’n Netjiese, georganiseerde motor

Die meeste van ons begin die oggend agter die stuur, ’n netjiese, georganiseerde motor kan dalk net help dat jou dag minder chaoties begin. (Ons mag maar droom.) Hier is wenke en ’n paar oulike produkte. Deur Suzanne Kotzé

Ek moet bieg, in ’n stadium is daar ontbyt geëet in my motor, sonskerm aangesmeer en selfs soms tande geborsel en aangetrek. Party oggende was nou maar een maal wild. Nadat ek verlede jaar ’n nuwe motor gekry het, het ek besluit tot hier toe en nie verder nie. Geen eet meer in die kar nie (wel soms gebeur dit tog steeds), alle papiere en sakke moet elke dag uitgehaal word en as jy iets mors, word dit dadelik opgevee. (Ons probeer hard, maar slaag ook nie altyd nie!)

Hierdie kan help met ’n georganiseerde motor

’n Sakkie met ’n paar ‘noodhulp’ items

Die meeste motors het ’n noodhulptassie in die kattebak, hierdie is bloot ’n paar items wat ek vir ‘noodgevalle’ byderhand hou in ’n sakkie in die paneelkissie.

In my sakkie is:

  • Haarrekkie
  • Tampons
  • Hoofpynpille
  • Pleisters (ek is ’n ma van seuns)
  • Sonskerm
  • Getinte sonskerm (vir wanneer jy kinders by die skool gaan aflaai en dink jy gaan niemand sien nie, en dan moet uitklim).
  • Deodorante doekies (veral handig gedurende die somer)
  • Multi-funksionele olie wat jy op naels, lyf en hare kan gebruik (wegvlieghaartjies, verslaapde hare (kinders), droë bene ens).
  • Lipbalsem

Houers vir die alles-inval spasie langs jou sitplekke

Kyk die hoeveelheid kere wat ek al boude in die lug moes staan om my kredietkaart te probeer kry wat (alweer) in daai spasie tussen jou sitplek en middelmannetjie ingeval, is ontelbaar.

Ek was so bly toe ek hierdie Car Seat Gap Organizer (R199, Takealot) opspoor.

Behalwe dat dit keer dat alles langs jou sitplek afval, is dit ook handige stoorspasie.

Ek bêre die volgende hierin:

’n Klein plat beursie:

Die Zipped Coin Charm Cardholder, R249,99 van Woolworths) met ekstra geld en kaarte.

Handlappies: vir taai hande, enige kleinerige maak wat ek kry.

Ekstra skryfbehoeftes: ’n potlood, uitveër en pen hier (vir dae wat daar dalk huiswerk gedoen moet word in die kar, of langs die sportveld) of vir inkopielysies.

Klein notaboekie: waarin ek enige iets van idees tot moet-doen of inkopielysies neerskryf.

Brilskoonmaaklappies:

Zeiss Lens Wipe sakkies vir alles van brille en fone afvee, tot die kar se elektroniese skerm.

Leerlappies: ’n Klein houertjie met leerlappies, om sitplekke af te vee. Soos Fragrance Free Leather Wipes (R39,99, Woolworths)

’n Klein drommetjie

Hierdie handige klein silikoondrommetjie pas in die koppiehouer in jou motor en is ideaal vir klein papiertjies en sneesdoekies. Ek is spyt ek het ’n witte gekoop, want dit wys gou merke.

Car Silicone Trash Can Bin Organizer (R180, Takealot)

’n Aanklip sonbrilhouertjie

Hierdie oulike sonbrilhouertjie haak aan die sonskerm vas en is ’n handige plek vir jou sonbril. Ek hou altyd ’n goedkoop sonbril in my motor, vir elke dag heen en weer ry.

Sunglasses holder for sun vizor (R292, Takealot)

(Hierdie houertjie pla my man as hy in my motor ry, en hy haal dit af. Dit pla my egter nie, dit mag wel in ’n langer mens se sig wees).

’n Aanklip sneesdoekiehouertjie

Nog ’n handige item wat aan jou sonskerm vashaak. Jy kan ook skoonmaaklappies (wipes) hier bêre.

Car Tissue /Wipes Leather Holder -Black (R149, Takealot)

Klein stofsuiertjie

3 -1 Portable Rechargeable Cordless Vacuum Cleaner (R299, Takealot)

Hierdie is ideaal vir krummels opsuig, veral in moeilike plekke, soos in die koppiehouers of selfs langs die kant van jou deur. Die truuk is natuurlik om skoon te maak sodra iets mors.

Ek was verbaas oor die trekkrag van hierdie klein stofsuiertjies wat jy in jou USB-laaier kan herlaai. Ek het net ongelukkig nie in ag geneem dat die kabel nie in my kar se laaier (soortgelyk aan die van nuwe i-Phone laaikabels)sal pas nie, so ek moes ook ’n ‘adaptor’ koop hiervoor. So dit was ’n effense duur kopie.

Inkopiesakkie in die deur

Vou jou lap inkopie-sakke in driehoekies (my ouma het altyd haar plastieksakkie so gevou!) en hou dit in die deur. Onthou net om hulle elke keer terug te sit.

Geen van hierdie sal natuurlik help as jy nie gereeld alles wat nie in jou motor hoort nie, uithaal nie. Of dit nie gereeld skoonmaak nie. En natuurlik het jy nie al hierdie goed nodig vir ’n netjiese motor nie, dit help my net as alles ’n plek het.

Stylvol

Handige ekstra wenke en raad, spesiale afslag en wenke, slegs vir die binnekring.

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui

Oor ons

Stylvol sosiale media

Nog Stories
Stylvolle beddegoed vir jou kind se kamer
error: Content is protected !!