Ja, daar is ’n kuns aan die regte swemhanddoek vind, die materiaalkeuse, grootte, die GSM telling en die ontwerp het alles ’n impak op die perfekte swemhanddoek. Hier is ses wenke om in gedagte te hou wanneer jy weer swemhandoeke kies, plus 19 van die heel mooiste handdoeke wat ons dopamiene dekor harte begeer. Deur Justine Kroes
23/11/2024
1. Materiaal maak saak
Ons kies liefs gewoonlik 100% katoen handdoeke wat behoorlik water absorbeer wanneer jy afdroog. Katoen is ’n sterk materiaal wat lank hoort te hou. Handdoeke wat van 100% natuurlike katoen gemaak word, behoort sag, absorberend endonsigte wees.
Egiptiese katoen handdoeke word gemaak van’n spesiale katoen wat van ’n verskillende tipe katoen plant afkomstig is as gewone katoen. Die vesels is ekstra lank wat beteken die tipe handdoeke kan veel meet water absorbeer. Egiptiese katoen word met die hand gepluk, daarom is die vesels lank en bly heel deur die weefproses. Hierdie eienskappe maak so ’n handdoek sagter en sterker, wat beteken die handdoek voel nie net baie meer luuks nie, dit sal ekstra vinnig droog word en vir lang, lang jare hou.
Turkse katoen is soortgelyk aan Egiptiese katoen met die ekstra lang vesels. Die tipe weeftegniek is ook uniek, dink aan daardie Hammamstyl handoeke wat super lig is.
2. Verstaan die GSM telling
Kyk uit vir die GSM telling wanneer jy jou handdoek kies. GSM staan vir ‘gram per square meter’ wat verwys na die afmeting van ’n handdoek se digtheid in gewig van die materiaalstof wat in ’n vierkante meter geweef is.
Handdoeke se GSM wissel van 300GSM na 900GSM, hoe laer die getal van die GSM hoe dunner en ligter die handdoek. 400 tot 600GSM word as mediumgewig handdoeke gesien en is gewoonlik die mees gewilde keuse vir swem en strandhandoeke.
Die GSM-telling handoek wat jy kies sal natuurlik afhang van persoonlike voorkeur.
3. Doen dit voor jy jou nuwe swemhandoek gebruik:
Was altyd jou nuwe handdoek voordat jy dit vir die eerste keer gebruik. Baie van die vervaardigers behandel swemhanddoeke met versagmiddels om die handdoeke lieflik sag te laat voel. Maar dit beperk die handoek se vlak van absorpsie.
Wanneer jy jou handdoeke was, gebruik (elke paar weke) ’n koppie en ’n half witasyn in jou wasmasjien om jou handdoeke sag en donsig te hou. ’n Halwe koppie koeksoda in jou masjien elke nou en dan sal seker maak dat enige opbou van versagmiddels (en SBF) op die handoeke sal uitwas, plus dit verwyder boonop enige snaakse reuke.
4. Grootte is belangrik
Jou swemhanddoek hoort groot genoeg te wees om gemaklik jou lyf af te droog. Plus daarby groot genoeg om op te sit of lê vir stranddae of luilekker langs die swembad te ontspan.
’n Swem- of strandhanddoek is aansienlik wyer en langer as ’n standaard badhandoek, ons verkies beslis ’n groter, wye ontwerp.
5. Kies ’n unieke ontwerp
Kies ’n helder of uitstaan ontwerp, daardie handdoek wat jy nie sal sukkel om te vind op ’n besige, vol strand nie. Helder en unieke ontwerpe moedig daardie goedvoel dopamiene dekor gevoel aan. Glo ons, jy of selfs ’n vreemdeling sal glimlag elke keer wanneer jy die prettige ontwerp of helder skakering raaksien.
6. Kies ’n aantrek- of ponchostyl handdoek
Indien jy baie swem of dalk branderry is ’n aantrekhandoek ’n moet. Dit maak die aan en uittrekproses veel makliker (jy staan en trek sommer onder die handoek aan en uit) plus die handdoeke met ’n kappie is ideaal vir nat hare blistvinnig droogkry en nat ore uit die wind hou.