Denim gaan feitlik nooit uit die mode nie, maar hoe ons dit dra beslis wel. Indien jy nog steeds na jou skinny denim gryp is dit dalk tyd om jou denim keuses te heroorweeg. Moderne, vleiende en meer gemaklike denimstyle is nou in.
’n Stylkenner deel haar beste denimwenke, denimtrends wat nou hoogmode is en watter denimstyle jy eerder moet laat gaan. Saamgestel deur Justine Kroes
Hierdie denimstyle is ou nuus:
Voorkomskonsultant, styl en denimkenner Jean-Mari Hellig deel haar kennis oor denim trends, style wat vleiend is en watter style jy eerder agter in jou kas kan wegbêre.
Die skinny is uit
Jean Mari sê “Selfs al volg jy nie trends slaafs na nie, is die skinny styl in realiteit ’n denimsnit wat baie min vroue en lyfvorms werklik kan dra. Die fout wat baie maak is om te dink skinny jeans is vleiend … dit is nie, dit gooi jou balans en proporsies heeltemal uit, al is jy hoe maer en skraal.
Onthou jou skinny denim is noupassend van jou middel tot jou enkel, hierdie denim beklemtoon elke kleinste kontoer van jou figuur. Dit beklemtoon wye heupe, groot kuite, korter bene en beklemtoon veral figure wat selfs net ’n effense magie het.
Skinny denims laat korter vroue nog korter vertoon weens die horisontale breuk by die enkel.
Hoe maerder jy is, hoe meer beklemtoon ’n skinny denim dit en die teenoorgestelde is ook waar.
“Die enigste plek wat ek sou sê jy jou skinny denim kan dra, is in die winter met hoë stewels (of wellies) en ’n lang jas, vir as jy gaan rugby kyk byvoorbeeld” is Jean Mari se raad.
Ultra ligte en “was” effek denims is uit
Ruil gerus jou ligte denim vir ’n donkerder skarering. Een van die opvallendste veranderinge vir 2026 is die wegbeweeg van baie verbleikte denim. Veral daardie acid wash effek en skakerings.
Donker indigo en diepblou denim skakerings lyk meer gepoleerd en is ’n veelsydige alternatief wat maklik tussen informele en meer elegante uitrustings kan beweeg.
Denims in aardse skakerings is ook groot. Eksperimenteer gerus met skakerings van afwit, beige en gedempte aardkleure soos terracotta, klei, kakie en klipgrys.
Ultra lae middellyne (ultra low rise) is uit
Lae middellyn-jeans het nie heeltemal verdwyn nie (die tieners dra dit nou graag), maar die uiters lae 2000’s-weergawe raak al hoe minder gewild.
Kies eerder: medium tot hoë middellyne, denims met gebalanseerde proporsies. Snitte wat werk vir elke dag se dra.
Geskeurde jeans is uit
Oormatig geskeurde denims, denims wat gespleet is en veral die met groot skeure (daardie kenmerkende 2010’s straatstyl voorkoms) word al hoe minder gesien. Die neiging beweeg eerder na skoon en netjiese afwerkings.
Ek wil rêrig vrouens inspireer om ’n updated weergawe van hulle skinny denims te koop. ’n Denim in jou kas wat jou lyfvorm fantasties pas, en een waarin jy goed voel, is ’n abolute aanwins vir jou klerekas.
Jean-Mari Hellig
Hierdie denimstyle is nou hoogmode:
Barrel denim is in
Die Barrel denim sit hoog in jou middel, met ballon-agtige, gekurfde pype wat weer meer noupassend sit rondom jou enkels. Die styl het volume, so hou jou silhoeët in gedagte wanneer jy bostukke kies.

Stileerwenke: Vermy oorgroot of lospassende bostukke en baadjies. Kies oorvou bostukke wat om jou middel vasbind. Steek jou lospassende hemp in.

Vermy groot bonkige skoene, en kies skoene met punte wat jou bene verleng. As jy sneakers verkies, kies ’n fyner sneaker styl.
Hier is ‘n paar gunstelinge:
Regaf denim (straight leg) is in
As daar tans een “moderne klassieke” denimstyl is, is dit die reguitpyp/ regaf/ straight leg denim.
Dalk ’n styl om eerste te probeer as jy huiwerig is om jou skinny denim te groet.

