Die 90’s mode-trend van knoop-en-doop (tie dye) bly groot nuus en ons wys jou hoe om jou eie klere te knoop-en-doop. Deur Suzanne Kotzé
Knoop-en-doop: doen dit self
Hierdie is ideaal vir daardie wit T-hemde wat nie meer so vars lyk nie. Dit is soveel beter vir die omgewing om te ‘upcycle’.
Stylvol vriendin en Waldorf ma (min ma’s kan craft soos Waldorf ma’s!), Marie Crosoer vertel ons hoe.
Doen hierdie liefs buite, want dit kan morsig wees en vlek!
Benodighede
- ’n Draadrakkie (gebruik sommer jou oondrakkie)
- Plastiek handskoene
- Spuitbottels (die tipe waarin restaurante tamatiesous bedien) Ons het hierdie bottels by Mambo’s Plastic Warehouse gekoop
- Ou of nuwe katoen T-hempde (psst Pick ‘n Pay Clothing het op die oomblik baie goeie kwaliteit katoen wit T-hempde). Dit hoef nie noodwendig wit te wees nie; pastel kleure werk ook goed.
- Dala Sun Colour verf (beskikbaar by meeste kuns-winkels ). Marie beveel hierdie kleur aan en na honderde knoop en doop projekte vind sy dat dit die beste werk en hou.
- Rekkies
- Opsioneel – plastiek bedekking vir jou tafel (ons het plastiek materiaal by Mambo’s Plastic Warehouse gekoop)
So knoop en kleur jy
Hierdie kan morsig wees so doen dit liefs buite.
Sien die video hier
Stap 1: Was jou nuwe kledingstuk
As jy ’n nuwe hemp of kledingstuk het, was dit eers om ontslae te raak van al die chemikalieë in die materiaal. Anders kan die kleur in die chemikalieë vassit, wat kan veroorsaak dat die kleur nie eweredig sal wees nie, of vinnig uitwas. Moet geen versagmiddel bygooi as jy die kledingstuk was nie.
Ou klere hoef nie vooraf gewas te word nie.
Stap 2: Berei jou kleur voor
Sommige kleurstowwe is klaar in die regte bottels (soos Dala se Dye Kit), maar as jy verkies om jou kleur apart te koop, gooi die kleurstof in die plastiek ‘tamatiesous’-bottels. Dit is volop beskikbaar in winkels. Ons het die by Mambo’s Plastic Warehouse gekoop.
Stap 3 Maak jou kledingstuk nat en droog goed uit.
Maak jou kledingstuk nat en droog eers baie, baie goed uit. Hierdie is die een groot wenk wat jy moet volg. Die artikel wat jy gaan kleur moet goed droog wees, anders vloei die kleur inmekaar en heg nie goed nie.
Stap 4: Kies ’n knoop-en-doop-metode.
Die maklikste een vir beginners is die een met rekkies wat ons in die video wys. Die idee is dat die kleur oral aangewend word, behalwe waar die rekkies is of waar dit gebind is.
Stap 4. Vou en frommel jou hemp
Plaas jou hemp op ’n plat oppervlak. Gebruik jou vingers en trek die hemp nader na een hoek. Hoe meer jy vou en frommel, hoe beter.
Stap 5: Bind rekkies om
Bind rekkies om en oor en weer jou hemp om die voue in plek te hou.
Oral waar die rekkies is bly dit lig.
Stap 6: Spuit jou kleur aan
Dra plastiekhandskoene vir hierdie stap. Sit jou kledingstuk op ’n draadrakkie (as jy een gebruik). Wend jou kleur (hoeveel skakerings jy ookal wil) eers aan die een kant aan. Draai jou kledingstuk om en wend dit aan die ander kant ook aan.
Gooi die kleur so enige plek op. Moenie vergeet om jou handskoene te dra nie!
Stap 7: Sit jou kledingstuk in die son
Los jou kledingstuk met rekkies en al in die son om droog te bak.
Die rakkie keer dat die kleur afgee en help met die droogword
Stap 8. Haal die rekkies af
Hierdie is ons gunsteling stap, want dan sien jy hoe jou kleure uitgekom het.
Stap 9: Hang hemp in son
Om droog te word, waar die rekkies was
Stap 10: Stryk jou hemp
Dit seël die kleur en help dat dit nie uitwas nie.