Monokroom mode het tans ’n groot oomblik in die modewêreld. Hoewel volgens ons is hierdie elegante, klassieke styl van aantrek gepas vir elke seisoen en hoort nooit uit die mode te gaan nie! Hier is 5 redes hoekom ons daarvan hou om monokromaties aan te trek en voorkomskonsultant Susra Mathee deel ’n paar wenke oor hoe om dit reg te doen. Deur Justine Kroes

20/05/2022

Wat is monokroom?

Monokromaties (daar word soms verkeerdelik daarna verwys as wit en swart patrone, wat eintlik akromaties is – afwesigheid van kleur verduidelik Susra.) Maar monokroom aantrek beteken eintlik een skakering (of soortgelyke skakerings) by mekaar aantrek. Mono – beteken “een” en chrome beteken “kleur” = een kleur. Dus is ’n monokromatiese uitrusting verskillende kledingstukke van dieselfde skakering wat saam gedra word.

Foto: Shutterstock

5 Redes hoekom ons van monokroom mode hou:

Jy lyk sjiek en gesofistikeerd

Daar is maar net iets aan ’n monokroom uitrusting wat jou dadelik meer stylvol laat lyk. Die een skakering van kop tot tone bied ’n gepoleerde en afgeronde voorkoms aan wat mooi val op die oog.

Dit is verslankend:

Voorkomskonsultant en stylkenner Susra Matthee sê: Ons ken almal die verslankende voordele van monokromaties aantrek – die aaneenlopende lyn wat dieselfde kleure saamdra skep is baie verslankend, jou oog beweeg in een vertikale lyn.

Foto: Shutterstock

Dit laat jou langer lyk:

Dit laat ook vir ons aan die korter kant bietjie langer lyk! Omdat dit in dieselfde kleurskakering is, sny dit ook nie ’n lyn op enige breë deel van jou lyf nie. (Tensy dit ’n helder en ligte skakering van dieselfde kleur is) verduidelik Susra.

Dis eenvoudig om bymekaar te sit

Veral die beste vir daardie dae wat jy geen idee het wat om aan te trek nie. Jy kan eenvoudig swart of room van kop tot tone aantrek en jy hoef nie te sukkel om uit te vind watter bo-stuk, skakering en patroon pas nou by watter onderstuk nie.

Foto: Shutterstock

Jy kan steeds verskillende skakerings saam dra

Monokroom mode beteken nie jy moet presies dieselfde skakering van kop tot tone aantrek nie. Jy kan byvoorbeeld verskillende skakerings van groen kombineer om diepte aan jou uitrusting te gee.

Susra sê: “Ek hou daarvan om dit in neutrale kleure soos “off white” en melkwit saam te dra of naby skakerings van ’n helder kleur soos ’n kobalt of marokkaanse blou. Veral nou dat helder kleure so ’n groot mode is.

Foto: Shutterstock

Dra dit so:

Kyk wat jy reeds in jou kas het:

Die eerste oefening tot ’n suksesvolle monokroom uitrusting is om na jou eie kas toe te gaan en een vir een die kledingstukke in dieselfde kleurfamilie by mekaar te groepeer. Hetsy dit nou bloese, rokke, rompe of broeke is. Van hier af kan jy begin eksperimenteer en volle uitrustings bymekaarsit.

Begin met eenvoudige skakerings:

As jy huiwerig is begin met swart of vlootblou van kop tot tone. Jy sal heel moontlik al reeds al die elemente in jou kas hê. Jy kan selfs met jou denimklere skakerings van blou aantrek as beginpunt.

Meng teksture:

Monokromaties lyk op sy beste wanneer jy verskillende teksture saam dra soos ’n gebreide trui by ’n rok. Of ’n jas in tekstuur by ’n broek, sê Susra. Die teksture bied diepte en dimensie tot jou monokroom uitrusting. Dink daaraan om teksture soos leer, sjiffon, wol, blinkers, katoen en sy te kombineer!

Foto: Shutterstock

Maak seker oor die kleur

Maak seker jou monokroom uitrusting se kleur is een wat jy werklik wil dra – onthou jy gaan byna kop tot tone in die skakering wees. Maak seker die kleur pas jou veltoon goed en bly weg van skakerings wat jou nie goed laat voel nie.

Moet nie bang wees vir helder kleure nie

In die verlede is dit meestal neutrale skakerings wat van kop tot tone gedra is – maar hierdie seisoen kan jy gerus eksperimenteer met helder (selfs neon!) skakerings van kop tot tone.

Wenk: ’n Pak in ’n helder kleur is die heel maklikste manier om ’n monkroom uitrusting te skep!

Foto: Shutterstock

Balans bly steeds belangrik

Onthou, as jy lospassend en oorgroot bo dra hoort jou onderste gedeelte meer noupassend te wees om balans in jou uitrusting te skep en so ook jou figuur te vlei. Speel rond met proporsies van kledingstukke wat die beste by jou figuur werk.

Susra Matthee, voormalige moderedakteur en nou persoonlike voorkomskonsultant deel haar top vyf somervakansie mode-items. Volg vir Susra hier op Instagram of besoek haar webtuiste om ’n konsultasie te bespreek.

Stylvol

Handige ekstra wenke en raad, spesiale afslag en wenke, slegs vir die binnekring.

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui

Oor ons

Stylvol sosiale media

Nog Stories
“Date night” uitrustingidees
error: Content is protected !!