Soos dit warmer word, en die koue oggende iets van die verlede word, is dit tyd op jou lentetuin-take aan te pak. Ons gesels met Susie-Harris le Blonde, Kaapse tuiner van Flourish Urban Flower Farm oor wat op ons om-te-doen tuinlysies behoort te wees.
Hierdie hoort op jou lentetuin aksielysie

Begin vroeg Lente hiermee
1. Begin groentesaailinge
Plant komkommer, blaarslaai, vroeë tamaties, soetrissies en ander eetbare plante.
2. Verfris jou kruie
Herplant eenjarige basiliekruid, sny lang tiemie af en vervang roosmaryn wat dalk deur die winter gesukkel het. Voeg mooi eetbare plante soos viooltjies en kappertjies by jou slaaie.
3. Vier Boomplantmaand
Plant ’n boom en kies ’n soort wat by jou ruimte pas. Jou plaaslike tuinsentrum kan raad gee oor hoogte en verspreiding.
4. Plant vir bestuiwers
Saai maklik-kweekbare eenjarige plante soos Queen Anne’s lace, kosmos en koringblomme om nektar en sade vir jou vlieënde vriende te verskaf.
5. Dahlias
Amper tyd om knolle uit te plant! Kies solank ’n sonnige plekkie vir hulle en moenie natmaak voordat die eerste lote verskyn nie. Laat September is ’n goeie tyd om te plant.
6. Rose snoei
As jy nog nie jou rose gesnoei het nie, is daar nog tyd. Gee hulle ’n goeie voeding met organiese gronddeurdrenking en spuitmiddel om swamsiektes te voorkom.
7. Deklaag
Strooi ’n dik laag organiese materiaal oor om die grond te bedek voordat die warm somermaande begin. Dit help om vog te behou, ondersteun grondgesondheid en onderdruk onkruid.
8. Plant meerjariges
Voltooi die plant van meerjarige plante voor die laaste winter-/lentereën. Vervang ou en langbeen laventel, roosmaryn en ander struike.
9. Snoei meerjarige grasse
Sny meerjarige grasse terug sodat dit die Lente kan binnegaan met ’n vars, nuwe lustige groei. Verdeel en vermeerder groot polle vir meer plante.
10. Snoei en verdeel
Snoei Salvias, Gaura en ander meerjariges terug om nuwe groei aan te moedig. Lig op en verdeel vir meer plante.





