Titch

Lieflike linne; al jou linne klere vrae beantwoord

Linne bly eenvoudig die topkeuse as materiaal tydens warm somermaande. Maar ons wonder self, kan ek my linne klere gekreukel dra? Hoe sorg ek vir my linneklere? Is alle linne dieselfde? Ons het met ’n paar van ons gunsteling Suid-Afrikaanse linneontwerpers en ’n boetiek-eienares gesels wat al ons vrae beantwoord en hul liefde vir linne met ons deel. Deur Justine Kroes

Waarom is linne ‘n moet-hê item vir jou somerklerekas?

Francisca Nieuwoudt, eienaar van Purr Clothing Boutique in Kaapstad sê: “Linne is heerlik lig, lugtig en koel om te dra, perfek vir warmer somermaande. Dit voel koeler as katoen omdat die vesels lank en wyd is en meer lug deurlaat asook vog afweer.”

“Linne is ’n stapelitem vir al die seisoene, ’n materiaal wat jou koel hou in die somer en warm hou in die winter. Dit kan tot 20% van sy eie gewig in water opneem voordat dit nat of klam voel. Na ons mening is daar niks meer “somers” as kraakwit linne nie!”

Camilla van Sunny The Label

“Linne is tydloos, ’n luukse vesel en ’n belegging vir enige vrou se klerekas. Dit is een van die vriendelikste vesels wat jy aan jou lyf kan dra. Dit absorbeer sweet sonder om klam te voel en hou jou liggaam koel”. Volgens ontwerper Isabel De Villiers wat onlangs ’n nuwe linnereeks, Raw Collection, bekendgestel het.

linne
Rok Nadya Von Stein

Kan linne tydens koeler maande ook gedra word?

Ontwerper Hannah Lavery & span sê linne het ’n baie ryk tekstuur en kan beslis tydens koeler maande ook gedra word – dit is ’n uiters termo-regulerende materiaal, wat wat beteken dit behou hitte soos nodig en hou jou ook warm wanneer dit koud is.

“Oorweeg dit om jou linnehemp onder ’n trui of langer hempstyl-rok te dra tydens die winter,” is die span van Sunny the Label se raad.

Francisca sê “As jy ekstra items byvoeg soos dun, noupassende items onder jou linne of gebreide items bo-oor, werk jou linneklere fantasties in jou winter-klerekas.”

Kan ek my linne klere gekreukel dra?

“Suiwer linne sal beslis kreukel, dit is ’n goeie manier om seker te maak dat ’n kledingstuk werklik van suiwer linne is. Ons glo die kreukel is deel van die unieke aspek van linne,” verduidelik Camilla van Sunny The Label.

“Ek voel die kreukels is deel van die karakter en gee ekstra tekstuur aan jou uitrusting. Linne moet juis nie styf staan óf lyk nie. Natuurlik is dit nie ’n verskoning om onnet te lyk nie.”

Francisca van Purr Boutique

Ontwerper Isabel de Villiers glo vas “Jy kan beslis wegkom daarmee om linne nie te stryk nie, geniet die mooi, inherente en natuurlike plooie van jou linne kledingstuk!”

Vir minder kreukels, maak so:

  • “As jy graag kreukels wil verminder: hang jou linne netjies op nadat dit gewas is, en stoom dit, of stryk jou linne terwyl dit nog klam is met jou stoomstelling aan. Gebruik die sproei-aksie vir enige areas wat erg gekreukel lyk.” Francisca
  •  “As jy wel minder opsigtelike kreukels wil hê, kies eerder ’n item gemaak van lap met ’n mengsel van vesels soos linne/rayon wat dan ’n digter en gladder oppervlak het.” Verduidelik Francisca.
  • Wees versigtig as jy gaan sit – dit is gewoonlik wanneer jou kledingstuk die meeste sal kreukel,” aldus Sunny The Label.
  • Hoewel ons baie hou van die sagte kreukels in ons linne, is daar baie mense wat verkies om dit eerder kreukelvry te dra.”Ons stel voor jy draai jou linne-item binneste buite wanneer jy stryk. Of tuimeldroog tot klam en hang dan aan ’n hanger op” is die Hannah Lavery-span se raad.
  • Ontwerper Nadya Von Stein werk meestal met hennep-linne (hemp), Sy sê; “ek verkies ’n gestrykte linne-kledingstuk. My truuk is, wanneer jy jou linne-item uittrek, hang dit dadelik op, dit is een van daardie materiale wat sommer homself stryk. Of stryk vinnig met ’n medium hittestelling op die strykyster as daar te veel kreukels is.
Bena Woman Jumpsuit

Is alle linne dieselfde?