Modekenners wys daarop dat die straight leg denim een van die mees veelsydige style vir 2026 is. Dit bied struktuur sonder die styfheid van skinny jeans of die dramatiese volume van oorgroot silhoeëtte.
Wenk: Dra jou regaf denim met oorgroot baadjies of ’n soldaatjas vir ’n gepoleerde / moderne voorkoms.
Wye pyp (Wide leg) is in
Die wide leg of wyepyp denim is steeds groot nuus, sê Jean Mari, en ons verstaan hoekom. Hierdie denimstyl (feitlik die teenoorgestelde van die skinny denim) word ingetrek om jou middel en klok wyer uit na onder toe. Hierdie denim val sag oor kurwes indien jy jou figuur wil vlei en skep natuurlik ook die illusie van kurwes met die wye silhoeët op reghoekige/regaf figure.

Stileerwenk: Dra korter gesnyde baadjies. Dra ’n gordel. Steek jou hemp in. Vermy lang, lospassende bostukke.

“n Paar gunstelinge op ons denimradar:
Wide leg cropped is in
Vir korter vrouens is ’n styl soos ’n “cropped wide leg” super vleiend, en vleiend vir baie vroue, jy kan ‘n cool sneaker met sokkies daarby aantrek en dit beklemtoon die kleinste gedeelte wat gewoonlik jou enkel is, is Jean-Mari se raad.
Dra iets meer noupassend (fitted) bo wanneer jy ’n wide leg denim dra. Dit balanseer weereens daardie proporsies.
Crossover denim is in
Hierdie denimstyl sou ek sê is vir iemand wat graag iets anders/nuut wil probeer, as jy reeds wyepyp en barrel denims besit, is hierdie denim trend dalk vir jou sê Jean Mari.

Die denim het ’n diagonale lyn aan die voorkant van die denim, en as ons iets weet van diagonale lyne, weet ons dat dit ’n baie vleiende effek op jou figuur het.
In plaas van die oë wat op en af beweeg – trek ’n diagonale lyn jou aandag en laat oë assimmetries beweeg.
Flare (uitklok) denim is in
Daar is ’n duidelike terugkeer van die flare en bootcut denimstyl.
Die 70’s-invloed is tans sterk en moderne flare denims is oral oor te sien. Die bootcut denim is effens minder dramaties en val iewers tussen ’n flare en reguitpyp Hierdie snit skep ’n subtiele retro-silhoeët wat die been verleng vir ’n verslankende effek.
Jean-Mari se top 4 denim wenke:
1. Pas, pas, pas!
Daar is byna niks erger vir ’n vrou as om denim inkopies te gaan doen nie. ’n Aanpas uitstappie is geensins maklik nie, ek sê altyd vir kliente: sit ’n oggend uit en gaan pas ten minste 5 tot 10 verskillende style, snitte en skakerings denims aan, en kyk wat werk.
En moet nie ophou aanpas na die eerste 2 denims as dit nie goed lyk nie, hoe meer jy aanpas, hoe beter vind jy wat vir jou werk of nie werk nie. Onthou, as jy nie hou van ’n “barrel” denim nie of goed voel daarin nie, probeer iets soos ’n wyepyp denim, is Jean-Mari se wenk.
2. Laat pasmaak vir jou
Jean Mari sê “Onthou, ’n denim is ook iets wat baie keer getailor moet word, jy gaan dalk die perfekte denim vind maar hy gaan hier en daar ’n “nip en tuck” nodig hê. Selfs al moet dit net klein bietjie korter gemaak word of die agterste gaping moet effens ingevat word.
3. Koop die beste kwaliteit wat jy kan bekostig
’n Denim is ’n klerekas stapel-item wat vir lang jare sal hou, koop die beste kwaliteit wat jy kan bekostig, jy sal nie spyt wees oor ’n goeie denimkopie nie, is Jean Mari se wenk.
4. Denimgrootte is nie als nie
Jean-Mari sê “Asseblief, moenie dat die grootte van die denim jou afsit nie, vroue vind hierdie so ’n moeilike kopskuif om te maak. Jy is gewoonlik ’n 8 maar dan pas jy ’n denim in ’n ander winkel aan en jou denimgrootte is nou ewe skielik ’n 10 of ’n 12. Moenie jou geluk en waarde vind in jou denim se grootte nie, solank die denim reg sit en jy goed voel daarin, dan sal niemand ooit hoef te weet wat jou denimgrootte is nie.























