The Home Collective gee wenke oor hoe jy ’n pragtige buite-area kan skep, want ons Suid-Afrikaners is darem net mal daaroor om buite te leef, of dit nou vir stoepstories, patio-partytjies of dans op die dek is. Deur Kalinka Lombaard en Heloise Louw van The Home Collective.
The Home Collective se wenke vir ’n pragtige buite-area.
1. Neem jou spasie in ag
Watter tipe spasie het jy om mee te werk? ’n Woonstelstoepie sal net genoeg plek hê vir ’n bistro-stel, terwyl ’n dek of stoep jou meer ruimte gee om rond te speel met meubels. Loer gerus hier vir mooi bistro-stelle monexteriors.com en leroymerlin.co.za
Onthou die spasie moet ’n ‘ontvlugting’ van jou huis wees. So maak seker dat jy dit nie oorvol maak nie.
2. Vernuwe jou spasie met ’n buiteleefstel
Indien jy reeds ’n eet-area het, soos ’n tafel met stoele of bankies, dink daaraan om jou plek te vernuwe met ’n leefstel (lounge set). Dit laat die area dadelik meer luuks voel.
3. Die regte hout is belangrik
Maak seker die stel wat jy koop se hout of materiaal is so gemaak dat dit die elemente kan weerstaan. Saligna, djatihout (teak) of akasiahout werk goed buite.
4. Die regte materiaal vir jou kussings
Maak seker die materiaal wat gebruik is vir jou buitekussings is water- en UV- weerstandig. Sommige van die materiaal is nie altyd baie lekker om op te sit nie.
5. Oortreksels vir jou meubels
Al kan jou meubels die weer-elemente weerstaan, word dit tog vinniger beskadig. Doen eerder die tyd of moeite om of vir jou spesiale oortreksels te laat maak of koop dit by plekke soos Cielo of Takealot. Maak net seker die oortreksels is windbestand ook en dat dit iewers om die pote kan vashaak of dat dit goed pas en nie afwaai nie.
6. Dekorelemente vir persoonlikheid
Kies dekor-elemente wat jou spasie persoonlikheid gee; dit is wat die area regtig spesiaal laat lyk.
7. Strooikussings en ‘throws’
Mooi strooikussings en ’n ligte linne ‘throws’ help om die spasie gemaklik te maak. Dis funksioneel en stel ook ’n kleurpalet bekend aan jou dekor.
8. ’n Koffietafel
’n Koffie- of kanttafel is prakties en mooi. Dit skep ’n plek om drankies en kos neer te sit, en natuurlik ’n plekkie vir dekoritems soos potjies met plante of ’n blompot met vars blomme.
9. Gebruik ook jou mure
Dink aan die mure wat tot jou beskikking is. ’n Spieël hoort nie net binne die huis nie, dit kan baie mooi lyk teen ’n buitemuur en help om jou tuin en jou patio-spasie te reflekteer. Of ’n mooi stel hake kan n ‘feature’ wees met pragtige handdoeke (wat by jou kleurskema pas) en handig is by jou swembad.
10. ’n Buitemat kan die area versag
Watter tipe vloer het jy? ’n Dek, sementstoep of teëls? ’n Mooi mat sal help om die area te versag. Dit help ook om die spasie te anker. Daar is deesdae baie matte beskikbaar wat spesifiek vir die buite-area gemaak word en net met ’n besem afgevee hoef te word of afgespuit kan word.
’n Patio-mooimaak
Kalinka en Heloise het onlangs hierdie patio mooi gemaak.
Elemente vir die buite-area
The Home Collective se eie buiteleefstel
The Home Collective het pas hierdie mooi buiteleefstel wat in die foto’s gebruik word, bekendgestel. “Ons inspirasie vir die ontwerp van die stel kom van Studio McGee af. Ons is mal oor Shea McGee se reekse meubels wat sy in Amerika verkoop, en voel daar is ’n groot spasie in die mark vir interessante ontwerpe wat teen billike pryse verkoop word.”
Die stel bestaan uit ’n bank en twee leunstoele, met kussings in bull denim of waterdigte lap. Dit is gemaak van Salignahout wat behandel is om buite te kan staan.
Mates is:
Enkelstoele: 83 rug x 820 diep x 650 hoog
Bank: 1560 x 820 diep x 650 hoog
Die prys vir die hele stel is R19 800. Bestel dit deur info@thehomecollective.co.za te e-pos.
Onthou jy kan ook The Home Collective kontak vir dekoradvies en hulle lys van dienste is beskikbaar op hul webtuiste en Instagram.
Vriendinne Kalinka Lombaard en Heloise Louw het beide ’n oog vir mooi goed en is passievol daaroor om mooi en gelukkige woonspasies te skep. Heloise is al vir langer as 14 jaar ’n stilis terwyl Kalinka ondervinding as tydskrifredakteur en van kunsredigering het. Lees meer oor The Home Collective hier