Dit is interessant om te leer dat daar kledingstukke van verskeie tipes linne op die Suid-Afrikaanse mark beskikbaar is. Van 100% suiwer linne tot hennep-linne en linne gekombineer met rayon, katoen of viskose.

Ontwerper Nadya Von Stein gebruik linne van hennep in haar ontwerpe: “Ek gebruik hennep-linne vir die duursame gevoel en die positiewe omgewingsimpak. Hemp-linne is anti-mikrobies, ’n gemaklike materiaal met ’n luukse gevoel. Dit kan gekombineer word met katoen of sy om ’n andersoortige gevoel, gewig en materiaal te skep.

Hannah Lavery & span verduidelik dat alle linne nie 100% dieselfde is nie, “dit word gemaak van die vlas (flax) plant en verskil afhangend van waar die plant afkomstig is. Die verskillende tipes word uitgeken aan tekstuur, weef, patroon en gewig. Die mees gewildste tipes is naamlik Ierse linne, Belgiese vlaslinne en Japannese linne.”

Camilla van Sunny The Label verduidelik dat baie van die linne wat ons sien kombinasies is van linne en katoen of rayon en nylon. “Hierdie kombinasie-materiale is wel nie so sag en duursaam as suiwer linne nie, maar kreukel nie so maklik soos egte linne nie. As jy dus wil toets of ’n kleringstuk van egte linne is, frommel die materiaal in jou hand. As dit maklik kreukel is dit waarskynlik van egte linne.”

Alle linne is nie dieselfde nie en word meestal versny of gekombineer met ander natuurlike vesels om die goeie kwaliteite van linne te beklemtoon en die nadele van linne te verminder. Ons gebruik ’n linne-versnit gemaak van linne en viskose. Dit val mooi sag en kreukel nie so gou nie.

Isabel de Villiers
Raw Collection Artist Tunic

Kyk uit vir die volgende as jy linne kledingstukke koop

1. “’n Versnit van linne met ’n linne inhoud meer as 60% wat sal verseker jy koop ’n item met al die voordele van linne, sonder die kreukels.” Isabel de Villiers

2. “’n Item in ’n natuurlike skakering sonder ’n patroon, soos ’n wit kraaghemp of swart rok wat nie uit die mode sal gaan nie. As jy kwaliteit-items koop, sal jy minder kledingstukke in jou kas nodig hê wat jy vir jare sal kan geniet. Buy Less, Buy Better” Isabel de Villiers

3. “Hou die grootte van ’n linnehemp of rok in gedagte. Kies een in ’n kleiner grootte vir ’n slanke silhoeët en knoop hom in die middel  vir ’n prettige styl as jy ’n broek of rompie met ’n hoë middellyf dra. Anders kan jy jou hemp lospassend en oorgroot dra en ook dan as ‘n gemaklike oorhemp/ongestruktureerde baadjie oor ’n moulose toppie.” Francisca

Hoe was en versorg ek my linne?

  • Francisca verduidelik “Hoe meer ’n linne-item gedra en gewas word, hoe sagter word dit. Moet eerder nie versagmiddel gebruik nie, die ensieme/chemikalieë kan die vesels beskadig en verswak.
  • “Linne is een van die heel sterkste natuurlike materiale, daarom is die sorg redelik maklik. Jy kan jou linne in die masjien was op ’n koel siklus. Dit is belangrik om jou linne in koue water te was sonder enige harde chemikalieë (die linne en die aarde hou nie daarvan nie!)” Camilla Sunny The Label
  • “As jy wil, kan jy ’n halwe koppie koeksoda by jou spoelsiklus voeg – dit balanseer die pH van die water en voorkom dat enige oortollige seep of minerale in die lap vasgevang bly.” Francisca
  • “Waar moontlik is dit die beste om jou linne-items natuurlik droog te laat word, maar nie in direkte sonlig nie. As jy jou linne wil tuimeldroog, onthou om dit net op lae hitte te doen want hoë hitte kan die vesels laat krimp.” Francisca
  • “Moet eerder nooit linne laat droogskoonmaak nie omdat die chemikalieë die vesels kan verswak en die lewensduur van jou linne verkort.” Francisca

Stylvol

Handige ekstra wenke en raad, spesiale afslag en wenke, slegs vir die binnekring.

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui

Oor ons

Stylvol sosiale media

Nog Stories
Monokroom mooi
error: Content is protected !!