Na ’n besige, dikwels oordadige jaar, smag ons na ’n tikkie eenvoud en neutrale, minimalistiese kersversierings is vanjaar op ons wenslysie. Deur Suzanne Kotzé
Voordat jy net blindelings die winkels invaar of op die ingewing van die oomblik net nog kersversierings bykoop, pak eers alles wat jy reeds het, uit. Sorteer dit so min of meer volgens kleur uit, en wie weet dalk is jy aangenaam verras met wat jy al oor die jare bymekaargemaak het.
Minimalistiese kersversierings in ’n neutral kleurpalet
Dink aan taan, subtiele goud, olyfgroen, swart en room. Hierdie skakerings pas by die meeste dekorpalette. En dit lyk pragtig saam met vars groen kerstakke of plante.
Moenie bang wees om van jou ou versierings in ’n nuwe kleur te verf nie. ’n Klein blikkie verf of ’n houertjie spuitverf kan wondere verrig.
Teeliggie kershouers en kerse
Ons is veral gaande oor die huisie-teekersie houertjies. Hierdie jaar is daar ’n verskeidenheid keuses; van klei tot metaal en selfs kersies in die vorm van huisies.
Papier Kersversierings
Een van die hoofredes waarom ons so baie van papierversierings hou, is dat dit so maklik is om weer op te vou en te bêre, en dit neem natuurlik min spasie op! Dit is ook lig genoeg dat jy dit maklik uit die dak ook kan hang, sonder om spykers hoef in te slaan.
Kersbome
Oorweeg ’n verskeidenheid kleiner bome, op rakke neergesit in jou huis, eerder as een groot boom. Sodat jy die Kersgevoel deur jou hele huis trek.
Fotoboom
Hierdie ‘Pinterest’ geplakte foto-boom bly ’n ou gunsteling. Jy kan ou swart en wit familie- foto’s ook gebruik. (wees gewaarsku, dit kan duur word as jy eers begin foto’s druk)
Kerskranse
Kerskuns
Vul ou rame met minimalistiese swart Kersboomkuns
Laai die Kersboom kuns af en druk dit tuis uit
Klik op die boompies onder vir ‘n dropbox skakel om dit af te laai.
Of skandeer die QR kode met jou foon (maak jou kamera funksie oop en die dropbox adres kom op) en volg die skakel om die kuns af te laai.