uitrusting by ’n blazer baadjie, denim baadjie of knooptruitjie.
Kies goeie gehalte materiale wat koeler is en gemaklik voel vir elke dag se dra.
Wenk: indien jou rok en plat skoen uitrusting formule steeds ’n tikkie te “netjies of formeel” voel, kombineer jou rok met ’n paar sandale of tekkies vir ’n meer gemaklike voorkoms.
5. Die ‘blazer baadjie maak alles beter’ formule
Jou blazer baadjie gekombineerd met byna enige uitrusting verhef dadelik jou voorkoms.
Hoekom hierdie formule werk:
Struktuur het die krag om enige voorkoms te verander en verhef.
’n Blazer verhef jou jeans, rokke, rompe en werk selfs bo-oor jou oefenbroek en tekkies, vir ’n stylvolle athleisure voorkoms.

Doen dit so:
Dit mag dalk vreemd voel om jou blazer met byna enige uitrusting te kombineer, maar probeer dit ’n slag, gee aandag aan die stilering (rol jou blazer moue byvoorbeeld op).
Onthou neutrale blazer skakerings sal altyd die mees veelsydigste wees.

Vir ’n modieuse voorkoms dra ’n effense oorgroot (oversized) blazer, loer selfs in jou man se kas en leen een by hom. En as dit dalk te lospassend voel, bind ’n gordel bo oor die baadjie om jou middel vas.
Wenk: Hou altyd ’n blazer byderhand om blitsvinnig enige uitrusting te verhef.
6. Die monokroom mooi formule:
Monokroom (monochrome of tonal dressing) verwys daarna om een kleur of in verskillende skakerings van dieselfde kleur aan te trek.

Hoekom hierdie formule werk:
Een kleur van kop tot tone lyk dadelik gepoleerd, sonder moeite en afgerond.
Deur verskillende skakerings van dieselfde uitrusting te dra skep ’n stylvolle indruk en hierdie truuk laat jou boonop langer en slanker vertoon, danksy die kleur kul-kunsies.
Doen dit so:
Kies skakerings waarvan jy baie het, ons dink sommer dadelik aan swart, grys, vlootblou of olyfgroen as vertrekpunte vir jou monokroom uitrusting.
Om die uitrusting interessant te hou, meng en pas verskillende teksture van dieselfde kleur, byvoorbeeld, denim, gebreide teksture, sy, linne en leer.

Stileer slim en gebruik jou handsak in ’n ander skakering indien jy ’n stylstelling wil maak.
Wenk: Kies die formule op ’n dag wat jy dalk effens ongemaklik in jou lyf voel. Hierdie aantrekformule is vleiend, skep die illusie van langer bene en versag jou kurwes.
7. Kledingstuk wat ’n stelling maak
Hoekom hierdie formule werk:
Een item doen al die praatwerk
Die formule van uitrusting kies is gebaseer op een uitstaan item wat aandag trek en koppe laat draai. ’n Spogbaadjie, unieke romp of uitstaan skoene laat selfs die eenvoudigste uitrusting interessant lyk.

Doen dit so:
Kies daardie een helder dopamien kledingstuk wat jou gelukkig laat voel en kombineer dit met neutrale en basiese stapel-items.
Hou die uitstaan item as die hooffokus van jou uitrusting en kombineer dit met neutrale skakerings.
Hierdie formule is ’n maklike een om te volg, jy kan elke keer ’n ander uitstaanitem kies en jou uitrusting daarvolgens beplan.
Wenk: Só dra jy mode trend items sonder om te oordoen te lyk.
8. Die gemaklik maar sjiek formule
Sagte materiale met skoon lyne.
Hoekom hierdie formule werk:
Gemak hoef nie noodwendig slordig te lyk nie, dink aan gebreide rokke, broeke met rek om die middel, lospassende hemde en stylvolle gemakdrag.

Doen dit so:
Hou by ’n beperkte kleurpalet.
Geen aandag aan die kwaliteit van materiale en hoe die kledingstukke pas

Kombineer met netjiese skoene en sjiek bykomstighede.
Wenk: As jou uitrusting gemaklik is, en jy voel jy lyk gepoleerd en netjies dan doen jy dit reg.
9. Jou gunsteling “uniform” as styl formule
Hoekom hierdie formule werk:
Dink aan jou gunsteling uitrusting om te dra, jou besluitnemingsmoegheid verdwyn sommer dadelik.
Stylvolle vroue herhaal gereeld verskillende variasies van dieselfde uitrustingformule – en dit is die geheim.
Doen dit so:
Staan voor jou kas en identifiseer die uitrusting/s waarna jy die meeste gryp.
Wanneer jy klere koop, hou hierdie items in gedagte en koop soortgelyke items en silhoeëtte in verskillende skakerings.
Onthou ’n uniform of formule beperk nie jou styl nie, dit vereenvoudig dit.





