Al ooit gewonder of jy te veel skoene het? Of dalk gewonder of jy te min skoene besit? Ons het vir vier stylkenners die vraag gevra: watter skoenstyle hoort in elke vrou se klerekas? Hier is die 7 style wat bo aan die lys uitgekom het. Ons gaan self nou daarvan werk maak om ons skoenekas aan te vul. Saamgestel deur Justine Kroes
Bygewerk 25/09/2024
Hierdie 7 skoenstyle hoort in jou klerekas
“Dit is nie nodig om honderde skoene in jou klerekas te hê nie, veral as jy eintlik net ’n handvol nodig het.”
Lizanne Anderson van Hello Beautiful Image & Style
1. ’n Paar gemaklike tekkies/sneakers
Al die stylkenners is dit eens, ’n paar gemaklike tekkies (in ’n wit of ’n neutrale skakering) hoort in jou skoenekas.
Voorkomskonsultant Ronel le Roux sê: “’n paar wit sneakers is die gemaklikste en ook veelsydigste item in enige vrou se klerekas. Dit neem blitsvinnig jou uitrusting van “business” na “pleasure”. Onthou, baie belangrik, jou tekkies moet te alle tye skoon wees!”.
“’n Wit tekkie het die vermoë om enige uitrusting “cool” te laat lyk. Dit pas by alles en is ook gepas vir enige seisoen. Dra dit by jou denims, rokke of selfs saam met jou blinkerrok” is voorkomskonsultant en skoeneliefhebber Jean-Mari Hellig se raad.
Kies wit of afwit in neutrale skakerings – jy sal verbaas wees by hoe baie uitrustings jy jou tekkies kan dra.
2. Leersandaal
Jean-Mari Hellig sê “’n Goeie leersandaal gaan jou vir jare vreugde gee in jou kas. Daar is niks meer stylvol as ’n mooi sandaal wat jy by enige uitrusting kan aantrek nie. Kies ’n styl en kleur wat by jou stylpersoonlikheid pas en koop die beste kwaliteit wat jy kan bekostig. Ek sal vir ’n tan/nude gaan, want dit pas by alles.”
“Daar is net iets omtrent ‘n goeie, handgemaakte leersandaal. Gaan vir ’n plat sandaal wat ’n breë leer- band gedeelte oor jou voet het (wat meer duidelik sigbaar is as ’n dun verlore bandjie)” raai Lizanne Anderson aan.
3. Nude hakskoen
Lizanne sê “’n Nude hakskoen kan selfs die mees basiese uitrusting meer gesofistikeerd laat lyk. My raad – kies ’n nude haksoen met moderne, skoon lyne en ’n hakhoogte waarmee jy gemaklik sal voel.
“’n Nude hakskoen kan lewens-reddend wees as jy skielik ’n onverwagse onderhoud, formele afspraak of selfs ’n troue moet bywoon”.
Jean-Mari Hellig
“Ek verkies persoonlik nude hakskoen in ’n blokhak en vind dit soveel gemakliker as ’n spykerhakkie, maar of jy nou ’n kitten heel of ’n stiletto verkies, hierdie is ’n MOET vir enige klerekas. Dit rond enige uitrusting af en bly ’n tydlose, klassieke opsie. Ronel le Roux
Ons stem natuurlik ook hiermee saam, ’n nude haksoen wat by jou persoonlike styl pas, bly tydloos, sjiek, stylvol en is ’n aanwins vir enige iemand se skoenekas.
4. Swart of tan enkelstewels
Modekonsultant Ilne Blom sê “’n paar swart enkelstewels is ’n modieuse skoen wat elke vrou hoort te besit. Jy kan dit dra by jou denims vir ’n stylvolle elkedagvoorkoms, by ’n rok vir ’n elegante ensemble, of selfs met ’n denim romp of kortbroek vir ’n trendy uitrusting.”
Lizanne Anderson stem hiermee staam “Swart enkelstewels is klassiek” Lizanne se raad “Kyk uit vir ’n enkel-hoogte paar in ’n hakhoogte waarmee jy die meeste gemaklik sal voel. As jou stylpersonlikhed dit verg, kies gerus ’n paar buitengewone swart enkelstewels – hulle sal sommer vir jou daardie ekstra self-vertroue gee wanneer jy hulle dra!”
5. Goeie Kwaliteit “Fancy Flat”
Lizanne sê “Dit kan enige iets wees van ’n “mule” na ’n satyn balletskoen (pump), selfs dalk iets met pêrels, of ’n skoen met ’n buckle. Enige plat, gemaklike skoen met so ’n uitstaan, deftige detail op sal jou uitrusting blitsvinnig verhef.
Ronel le Roux stem saam “’n paar Pointy Flats of balletskoene is ’n moet. Hierdie skoenstyl is een van die gemaklikste maar ook die vleiendste skoene wat ’n vrou kan besit. Daar is soveel mooi & kreatiewe opsies beskikbaar. Ek is self gaande oor ’n metaalkleurige plat puntskoen – dit neem enige uitrusting na die volgende vlak.
6. Loafers
Die loafer skoenstyl is dalk nie vir almal nie – maar dit bly ’n gunsteling in my klerekas, en kan gedra word by amper enige uitrusting. Dit pas ook in by die quiet luxury of eerder “old money aesthetic” trend, is Ronel le Roux se modemening.
Ilne blom sê :“loafers is gemaklik, stylvol en gesofistikeerd. Die regte paar loafers kan by rokke, verskeie denims, kortbroeke of wyepypbroeke gedra word”.
“Winter of somer, die skoen is ’n staatmaker. In die winter dra ek my loafers met kouse of sokkies en in die somer by my rompe, rokke en denims. Dit is stylvol, statig en klassiek.” Jean-Mari Hellig
7. Die “wow” faktor skoen
Jean-Mari Hellig sê “Elke kas benodig daai “wow” “statement skoen wat jou altyd mooi en spesiaal laat voel.” (En ons kan nie genoeg hiermee saamstem nie!) “Vir sommige is dit ’n skoen met kleur, vir ander een met ’n strik en vir my is dit een met studs. Wenk: hou die res van jou uitrusting eenvoudig en laat die skoen die praatwerk doen.
“Soos Aspoestertjie gesê het, een skoen kan jou lewe verander, en dit is hoe ek oor die skoene voel.”
Jean-Mari Hellig