Hierdie seisoen gaan dit oor uitstaan en goedvoel in jou “dopamine dressing” kledingstuk – helder, bont en duidelike patrone wat aandag trek is aan die orde van die dag. Die nuwe blompatrone hierdie seisoen hou ook nie terug nie. Ons deel vyf wenke om in gedagte te hou wanneer jy blompatrone dra en wys 12 gunstelinge wat ’n plek verdien in iemand se klerekas hierdie somerseisoen. Deur Justine Kroes
23/09/2022
Hierdie seisoen se blompatrone:
Die winter wat verby is se blompatrone was klein, fyn en effentjies maar vir die somer en lente is die patrone groter, meer duidelik, bont, kleurvol en helder.
Vir die somer is die agtergronde van die blompatrone ligter of helder – nie soos die “shadow florals” (met ’n donker agtergrond) vir die winter nie.
Blompatrone is groot in bloese, broeke en hemde – selfs groot in unieke bykomstighede soos oorbelle en vorm deel van die seisoen se blomme trend.
Selfs die Tropicana (tropiese) motiewe met blomme daarby is groot nuus.
Blare gekombineerd met blomme en diere. Of selfs net blaarmotiewe op hul eie in neutrale skakerings – hierdie trend word na verwys as ‘Desert Topics’.
5 wenke vir blompatrone dra:
1. Begin eenvoudig
Indien jy huiwerig is vir ’n blompatroon – begin klein. Dra ’n bykomstigheid met blompatrone of dalk net ’n blompatroon bloes of T-hemp om te toets hoe jy daarin voel wanneer jy dit dra.
2. Moenie skrik vir vroulike patrone nie
Indien jou stylpersoonlik meer edgy as sag en vroulik is, moet nie afgesit word deur vroulike blomme nie. Dra jou leer “biker” baadjie of enkelstewels by jou bompatroonuitrusting. Dit skep balans tussen die meer vroulike en amper manlike stylelemente. En lyk boonop sommer net cool.
3. Groot vs klein blompatrone
Groter blomme werk gewoonlik vir groter lywe en klein blomme vir meer petite lywe. Hoe groter die patroon, hoe kleiner laat dit jou vertoon, dus as jy sekere areas wil laat slanker lyk, dra ’n groter blompatroon. Maar bygesê, is dit nie ’n goue reël nie, pas aan en kyk wat werk die beste by jou liggaamsbou. As dit vir jou reg lyk en jy voel gemaklik daarin, is dit die regte blompatroon vir jou.
4. Let op waar en wat die patroon beklemtoon
Onthou as jy ʼn patroon op ʼn spesifieke gedeelte dra, sal dit juis daardie gedeelte beklemtoon. So as jy nie daarvan hou dat jou borste beklemtoon word nie, moet nie ʼn bloes dra met twee groot rose op die bors nie. Of as jy nie graag aandag wil trek na jou heup of boudarea nie, bly weg van groot blompatrone hier.
5. Probeer ’n abstrakte blompatroon
‘n Abstrakte blompatroon is bietjie iets anders as die doodgewone blompatrone nie na jou smaak is nie. Iets wat lyk na ’n blompatroon sonder al die effentjies detail. Die meeste lyk na waterkleurkuns, of is effens geblur.