Die meeste kinders is terug by die skool en na al die boeke oortrek en skryfbehoeftes merk is ’n gemaklike, mooi, maar steeds praktiese werkspasie vir ons kinders volgende op ons moet-doen lysie. Loer hier na ’n klompie mooi lessenaars en praktiese werkspasiewenke vir jou kind. Deur Justine Kroes
20/01/2023
Lessenaar en stoelwenke:
- Koop die grootste lessenaar wat in jou spasie kan pas. As kinders eers begin opsommings en ‘mind maps’ maak, neem dit baie spasie op.
- Neem in ag dat jou kind heel waarskynlik ook ’n rekenaar of ipad gaan gebruik op die lessenaar. Maak seker dat dit naby aan ’n muurprop is.
- Probeer ’n lessenaar kies wat spasie het om enige elektroniese drade te versteek. Dit sal vir ’n netjiese werkspasie sorg.
- Koop eerder ’n lessenaar waarby jou kind nog vir ’n hele paar jaar sal kan kan sit. ’n Klein ‘kinder’ lessenaar sal nie vir lank groot genoeg bly nie.
- Mits spasie ’n probleem is en jy ’n paar kinders het wat die tafeltjie vir nog lank sal gebruik, maak ‘n klein tafeltjie dalk vir eers meer sin.
- Koop dalk ook ’n stoel wat jy kan verstel om by die lessenaar te pas. Dit is ergonomies belangrik dat ’n kind regop en gemaklik by ’n tafel kan sit waar hul voete die grond kan raak.
- As so ’n stoel buite jou begroting val, gebruik ou telefoonboeke of rieme papier onder die voete om seker te maak die voete rus wel op iets as dit nie die grond kan raak nie. Daar is ook ’n klompie handige “footrests” beskikbaar wat dalk goedkoper sal uitwerk as ’n ergonomiese stoel. Jy kan ook gebruik maak van kussings vir ’n klein bietjie ekstra hoogte indien nodig.
- Maak seker jou kind sit gemaklik, en maak die nodige veranderinge om goeie postuur aan te moedig.
Werkspasiewenke
- Maak seker die werkspasie is helder, oop en lig. is een van die belangrikste werkspasiewenke. Naby ’n venster is altyd ’n goeie idee wat genoeg direkte en indirekte sonlig bied. Natuurlike lig is altyd die beste en moedig ’n positiewe bui aan. Natuurlike lig strem ook nie die kinds se oë nie en bevorder konsentrasie.
- Hou die spasie koel, kalm en klottervry. Pasop vir enigiets wat dalk ’n afleiding kan wees in die werkspasie. Pak enigiets weg wat aandag kan aflei soos speelgoed en leesboekies.
- Hou die nodige skryfbehoeftes gereed, daar is niks erger as om drie of vier keer op te staan om iets te gaan soek wanneer jy net vinnig aan die werk wil spring nie – en dit is net so frusterend vir kinders ook.
- Maak die spasie persoonlik – moedig jou kind aan om die spasie hul eie te maak met inspirerende prentjies en aanhalings teen die muur of mooi potloodhouers. Iets wat die spasie soos sy/haar eie sal laat voel. Dit gee dalk net daardie ekstra hupstoot om aan die werk te wil spring!
Lessenaars:
Skep ’n hele hoekie waar kinders kan rondbeweeg en op verskillende areas sit en werk en leer. Ook wonderlik vir kinders wat dalk saam met ander werk of studeer.